Verkenningstog lei na profetiese koestertafel PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 22 August 2017 12:25
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons slaan vroeg voormiddag al op ‘n sonnige Sondag sommer ‘n verkenningsrigting in. Vandag sit die verlange vlak in my na regte Sondagkos, of ‘n laat Sondagontbyt soos ons kindertyd op die plaas geniet het, sê ek vir Metgesel: Profetiese woorde, sou dit later blyk om te wees . . .

Met baie tyd en geen beplande bestemming nie, pak ons eers die Nooitgedachtpad aan (my innige simpatie aan diegene wat gereeld dié giftige grondpad moet gebruik) en ons draai af by ‘n bordjie wat ‘Oppibult Bar’ sê.

Lyk na ‘n lekker gesellige nuwe kuierplek omvou met groot asemhaal-ooptes, gawe mense en ‘n mooi uitsig – dié Oppibult. Hulle is nog nie regtig ingerig vir etes nie, sê ‘n vriendelike vrou, maar hulle het planne. Ons vertoef ‘n rukkie voor ons die verkenningstog voortsit.


Binne is amper net soos buite, maar sonder die Augustuswind

Dié neem ons met wye draaie tot verby die Golden Mole landgoed langs Lynnwoodwegverlenging in Tierpoort. Hier, vlak neffens die pad, sien ons ‘n nuwe naambord: ‘Laughing Chefs’. Ons draai in.

Heelwat voertuie staan langs die netjiese, nuwe geboue ingeryg en ‘n kuierstoep, redelik gelaai met mense, laat my wonder of ons nie ongenooid by ‘n private funksie beland het nie. Die glimlaggende vrou wat nader staan en ons soos ou vriende verwelkom, dink seker ons is familie van die bruid of die verloofde of iemand, vrees ek.

“Mag ons maar aansit,” wil ek huiwerig weet. Sy lag: “Natuurlik. Sit binne of buite – net waar julle plek kry.” Sy sê hulle het vandag ‘n ‘brunch buffet’.


Metgesel se koesterkoskeuse

 Ons neem by ‘n netjiese binnetafel plaas. Die groot oop vensters kyk oor die kuierstoep uit op landelike Tierpoort en die Boschkop-rante. Dis bykans net soos buite, maar sonder die Augustuswindjie.

Later sou ons hoor die laggende verwelkomingsvrou is Esrida en sy is een van die ‘laughing chefs’. Die ander een is Esrida se ma, Maggie.

Daar word baie gelag en gesels en goed gekuier by die Laughing Chefs. Dit is duidelik dat die ma-en-dogter-span dit wat hulle doen, geniet. Maggie noem die ‘buffet-etes’ wat hulle voorsit ‘n ‘koestertafel’ en ek vind dit verkwikkend mooi.


Die kaiings en pap was perfek vir Vreethans en die vlakvarkwors moet nie vlak gevat word nie

Soos die profetiese wens dit wou hê, is die tafel vandag gelaai met ontmiddagbyt-geregte wat die verlange na dergelike kleintydse etes op die plaas met tevredenheid kan vul. En Maggie vertel ons ook jou werklik dat sy wil hê jy moet die tradisionele kosse geniet soos wat jy dit by oupa en ouma op die plaas sou doen. “Maar moet net nie dink ek is die ouma nie,” sê sy en sy lag.

Ons werk ‘n koppie boeretroos weg en beweeg koestertafel toe. ‘n Kelner met die onwaarskynlike naam van Londen staan nader met warmgemaakte borde vir die Boeregeregte.

Ek laai op; stywepap (net reg) met kaiings (presies soos ek daarvan hou), vlakvarkwors (‘n eerste vir my), varkworsie (makvark), hoenderlewertjies (weer presies reg), ‘n stukkie uitsonderlike quiche (oordadig eierbelaaid), ‘n snytjie braaibroodjie (nie soos jy sou verwag nie), ‘n vetkoekie en gebraaide jam-tamatietjies op ‘n stokkie met ‘n avodoopsous. En dit was nie al die beskikbare keuses nie.


Ons deel ‘n salige soetigheidjie

Metgesel doen aan bogenoemde mee, behalwe vir die worse en kaiings en sy voeg ook ‘n slaaidingetjie by. Ons geniet ons tot trommels toe.

Maggie moedig ons aan om te verwyl, te gesels, ietsie te drink en ‘n entjie te stap om plek te maak en dan weer van die koestergeregte te loop haal. Soos wat jy by ouma op die plaas sou doen, sê sy.

Dit was die plan om later, as ons mage dit by magte was, vir soetige afsluiting pannekoek en/of ‘n vetkoekie met konfyt aan te wend. Maar dan kom draai Maggie weer by ons tafel om te laat weet dat die soetigheidjie nou op die koestertafel sal wees.


‘n Buiteaansig van die netjiese nuwe tuiste van die Laughing Chefs

Ons deel een snysel van die allerheerlikste kaaskoek en een van ‘n hemelse rooi fluweelkoek met gesmelte sjokolade bedek. Met die verlange en die innerlike weldeeglik versadig vertrek ons vir ‘n Sondagmiddagslapie, soos wat ouma en oupa destyds op die plaas sou doen.

Die koste van die Sondagse koestertafel-ervaring was R120 per persoon. Die plek het ‘n volle dranklisensie. ‘n Fooitjie van 12 persent word outomaties by die rekening gevoeg.

Die plan is, sê Maggie, om van Woensdag tot Sondag koestertafels van verskillende aard vir ontbyt en middagete aan te bied. Maandag en Dinsdag is dit toe. Bel hulle by 072-511-4946 vir meer inligting.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online