Droom word waar ná ‘n soektog van 10 jaar PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 22 August 2017 12:24
Untitled Document

Liza du Bruyn van Grootfontein-landgoed het bykans tien jaar gelede ‘n hartverskeurende soektog na haar verlore perd op tou gesit. Dié soeke is op 24 Julie beëindig toe sy en haar geliefde Dream herenig is.

Liza was maar net 16 jaar oud toe sy Dream as ‘n eenjarige vul met haar spaargeld gekoop het. Vandag is Liza 27 jaar oud en in Dream se 12 lewensjare is hy van eienaar tot eienaar deur die land gestuur: Van Mafikeng tot Potchefstroom, Vereeniging, Thabazimbi en uiteindelik is hy tuis op Grootfontein in die Bronberg-gebied.

Die verhaal het in 2006 in Potchefstroom begin toe ‘n 16-jarige kelnerinnetjie geld begin spaar het om ‘n perd te koop.


Liza en Dream in 2008

“Ek het by die Spur begin werk nadat ek pas my volbloed merrie verloor het omdat my pa besluit het ek beter ophou perdry tot ek matriek gemaak het. Ek was seker nie ‘n maklike tiener nie, ‘n regte rebel en was vasberade om te spaar om my eie perd te koop.”

Liza het die ‘Landbouweekblad’ gekoop en het elke maand daarin na ‘n bekostigbare perd gesoek. Sy het op ‘n advertensie vir ‘n Anglo-Arabier-vul vir net R2 000 afgekom en het besluit dat sy dit kon bekostig.

Die probleem was dat die vul in Mafikeng was, dat sy hom vir jare nie sou kon ry nie en self sou moes leer en dat Liza nog nie kon bestuur nie. Nie een van dié probleme het haar laat tou opgooi nie. Haar destydse vriend het haar Mafikeng toe gevat en die koeël was deur die kerk: Dream sou voortaan vir ewig ‘n plek in Liza se hart hê.


Liza en Dream ‘n week na hulle hereniging op Grootfontein

Sy het ‘n perdewaentjie gereël en die eenjarige Dream moes verdoof word om vervoer te kon word. Sy het hom by een van haar beste vriende se ouers se plaas in die veld laat aflaai en van daar af moes Liza leer hoe om ‘n vul te versorg.

Sy vertel hoe sy weggebly het van die skool af en met haar fiets plaas toe gery het om by Dream te wees. “Ek het maar onder ‘n boom gesit en lees terwyl Dream rondom my wei. Ons het beste vriende geword en ek het selfs sommige nagte in hoogs emosionele toestande in die donker plaas toe gery om by Dream te sit en huil.”


Uit die video wat Liza destyds gemaak het, ‘Dream – A letter to a horse: “Where ever you are going this time . . . Know that I have tried, and if your new home is where you pass on . . . keep me in mind, I will always have you inside my heart . . . I love you. Goodbye Dream”

In die proses moes Liza leer watter voer om vir Dream te gee, hoe om hom te ontwurm, bosluisghries aan te sit, sy hoewe en inentings te doen. Een dag is Dream deur ‘n slang gepik en Liza moes na ‘n veearts toe jaag wat nie op plaasbesoeke uitgegaan het nie. Hy het vir haar ‘n spuitnaald en anti-serum gegee en verduidelik hoe om Dream in te spuit.

Dream het daardie jaar twee geword en Liza het begin om ‘n saal op sy rug te sit en hom dinge te leer.

Sy vertel dat sy hom bykans nooit aan ‘n leiriem gehad het nie omdat hy alles gedoen het wat sy vra.

Omdat hy nog te jonk was om gery te word het Liza allerhande speletjies met Dream gespeel.


Dream waar Liza hom in 2012 in Vereeniging opgespoor het

Sy vertel dat Dream haar stem goed geken het en as sy met haar fiets by die plaas aangekom het, het sy hom geroep en kon sien hoe hy doer ver in die veld sy kop regop ruk en dadelik na haar toe aangehardloop kom. Liza sê dat Dream haar enigste vertroueling was en waarskynlik emmers vol tienertrane ingekry het.

In 2008, die jaar toe Liza 18 geword het, moes sy haar kelnerinwerk staak. Sy was genoodsaak om haar pa vir finansiële hulp met Dream te vra. Hy het sy voet neergesit, geweier en het Dream verkoop toe Liza een vakansie weg was.


Ná vier dae het Liza gesê dit lyk of Dream begin onthou het wie sy is

Sy vertel dat sy van die vakansie af teruggekom het, plaas toe gejaag het om Dream te sien en dat hy nie meer daar was nie. Haar pa het vertel dat hy die perd aan ‘n man buite Potchefstroom verkoop het, maar Liza het tot vandag toe nog nie uitgevind waar daardie eerste weggaan-van-haar-af plek was nie.
“Ek is belowe dat ek Dream daar sou kon gaan sien, maar dit het nooit gebeur nie. Ek was ‘n kind, wat was ek veronderstel om te doen,” vra sy.

Liza sê dit is toe wat sy vir die eerste keer met die genadelose perde-wêreld kennis gemaak het. Oor die volgende paar jare het sy haar kop baie hard teen ‘n groot aantal baksteenmure in dié wêreld gestamp.


Liza du Bruyn en Dream is uiteindelik ná bykans 10 jaar op Grootfontein herenig

Tog het daar ‘n ruk later, in 2012, iets gebeur wat haar laat dink het die stryd is gewonne. Liza was meer volwasse, kon die saak kalmer benader en het die naam gekry van die laaste man wat Dream besit het. Hy het haar na Lee-Roy Pretorius verwys en Liza sê sy gaan vandag nog op haar knieë om dankie te sê dat dié man oor haar pad gekom het.

Dream was by Lee-Roy in Vereeniging. Liza is intussen getroud en haar man het haar soontoe geneem. Haar vul was toe al ‘n volle sewe jaar oue perd.

“Ek het hom geroep en hy het uit die veld uit nadergestap na my toe. Ek het so gebewe en gehuil dat ek op die grond beland het. Dream het sy kop afgebuk en soos van ouds aan my hare begin knibbel.”

 

Liza kon sien dat Dream gelukkig was by Lee-Roy, wat die perd in elk geval nie wou verkoop nie. Hy het gesê dat Liza welkom was om Dream daar te gaan ry en dat hy haar sal laat weet as hy die perd eendag dalk sou wou verkoop.


Elrina Greeff se perdewaentjie met Dream binne-in, op pad na Grootfontein

Dinge het egter nie so uitgewerk nie. Liza het weer ‘n keer met die harde perde-wêreld kennisgemaak toe die eienaar van die stalle waar Dream aangehou is, hom in 2014 glo onder Lee-Roy uit verkoop het.

Liza vertel dat sy so tekere gegaan het dat die stalle-eienaar se vriendin uiteindelik maande later vir haar vertel het aan wie Dream verkoop is. Dream was in die Thabazimbi-omgewing, die plek waar Liza haar kop seker die heel hardste gestamp het – vir amper vier jaar lank. In ‘n stadium het sy besluit dat sy moed opgee en het ‘n hartseer vaarwel-video, wat vandag al etlike myle op sosiale media afgelê het, oor Dream gemaak.

Dream is in dié gebied glo ‘n paar keer verkoop en Liza kon nie help om internet-verkope daar dop te hou in ‘n poging om te sien waar Dream hom bevind nie. In die begin van 2017 het sy besluit om ‘n finale poging met sosiale media aan te wend om haar perd op te spoor.

In die proses het sy deeglik kennis gemaak met die donker kant van die perdebedryf. Sy het Dream opgespoor waar hy alleen in die veld geloop het. Dream se eienaar het toestemming gegee dat Liza hom kon gaan haal en Liza het vervoer gereël. Hulle het egter voor ‘n geslote hek gekom waar die grondeienaar se vrou R35 000 geëis het vir uitstaande kostes voor die perd opgelaai kon word. Dit was nie vir Liza moontlik om dié bedrag te betaal nie.


Shadei Greeff het na Dream omgesien in die perdewaentjie
.

Dream op Grootfontein
.
.

Dream word op 24 Julie deur Shadei Greeff op Grootfontein uit die perdewaentjie gelaai

Ná vele onderhandelings het Liza in die middel van Julie gehoor dat sy Dream kon gaan haal. Elrina Greeff en haar dogter Shadei het hulle perdewaentjie gebruik om Dream op 24 Julie van Thabazimbi na Grootfontein te vervoer.

Liza sê dat Dream so lank alleen in die veld geloop het, dat hy uit sy vel uit was om haar ander perde te sien, alhoewel hy glad nie geweet het hoe om by die trop in te pas nie. Die aanpassing was groot, Dream was vol parasiete en moes weer leer hoe om hanteer te word.

“Ons moet nog ‘n lang pad stap,” sê Liza “maar hierdie keer gaan ons dit maak. Ná die eerste vier dae was Dream klaar baie kalmer en ek dink hy het begin onthou wie ek is en besef dat ons van nou af altyd saam sal wees.”

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online