Fransua se lewe dra ‘n onbekostigbare prysetiket PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 22 August 2017 12:24
Untitled Document

Hulle sê die lewe is prysloos en dat jy nie tyd kan koop nie. Maar wat gebeur wanneer jy uitvind dat jou lewe en die tyd wat jy oor het, wel ‘n prysetiket dra en dat jy dit eenvoudig net nie kan bekostig nie?
Fransua Koekemoer, ‘n gewilde sanger wat gereeld in die Rayton-omgewing optree, het uitgevind dat die prysetiket op sy lewe tussen R85 000 en R150 000 werd is. “Nie veel nie,” sê hy. “Maar steeds onbekostigbaar vir my.”

Fransua het op 3 Februarie, ‘n maand en ‘n half voor sy 40ste verjaardag, ‘n hartaanval gekry wat veroorsaak is deur die ineenstorting van een van sy hoofslagare, wat bloed aan die regterkant van sy hart moet voorsien.

Die aanval was in Potgietersrus, waar hy gestabiliseer is en na ‘n staatshospitaal gestuur is, wat hy twee ure later moes verlaat.


Fransua Koekemoer

Hulp
Terug in Pretoria met geen mediese fonds of reuse bankbalans nie, moes hy mediese hulp begin soek. Ná verskeie doktersafsprake is Fransua na Steve Biko Akademiese Hospitaal met ‘n verwysingsbrief in die hand. Daar is hy egter net gestabiliseer en vyf ure later huis toe gestuur met geen hoop op toekomstige bystand nie.

Met die hulp van borge en skenkings is hy op 14 Februarie in die Zuid-Afrikaans Hospitaal opgeneem om ‘n stent te kry wat die hoofslagaar sou oophou. Ongelukkig kon dit nie werk nie, omdat ‘n ernstiger probleem gevind is as waarvoor daar fondse was.

Slegs twee van Fransua se vier hartkamers het gewerk, die regterkant van sy hart was heeltemal dood en dit het gelyk of die hoofslagaar daar weggeskeur het. Die helfte van sy hart wat nog gewerk het, is ernstig beseer.

Kans
Die dokters het gesê dat Fransua ses weke tot drie maande sou hê om te lewe as hy nie meer intensiewe chirurgie en verskeie stents kry nie. Selfs dit het hom net ‘n 60% kans op oorlewing gegee en die voorspelling was dat hy waarskynlik ope hart chirurgie sal moet ondergaan.

Die kardioloog het Fransua terug verwys na Steve Biko, waar hy vier dae deurgebring het en daarna ontslaan is met die belofte dat sy naam op die lys gesit sal word om die operasie binne twee weke te doen.

Ná Fransua verskeie kere oor ‘n tydperk van twee maande na Steve Biko teruggekeer het, het dit duidelik geword dat hy nie daar geholpe sal raak nie.


Fransua voor die mikrofoon

Kaapstad
Met die hulp van vriende is daar gereël dat Fransua Kaapstad toe sal gaan om deel van ‘n gerespekteerde kardioloog se liefdadigheidsprogram te vorm. In die begin van April het Fransua daar toetse ondergaan en hulle het gevind dat die hoofslagaar, wat gelyk het of hy weggeskeur het, nog daar is. Die werkende deel van sy hart het goed begin herstel, maar ‘n operasie was steeds nodig omdat sy hart nie bloed van die ineengestorte hoofslagaar gekry het nie.

Die kardioloog het verduidelik dat hy die operasie by ‘n staatshospitaal in Kaapstad deur ‘n kollega wil laat doen, omdat hy dit nie self by sy private kliniek kon doen nie. Ongelukkig het dit ook nie uitgewerk nie en Fransua is op 21 Junie uit die staatshospitaal in Kaapstad ontslaan.

Meyerton
Hy is terug na Pretoria en Zuid-Afrikaans Hospitaal en het ‘n kwotasie gekry vir ‘n operasie wat R210 000 sou kos. Weer het Fransua se vriende ingetree en gereël dat hy by ‘n vriend, ‘n huisdokter in Meyerton, uitkom. ‘n Deur is vir hom oopgemaak om in ‘n private kliniek opgeneem en behandel te word, waar die operasie tussen R80 000 en R150 000 sal kos. Die afspraak met die kardioloog wat daar opereer is egter eers vir 15 Augustus geskeduleer.

Dit is bykans ses maande ná Fransua die nuus gekry het dat hy hoogstens drie maande het om te lewe. Teen die Bronnie se saktyd het Fransua nog op ‘n kansellasie gewag om die dokter dalk vroeër te siene te kry.

Bydraes
Volgens Fransua se werkgewer, Douwe de Jong, is daar nie tyd om ‘n trustrekening te open nie en hy vra mense om bydraes in Fransua se persoonlike spaarrekening te maak. F Koekemoer; ABSA spaarrekening; takkode: 632005; rekeningnommer: 9274104489.

Fransua lê die state van die rekening twee keer ‘n week aan Douwe voor om die inbetalings te monitor. Elkeen wat ‘n bydrae wil lewer, kan hulle bewys van betaling aan Douwe e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online