’n Spook in die stelsel PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 22 August 2017 12:21
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Ons geliefde Suid-Afrikaanse Inkomstediens was die afgelope paar weke amper meer in die nuus as die “Jolie-Pitt-break-up” verlede jaar.

Met die oopmaak van die belastingseisoen is ontdek dat daar weens ‘n stelselfout foutiewe inligting vanaf die mediese fondse ingetrek is. Ook die krediete wat vanaf vorige jare vir die annuïteite moes oordra, is weggelaat. Gelukkig is dié foutjies sommer in ‘n japtrap reggestel.

Daar is toe ontdek dat sommige IRP5 data nie op die stelsel verskyn nie. Dagblaaie het berig dat dokumente in die SAID se rekenaarstelsel verlore geraak het. Die inkomstediens het vinnig gereageer en alle werkgewers wat IRP5’e uitgereik het met kodes 3701, 3702, 3802 en 3816 is in kennis gestel en versoek om die EMP501 rekonsiliasies weer in te dien.

En woeps uit die bloute bedank die hoof finansiële beampte, Matsobane Matlwa (of is almal werklik so verbaas as wat hulle voorgee?).  Dit daar gelaat . . .

Wat as . . .
Niemand stel regtig belang of foute insluip weens stelselfoute of sogenaamde I-D-10-T foute nie – al wat werklik saak maak is hoe dit reggestel kan word. Indien jy nog nie jou belastingvorm ingedien het nie, gebruik die “refresh IRP5/IT3 (a) data”-opsie alvorens jy die opgawe begin voltooi. 

Die wat reeds ingedien het en gemerk het dat die aanslag foutief is en nou nog sit en wik en weeg of hulle die rye moet gaan aandurf – gebruik die “request for correction”-opsie en indien dit nie beskikbaar is nie, moet ‘n “Notice of Objection” voltooi word.

Datums
Ek troos myself altyd daaraan dat ‘n jaar net twaalf maandeindes het waarvan Februarie en Augustus seker die twee besigstes is. Voorlopige belastingopgawes (IRP6’e) moet einde Augustus ingedien word. 

Vir sake-ondernemings en ander mense wat salarisse betaal, onthou ook dat die data gereed gekry moet word vir die halfjaarlikse EMP501 rekonsiliasies wat tussen 10 September en 31 Oktober ingedien moet word. 

Diegene wat nie van “e-filing” gebruik maak om belasting in te dien nie, onthou asseblief dat die sperdatum vir indiening per hand (of pos) net om die draai is op 22 September. Vir diegene wat wel elektronies indien is die sperdatum op 24 November. 
Belasting-groete.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online