Die velletjie in die vlabeker PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 22 August 2017 12:17
Untitled Document

Egskeiding, sê Gert Mossie, was in sy grootwordjare baie skaars. Jy het nie eintlik daarvan gehoor nie en bitter min daarvan geweet.

Dalk is dit net oor die grootmense nie graag daaroor gepraat het nie, sê groot Piet in sy hoek. Dit was soos met ‘n familielid wat Sap gestem het, in die tronk was of vir die WP geskree het – jy het nie daaroor gepraat nie, sê Piet.

Sy ma was mos ‘n welsynswerker, sê Gert, en hy onthou nou ‘n geval waaroor sy destyds wel gepraat het. Hy dink dit was dalk die heel eerste keer wat hy gehoor het van skei en van egskeiding.

Ma het ‘n storie vertel oor hoe ‘n eenvoudige dingetjie wat met die gesin se Sondagetes te make het, ‘n huwelik van die rotse af weggestuur het, sê Gert.

Die gesin, ma, pa en ‘n opgeskote dogtertjie en haar kleinboet, altwee in die laerskool, het dit nie te breed gehad nie. Ordentlike, hardwerkende mense, het sy ma vertel, sê Gert.

Om die pot aan die kook te hou het man en vrou voldag gewerk en die pa het dikwels dag- en nagskofte ingesit. Die gevolg was dat Sondagmiddagete die enigste tyd was wat die gesinnetjie werklik tyd saam deurgebring het. En soos dit die gebruik destyds was, het jy op Sondae hoender voorgesit. ‘n Heel hoender met die nodige rys, aartappels en ‘n groentetjie van kleur daarby. En dan ‘n gebakte nagereg met vla agterna.

Hy weet nie presies wat in die huwelik skeefgeloop het nie, maar sy ma se beradingsvernuf as welsynswerker is ingeroep om die huweliksbootjie aan’t drywe te probeer hou, sê Gert Mossie. Maar sake wou maar net nie voor die wind bly loop nie en dit word ooreengekom dat die eg maar geskei moet word. Saam besluit hulle om Sondag, met die gebruiklike middagmaal, die kinders op ‘n mooi manier van hulle skeibesluit te vertel.

Nou het daar met die jare, sê Gert, ‘n sekere patroon ontwikkel as die gesinnetjie saam aansit vir Sondagmiddagete, het sy ma vertel. Só het die ma elkeen se gunsteling-stukkie van die hoender leer ken en opgedis: Pa kry ‘n boudjie, die bruin rugvleisie en die vetterige stertsnoet. Sussie moet ‘n vlerkie kry en Boetie ‘dêps’ die nekkie. Ma kry die witvleis waarvan die ander nie eintlik hou nie. Almal is tevrede.

Maar as die tyd aanbreek vir nagereg, is daar een ding wat almal baie graag wil hê en dit is die ‘velletjie’ wat bo in die vlabeker verdik het. Eers is daar onderling baie gesmeek en baklei oor die vlavelletjie, tot ‘n demokratiese besluit geneem is dat daar al om die Sondag beurte gemaak sal word.

As Boetie vandag die velletjie kry, kry Pa dit die volgende Sondag en so al om die beurt word die twis vermy.

Die Sondag wat die kinders oor die egskeiding vertel sou word, was dit Boetie se beurt om met die velletjie van die vla bederf te word. Die hartseer nuus sou ná die ete oorgedra word, het die ouers besluit. Pa sou die huis Maandag al verlaat.

Die kinders, het Gert Mossie se ma vertel, het met die gang van die ete agtergekom iets is nie soos dit moet wees nie. Sussie het gevra of Pa en Ma se harte seer is oor iets en Boetie wou weet hoekom sy ouers dan so stil is vandag.

Toe die tyd vir nagereg aanbreek het Boetie sy ma gekeer toe sy vir hom die vlavelletjie op sy poeding wil skep: “Nee, ma. Deel ma en pa dit maar vandag. Ek sal wag vir volgende Sondag . . .”

Die ouers het vir die eerste keer in ‘n lang ruk stip in mekaar se oë gekyk en toe het die trane vrylik begin vloei. En só, het Gert Mossie se ma vertel, het ‘n eenvoudige vlavelletjie gehelp om ‘n huwelik te red.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online