Is jou witstinkhout die ware Jakob? PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 22 August 2017 12:15
Untitled Document

Is jou witstinkhoutboom ‘n regte inheemse een? Daar is ‘n hele paar soorte uitheemse bome wat as indringers groei en algemeen in Suid-Afrikaanse parke as witstinkhout-bome aangeplant word. Dié bome kan ook met mekaar kruis.

Die witstinkhout, Celtis africana, het niks met die ware stinkhout, Ocotea bullata, in gemeen nie en is deel van die elm- of olmboomfamilie waarvan lede hoofsaaklik in die noordelike halfrond voorkom.


Die witstinkhout

Hy het sy naam gekry omdat sy varsgesaagde hout, wat voorheen baie in die maak van planke gebruik is, vreeslik stink. Sy hout is ook van ’n swakker gehalte as dié van die ware stinkhoutboom.

Van die 150 Celtis-spesies wat wêreldwyd voorkom, is daar slegs drie spesies wat inheems in suidelike Afrika is: Celtis gomphophylla (vals witstinkhout), C. mildbraedii (Natalse witstinkhout) and C. africana (witstinkhout).


Die oos-Asiatiese ‘witstinkhout’ het oranje vruggies en glansende, byna haarlose blare

Verwante bome van die Celtis-genus het blare wat gewoonlik minder harig is en die vruggies verskil. Daar is C. sinensis van oos-Asiatiese oorsprong. Hy het donker, glansende blare, wat slegs aan die ondersy effens behaard is, en dra donkeroranje vruggies van 6 mm in deursnee. Die talryke vruggies word aan stewige, kort stingels gedra.

Dan is daar C. occidentalis van Kanadese oorsprong. Hy verskil van ons witstinkhout deur die vratte aan die bas, en het heelwat groter pers of swart vruggies van 1 cm in deursnee.

Daar is ook C. australis, wat van Mediterreense oorsprong is. Dié boom se blare het ’n growwe bokant, en vrugte soos dié van die Kanadese boom.

Nog ‘n boom wat maklik vir ’n witstinkhout aangesien kan word is die hophout, wat vroeër as ’n Celtis-spesie geklassifiseer was.


Stam
Foto’s: Wikipedia

Gewild
Die witstinkhout, Celtis Africana, is ‘n groot, bladwisselende boom wat baie gewild is as tuin- en straatboom met sy geel herfskleure en heldergroen nuwe botsels in die lente. Hy kan in ‘n verskeidenheid omgewings oorleef, van kuswoude tot bosveld en grasveld, en daarom kan sy vorm drasties van gebied tot gebied verskil.

Op sommige plekke word hy nooit meer as ‘n groot struik nie. In tuine word hy 10 tot 12 meter hoog, maar onder ideale omstandighede kan hy tot 30 meter hoog word.


Die Kanadese ‘witstinkhout’ met sy groot vrugte wat swart of pers word wanneer hulle ryp is

Die gladde bas van die witstinkhout is ‘n ligte grys-bruin. Sy hout is middelmatig hard en ‘n ligte suurlemoengeel kleur. Alhoewel die hout sterk is en maklik poleerbaar, is dit moeilik om mee te werk.

Dit is oor die algemeen gebruik vir die maak van planke, rakke, jukke, ligte meubels of handvatsels vir gereedskap.

Inheemse stamme glo al vir eeue lank dat die witstinkhout se hout, gemeng met krokodilvet, ‘n talisman teen weerlig is. Baie stamme glo ook dat dié boom bose magte kan verdryf. Al wat ‘n mens hoef te doen is om penne, gemaak van die boom se hout, in die grond in te kap. Blykbaar sal hekse nooit ‘n gebied wat so afgebaken is, betree nie.


Die witstinkhout, Celtis africana, se vrugte

Blare
Die witstinkhout se blare is enkelvoudig, liggroen en harig aan die bokant wanneer jonk. Hulle word ‘n donkerder groen en gladder as hulle ouer word. Sy blomme verskyn saam met die nuwe blare van Augustus tot Oktober. Hulle is onopvallend, klein, gelerig en stervormig. Daar is geelgroen manlike blomme in digte bondels en alleenstaande vroulike blomme aan langer blomstele wat deur bye bestuif word.

Sy vruggie is ‘n klein, geronde steenvrug wat vanaf Oktober tot Februarie die blomme volg. Die vruggies is ryp as hulle geel-bruin tot swart word. Voëls soos loeries, duiwe, tiptolle, muisvoëls en kuifkophoutkappers is lief vir die ryp vruggies.

Ape en bobbejane is ook mal oor die vruggies en beeste en wild hou van die witstinkhout se blare en takkies. Die boom kan as ‘n hawe vir insekte beskryf word, veral vir sekere soorte skoenlappers wat hulle larwes in die boom laat uitbroei.


Trosse manlike blommetjies met vier blomdekblare en vier meeldrade elk

Groei
Die witstinkhout groei tot twee meter per jaar in goeie grond met genoeg water en kan ryp en droogte oorleef. Hy kan maklik van vars saad gekweek word. Sade wat op die grond opgetel word, is dikwels vol insekte, so dit is beter om die sade van die boom te pluk. Verwyder die vlees van die bessie om by die saad uit te kom en saai hulle in plat saailingbakke gevul met vyf dele riviersand en een deel goed ontbinde kompos.

Die sade moet met ‘n dun lagie riviersand bedek word en moet klam gehou word. Sit die saailingbakke in ‘n warm plek in die skadu. Die saad sal 15 tot 30 dae vat om uit te loop. Verplant die saailinge daarna in goeie, ryk grond en gee hulle baie water.

Witstinkhout kan ook in houers geplant word en reageer goed op snoei. Hulle is wêreldwyd gewild as ’n bonsai.


Die ‘witstinkhout’ van Mediterreense oorsprong met groot onryp vrugte. Kyk na die blare se
growwe bo-sye

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online