Voëls van anderste vere PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 22 August 2017 12:15
Untitled Document

Is dit waar dat die paradysvlieëvanger grys word met ouderdom?

Daar is ‘n variant van dié spesie waar die mannetjie se kastaiing-kleurige vere wit is of word, maar dit het nie eintlik iets met ouderdom te doen nie. Sulke mannetjies verander van kleur en kan soms gesien word met ‘n stert en rug wat deels wit en deels kastaiingbruin is. Die donker kop en blou oogring verander nie.

Paradysvlieëvanger-mannetjies het gewoonlik ‘n swart kop en nek, helderblou snawel en oogring en kastaiing-kleurige bolyf en stert. Daar is ‘n prominente wit strook op die vlerke.

Wyfies behou altyd hulle kastaiingbruin kleur. Hulle het ‘n korter stert en dowwer blou oogring en snawel. Onvolwassenes lyk soos die wyfie, maar ‘n bietjie valer.


‘n Mannetjie, bruin vorm (of morf)
Foto: Wikipedia

Medium
Die paradysvlieëvanger, Terpsiphone viridis, is ‘n medium grootte voël van 17-23 cm. Die mannetjie se stert is 18 cm lank in broeityd, maar word daarna weer korter.

Dié voëltjies het kort bene en sit kiertsregop en prominent, soos ‘n laksman. Hulle is volop in voorstedelike tuine en kom gewoonlik in woude en bosse voor.

Paradysvlieëvangers vreet insekte, veral vlieë, en jag deur op ‘n hoë takkie te sit en wag vir insekte om verby te vlieg. Hulle duik dan af en vreet die insek in die lug. Hulle vreet ook vlieë se eiers en larwe.


‘n Mannetjie, wit vorm (of morf)
Foto: Wikipedia

Dié is raserige voëltjies, veral as ‘n nessie in die broeiseisoen beskerm word. Sy skrikroep is ‘n kort, ritmiese tseek tseek krrr krrr en sy sang is ‘n harde twie-tiddel-tie-tie-geluid.

Die nessie is koppievormig, gemaak van gras en bas, in klein openings in bome, stompe of selfs in rotse, maar meestal in die vurk van boomtakke.

Wyfies lê twee tot drie eiers. Altwee ouers voer die kuikens en jong voëls, selfs nadat hulle die nes verlaat het. Ouer boeties en sussies van ‘n vorige broeityd help om die kleintjies te voer. Dié voëls bly in familiegroepies wat ‘n hele reeks onvolwasse voëljies kan insluit.


Paradysvlieëvanger met kuikens in die nes
Foto: Peet van Schalkwyk

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online