Ystervark is Afrika se grootste knaagdier PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 22 August 2017 12:14
Untitled Document

Die ystervark is glad nie ‘n vark nie en is baie nader verwant aan eekhorings en hase as aan varke. Hy is die grootste knaagdier in suidelike Afrika met ‘n lengte van 75–100 cm, ‘n stert van 10–15 cm en ‘n massa van 10–24 kg.

Die Kaapse, of Suid-Afrikaanse ystervark is die wêreld se vierde grootste lewende knaagdier, na die Suid-Amerikaanse watervark en die Eurasiese en Noord-Amerikaanse otters.

Met sy lang swart-en-wit penne is die ystervark, Hystrix africaeaustralis, onmiskenbaar. Dié ystervarkpenne kom maklik uit en word dikwels in die veld gevind. Dit is egter nie waar dat hy die penne uitskiet na sy vyande toe nie.

Die ystervark is ‘n nagdier en lê gewoonlik gedurende die dag tussen rotse, in tonnels – sy eie of die van ander diere – in grotte of selfs in ruig beboste gebiede.

As ‘n mens dink dat jy op ‘n ystervarkskuiling afgekom het, is daar een manier om seker te maak. Sy skuiling lê gewoonlik vol halfgekoude bene. Die kenners sê dat ystervarke aan bene kou vir die minerale inhoud daarvan en om hulle lang voortande skerp te hou.

Nog ‘n manier om te sien of daar ystervarke op jou plot doenig is, is om te soek vir paadjies.

Ystervarke het vaste gewoontes, en een daarvan is om altyd op dieselfde paadjies te loop. Dit is ongelukkig ook hoekom hulle so maklik in slagysters gevang word. Langs ystervarkpaadjies sal ‘n mens altyd vlak uitgrawings sien waar hulle agter plantwortels en bolle aan gegrou het.

Alhoewel ‘n hele groep ystervarke dieselfde skuiling kan deel, soek hulle gewoonlik alleen kos. Hulle vreet wortels, bolle, knolle en boombas, maar ook ‘n hele aantal aangeplante gewasse soos aartappels en pampoene.


Die ystervark
Foto: Brittanica

Slagysters
Daar is ook al gesien dat ystervarke aan karkasse sal vreet en hulle word gereeld gevang in slagysters wat met vleis gestel is om karnivore soos jakkalse te vang. Mense op die platteland weet ook dat ystervarke lief is daarvoor om asbliksakke in die nag oop te skeur.

Die ystervark se sye, nek, kop en onderste deel van sy lyf is met dik, harde hare bedek. Dié hare vorm ‘n soort maanhaar-kuif wat strek van sy kop, teen sy nek af tot op sy skouers. Die kuif word slegs gelig as hy geskrik het of kwaad is.

Hy het ‘n breë kop en snoet met klein varkagtige ogies en klein ronde oortjies. Hy het kort, dik bene met vreeslike kloue aan sy voete. Sy stert is kort en het ‘n hele aantal hol penne met oop punte wat hy teen mekaar kan laat vibreer sodat die ritselgeluid as waarskuwing dien wanneer vyande naderkom.

‘n Mens sien meestal alleenloper ystervarke, maar dit is nie ongewoon om paartjies of familiegroepe saam te sien nie. ’n Ystervark kies net een maat en die paartjie sorg saam vir hulle kleintjies en beskerm hulle gebied ook tesame. Altwee merk hulle gebied, wat wissel tussen 67 en 203 hektaar.


Só lyk ‘n boom wat deur ‘n ystervark ontbas is
Foto: Wikipedia

Ystervarke kry meestal een maal ‘n jaar in die reënseisoen, tussen Augustus en Maart, kleintjies. Die wyfie is 94 dae lank dragtig en kan een tot drie kleintjies kry. Dié kleintjies kan binne die eerste paar ure na geboorte reeds begin rondbeweeg en hulle weeg 300 tot 440 gram.

Hulle word met sagte penne en snytande gebore en die res van die tande begin ná 14 dae verskyn. Hulle spog met ‘n volle stel volwasse tande teen 25 maande. Die kleintjies word ná 100 dae gespeen en bereik volwassenheid teen die einde van hulle eerste jaar.

Ystervarke leef langer as ander knaagdiere; hulle word gewoonlik 10 jaar oud en kan tot 20 jaar oud word in aanhouding.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online