Inwoners skop teen sandmyn langs twee bewareas PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 22 August 2017 12:04
Untitled Document

’n Sandmyn word een kilometer van twee bekende bewaringsgebiede, die Bronberg- en Klipkop Bewareas, beplan. ’n Openbare deelnameproses is aan die gang en inwoners kan as belanghebbende partye registreer om tot 25 Augustus kommentaar te lewer oor die konsep basiese evalueringsverslag vir dié myn.

Die aansoek om ’n mynpermit is vir gedeelte 10 van Klipkop 396 JR. Die permit doen aansoek vir uitgrawings, opgaring, oplaai, sleep en vervoer, sowel as stortingsduine en ondersteunende infrastruktuur op ’n vyf hektaar gedeelte van die grond.

As ’n mens met Lynnwoodweg-verlenging uitry en jy kom by die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad (R25), is plot 10 die grond aan jou regterkant, wat deel vorm van die Klipkop bewaar-area se wateropvangsgebied en sensitiewe vlei.

Squizito, ’n Suid-Afrikaanse maatskappy gebaseer in Pretoria, het aansoek gedoen om die mynpermit en omgewingsgoedkeuring. Tshifcor Investment and Resources is die maatskappy wat deur Squizito as onafhanklike omgewingspraktisyns aangestel is om die aansoeke en openbare deelnameproses te hanteer.

Volgens Tshifcor dui beskikbare geologiese data aan dat die sand in die gebied geskik kan wees om gemyn te word. Hulle doel is om die sand te ondersoek en om te bepaal of ‘n sandmyn op dié plot ekonomies lewensvatbaar sal wees. Hulle sê dat dié sand gebruik sal word in die konstruksie van paaie en geboue in die vinnig-uitbreidende gebied ten ooste van Pretoria.

Volgens Tshifcor kan potensiële impakte van so ’n sandmyn die volgende raak: oppervlak- en grondwater; kwaliteit van die lug, biodiversiteit, verkeer, sosio-ekonomiese, visuele en erfenisfaktore en kapasiteit van grond en eiendom.

Vriende van Klipkop en Omgewing het ’n beswaarskrif na Tshifcor gestuur waarin hulle vra dat ’n verslag oor die omgewingstudies wat oor dié potensiële impakte gedoen is, aan hulle beskikbaar gestel moet word.

Grondwater
Grondwater in dié omgewing is die enigste bron van water vir plaaslike boere omdat daar geen munisipale water of dienste aan die gebied gelewer word nie. Die Vriende vra dat die mynmaatskappy sy wettiglik goedgekeurde en geldige waterlisensie ten toon moet stel omdat miljoene liters water daagliks met sandmynaktiwiteite gebruik word om stof in toom te hou.

In die Vriende se dokument vra hulle of daar ’n verwerkingsaanleg gaan wees wat afval en chemiese besoedelingstowwe, soos diesel en hidrouliese olies van masjinerie, veilig kan verwyder sodat dit nie die ondergrondse water besoedel nie. Hulle vra ook of daar ’n rioolbehandelingsaanleg gaan wees.


‘n Tipiese sandmyn elders

Verkeer
Die Vriende noem dat die aansluiting van Lynnwoodweg-verlenging by die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad (R25) ’n gevaarlike een is wat hoë verkeersvolume dra en waar daar gereeld ongelukke is.

Hulle vra wat die begroting is om voorsiening te maak vir padveiligheid, soos om ’n verkeerslig te laat aanbring, en of die projek dan steeds finansieel lewensvatbaar sal wees.

Die Vriende wil ook weet watter maatreëls in plek gesit gaan word om te verseker dat plante en diere beskerm sal word en stroping verhoed sal word. Klipkop vorm deel van die Bronberg-gebied, wat internasionaal erken word as die laaste oorblywende natuurlike habitat in die wêreld van ’n sekere sub-klassifikasie van Juliana se goue mol. Die sanderige noordelike hang van die Bronberg bied beweegruimte aan dié mol.

Die Bronbergse ekosisteem is vroeër in die Staatskoerant as krities bedreig gelys en daar is verskeie bewareas in die groter Klipkop-omgewing. Die Klipkop Bewarea, reg oorkant plot 10, is spesifiek daargestel vir die bewaring van die Bankenveld grasveld-bioom, die tweede mees bio-diverse bioom in Suid-Afrika ná fynbos.

Grasveld word al hoe skaarser hoe meer daar ontwikkel word. Daar is onlangs eers besef dat grasveld, insluitende Bankenveld, noodsaaklike ekosisteme voorsien wat die beskerming van grond en waterbronne insluit, sowel as die afbreking en opname van besoedeling, die stoor van voedingstowwe en herwinning.

Lugbesoedeling
Die Vriende sê in hulle beswaarskrif dat stof en lugbesoedeling ’n groot probleem kan word. Silika (sandmyn) is gevaarlik in die lug en kan ernstige siektes veroorsaak. Daar is ’n bekende jeugsentrum, Gilglen Scouts se kampplek, naby aan die voorgestelde sandmyn.

Die Vriende is ook bekommerd oor die effek van dinamiet skietwerk op die omgewing en vra of daar nie heroorweeg moet word om so iets so naby aan Bapsfontein, ’n bekende sinkgat-omgewing, te doen nie.

Op die vergadering op 29 Julie het Caroline Munyai van Tshifcor gesê dat die landskap gerehabiliteer sal word. Die Vriende sê as ’n mens een miljoen ton sand uithaal, moet jy een miljoen ton terugsit en dit sal waarskynlik uit rommel en potensiële besoedelingstowwe bestaan, wat ’n invloed op die grondwater sal hê. Só ‘n soort rehabilitasie sal ook die hoeveelheid voertuie wat die perseel besoek, verdubbel.

In hulle beswaarskrif vra die Vriende wat die geraamde begroting gaan wees vir: omgewingsimpakstudies, infrastruktuur, begin kapitaal, operasionele kostes en die rehabilitasie wanneer die mynery verby is.

Vergadering
Die Vriende sê dat baie mense die uitnodiging na die openbare vergadering, wat oor die sandmyn gehou is, eers gekry het nadat die vergadering verby was. Hulle sê dat geen kennisgewings oor die vergadering in die omgewing aangebring is nie, dat hulle nerens advertensies daaroor gesien het nie en dat die eienaars van die grond nie eers van die openbare vergadering in kennis gestel is nie.

Die Vriende sê ook dat die agtergrondinligtingsverslag nie soos belowe beskikbaar is nie. Teen Die Bronberger se saktyd was dié verslag nog nie op Tshifcor se webtuiste nie.

Vir meer inligting, besoek www.tshifcor.co.za of kontak Caroline Munyai by e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it , tel: 076-151-7559 of 011-027-5996.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online