Hulpkreet vir perdry  PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 22 August 2017 12:02
Untitled Document

Besorgde ouers van Garsfontein skryf:
Ons pragtige blou-oog dogtertjie van sewe jaar oud is van kleintyd af ’n handvol.  Sy is gediagnoseer met aandaggebreksindroom, hiperaktiwiteitstoornis (ADHD en ADD), epilepsie en ’n mate van outisme.
Sy praat baie onduidelik en mense sukkel om haar te verstaan. Mediese onkostes vir haar en haar vierjarige boetie, wat ook spesiale behoeftes het, is nogal ’n swaar las.

Sy was in verskillende skole met die jare waar ons probeer het dat sy moet inpas maar net nooit het dit reg uitgewerk nie. Die skole kon nie volhou met haar nie en sy was emosioneel nie sterk genoeg nie.

Haar kleuterskooltyd was regtig nie altyd lekker nie, behalwe toe Snipper Snip in Garsfontein bereid was om haar te help. Dit is nie ’n spesiale skool nie, maar hulle het geweet wie sy werklik is. Baie ouers in die skool het ons ook bygestaan en verstaan en ons het groot dank daarvoor. Nou is sy in ’n klein private Engelse skool, wat haar ook help en sy is gelukkig daar.

Ons kind was al vir vreeslik baie toetse, spraakterapie en arbeidsterapie en alles gaan nog voort, maar alles het altyd ’n bedrag betrokke en ’n mens kyk maar wat jy kan doen om by te bly. Ons as ouers en ons familie almal help altyd waar hulle kan en vir beter kon niemand vra nie.

In 2016 het sussie begin met perdry, iets waarop sy baie trots is, en sy sien elke Saterdag uit daarna. Die perdrylesse is werklik baie terapeuties en het haar so baie al gehelp, maar dit het nou daarnatoe gekom dat iewers gesny moet word om kop bo water te hou.

Die eienaar van die perdryskool het tot nou toe geweier dat sussie moet ophou en dra haar op eie koste, maar kan dit nie vir ’n onbeperkte tyd doen nie. Daarom is hierdie brief ’n noodkreet aan mense wat kan help om haar en haar boetie te borg om aan te gaan met die terapie. Ons het duidelik gesien hoe ’n groot verskil die kontak met die perde op haar en haar boetie het. Dit help geweldig met rustigheid en selfvertroue.

Daar is soveel ouers daar buite wat met soortgelyke probleme sit en soos ons sal weet dat ’n mens nie ophou soek na ’n uitweg om jou kind ’n gelukkiger, meer normale lewe te gee nie.  

Mense wat meer besonderhede wil hê of kan help, kan die ryskool kontak by 081-780-5197 of e-pos by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .  – Red

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online