Maak nie sin nie PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 22 August 2017 12:01
Untitled Document

Ria Pieterse van Kleinfontein skryf:
As daar by jou ingebreek word, moet jy self kyk wat is alles gesteel, na Boschkop se polisie ry om vorms in te vul, sodat jy ’n saaknommer kan kry. My man het hulle seker sewe keer geskakel na die tweede inbraak in twee weke se tyd. Toe hulle wel uitkom, het hul nie eens belanggestel om vingerafdrukke of voetspore op te volg nie.

Waarom die gedeeltes Donkerhoek en Kleinfontein voor die N4 snelweg by Boschkop 25 km daarvandaan ingeskakel moet word, terwyl Rayton polisie net 6 km en Cullinan 16 km daarvandaan is, gaan my verstand te bowe.

Kan hulle nie die polisie indeel in ’n radius van ten minste 20 km rondom die betrokke polisiestasie nie?

Gestel daar is ’n aanval, moet ’n mens dan wag dat polisie 25 km na jou toe kom, waar daar net
6 km van jou af vinniger hulp verleen kon word?

Dit moet eintlik teruggaan na die dae waar polisie orals toegelaat kon word om te help, maak nie saak wat die geval of afstand is nie.

Kaptein Marissa van der Merwe van SAPD Boschkop antwoord:
Elke saak het sy eie meriete. Die nodige skoon lys word voorsien aan die klaer omdat die klaer ’n gespesifiseerde lys moet saamstel van goed wat gesteel is. Dit sal ’n lang tydperk vat as ’n mens moet wag dat elke huisbraaktoneel-klaer eers moet neerskryf wat alles gesteel is.

Die lys, sodra voltooi deur die klaer, word dan vir die speurder gegee wat die huisbraaktoneel besoek. Die lys word op die dossier geplaas, want versekeringsmaatskappye doen navraag oor die lys van gesteelde goedere.

Die polisiestasie het ’n geweldige probleem met ons Telkomlyne en die lyne werk baie keer nie. Die stasie werk op ’n satelliet. Die nommers wat geskakel word deur die publiek is baie keer nie die regte nommer nie en dan klink dit of die foon net lui.

Die nommer wat geskakel kan word is 012-802-8200.  Die beste nommer om te bel in geval van ’n misdaadtoneel is 10111. Dit verseker dat die klagte dadelik aandag kry en ’n mens kry dadelik ook ’n verwysingsnommer.

Elke klagte-voertuig se reaksietyd word gemeet sodra ’n klagte ontvang word.

Die aangeleentheid oor die vingerafdrukke hang van toneel tot toneel af. Daar moet aangedring word op vingerafdrukke vir ’n huisbraaktoneel anders sal dit nie gereël word nie. Die vingerafdrukke-eenheid is nie deel van die stasie nie.

Net vir regstelling: Rayton het nie ’n polisiestasie nie en val ook onder Cullinan-stasie se wyk. Die stasie-wyke word ingedeel vir elke stasie en goedgekeur vir die area volgens populasie. Dis egter uit ons hande om daaroor uit te wei.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online