Verneukspul PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 22 August 2017 12:00
Untitled Document

Ben Geldenhuys van Kleinfontein skryf:
Gister is my kar gesteel. Ek het die saak by Boschkop SAPD gaan aanmeld en ’n paar uur later kry ek toe ’n SMS met die saaknommer.

Omtrent ’n halfuur later kry ek ’n oproep van ’n persoon wat beweer hy is ’n kaptein in die SAP en dat hy my kar in Mamelodi gekry het. Hy gee vir my die saaknommer, my voertuig se registrasienommer en my werk telefoonnommer.

Hy vertel my toe dat as ek nie wil hê die voertuig moet na die SAPD se werf toe gaan nie, ek net die insleepkoste van R1 500 moet betaal. Omdat ek kennis dra van hierdie verneukspul vertel ek hom dat hy maar die voertuig na die SAPD-werf kan vat, ek sal hom daar kry.

Hy vra toe of ek die R1 500 het en toe ek sê nee, druk hy die foon dood.

Brief verkort. - Red

Kaptein Marissa van der Merwe van SAPD Boschkop antwoord:
Die insident wat gebeur het is ’n nasionale probleem waarby verdagtes inligting kry sodra ’n voertuig gesteel is en dit dan gebruik om geld daaruit te maak.

Daar is deesdae soveel sindikaatnetwerke betrokke in Suid-Afrika. Enige verdagte sal hom voordoen as ’n offisier en die klaer in die saak dan bel met inligting soos bogemeld. Die voertuig is in Mamelodi terug gevind en enige persoon kan betrokke wees.

Die stasie Boschkop word gereeld deur hierdie selfde probleem gepla waar verdagtes bel en hulle voorgee dat dit ’n offisier is wat inligting oor ’n dossier wil kry. Die stasie doen glad nie meer navraag oor die telefoon nie, maar per e-pos.

Die grootste probleem is ook dat klaers in ’n misdaadsaak hulle persoonlike inligting op facebook en whatsapp versprei.

Die stasie Boschkop ondersoek nie diefstal van voertuie nie, maar wel deur die spesialis-eenheid voertuigtak.

Brief verkort. - Red

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online