Takhare en Ruiters maak Baviaanspoort heel anders as tronk PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 24 July 2017 21:07
Untitled Document

Angie Kleijn

Baviaanspoort is vandag ‘n tronk noord-oos van Pretoria op die ou Zambeziweg. Toentertyd was dit ‘n plaas wat in die middel van September 1939 in ‘n interneringskamp omskep is om Duitsers en politieke gevangenes dwarsdeur die Tweede Wêreldoorlog te huisves. Die strafdraers by Baviaanspoort het die nuutgevonde benaming ‘verpleegdes’ gedra. Wie was dié mense en hoekom is hulle daar ‘verpleeg’?

Die Smuts-regering het net ná die uitbreek van dié oorlog, aan die begin van September 1939, die Unie van Suid-Afrika se steun aan Brittanje toegesê om teen Duitsland te veg. In die weke en maande daarna is manlike Duitsers in Suidwes in ’n interneringskamp, genaamd ‘Klein-Danzig’, aangehou.

Wanneer daar genoeg Duitsers bymekaar was, is hulle na die unie se interneringskampe, Andalusië, Baviaanspoort en Koffiefontein, geneem om vir die duur van die oorlog saam met Duitsers van Suid-Afrika geïnterneer te word.


Georg Hofmann as jong man

Georg
In Januarie 2009 het Die Bronberger vertel van die 95-jarige oom Hoffie van Shere se sewe jaar in interneringskampe in die Tweede Wêreldoorlog. Georg Hofmann is by Tsumeb se myne aangekeer en was van 1940 tot 1946 in ’n interneringskamp by Andalusië, nou bekend as Jan Kempdorp, in die Noord-Kaap en daarna vir nog ’n jaar in Baviaanspoort.

Twintig van die 2 000 mense wat saam met Georg opgesluit was, het in dié tyd selfmoord gepleeg. “Jy kon vir sewe jaar niks doen nie, of jy kon jouself probeer besig hou,” het hy destyds gesê.

Georg het in die kamp se blaas- en simfonie-orkes gespeel, begin skilder en het met ‘n knipmes drie viole uit ‘n houttafel gemaak. Ons het probeer uitvind wat Baviaanspoort se mense gedoen het om hulle self besig te hou.


Kunstenaar Otto Schröder in 1939

Kunstenaar
Een van die geïnterneerdes wat in Baviaanspoort beland het was die kunstenaar Otto Edward Henry Schröder, 1913–1975.  Hy het in Maart 1939 in Kaapstad aangekom as ‘n afdelingsbestuurder van ‘n Duitse firma. Toe die oorlog ‘n jaar later uitgebreek het is sy dienskontrak met die firma beëindig en hy is pennieloos en sonder werk in ‘n vreemde land agtergelaat.

Otto het voltyds aan sy kuns begin werk en, omdat hy Engels magtig was, kon hy ‘n groep private studente in skilderkuns begin oplei. Soos die meeste ander Duitse mans is hy egter gearresteer en na Baviaanspoort-kamp gestuur.

By dié kamp het hy dadelik begin om kunsstudente te werf en hy het ook sketse van sy mede-geïnterneerdes gemaak. Ná hy vrygelaat is, het hy besluit om in Afrika agter te bly. Hy het as professor gekwalifiseer en het in 1947 in Windhoek gaan bly, waar hy aktief in kunssirkels was.


Georg Hofmann se foto van die interneringskamp se blaasorkes

Robey
Sidney Robey Leibbrandt, 1913–1966, was seker een van Baviaanspoort se bekendste politieke gevangenes. Hy was ‘n Springbok-bokser en later Duitse valskermsoldaat, geheime agent en vegter teen Britse politieke mag in Suid-Afrika.

In sy boek, ‘Geen Genade’, skryf Robey: “As ek ’n digter was, sou ek Baviaanspoort in liriese taal beskrywe het. Vir my was dit soos ’n droom wat werklikheid geword het.”

Die kampbestuurder het volgehou dat Baviaanspoort nie ‘n gevangenis is nie, maar ‘n hervormings- of verpleeginrigting.

Robey het op 12 Junie 1947 gedreig dat hy op ‘n hongerstaking sou gaan as hy nie saam met die ander politieke gevangenes na Baviaanspoort gestuur word nie. Hy skryf dat die Minister van Justisie geweet het dat hy nooit sou poog om uit Baviaans­poort te ontsnap nie. Tog was daar vrese dat Robey die mede-verpleegdes teen bewaarders sou opsweep.


HS van Blerk en Julian Visser was ter dood veroordeel
Bron: Agter Tralies en Doringdraad

“Vir so ’n dwase onderneming was ek beslis nie te vinde nie,” skryf Robey. “In Baviaanspoort was ek in ’n groot vertrek gehuisves. Hoewel daar nog ruimte vir minstens tien beddens was het ek niemand daar toegelaat nie.”

Op inisiatief van die politieke gevangenes in Baviaanspoort is ’n maandblad getiteld ‘Bôgom’ in die lewe beroep. Robey was sport-redakteur en het onder die naam ‘Olimpus’ geskryf. Dr Erik Holm, Hendrik van Blerk, Julian Visser en Giel Pienaar het almal bydraes gelewer.


Robey Leibbrandt, die Springbok-bokser
Foto: Wikipedia

Stormjaers
Hendrik van Blerk en Julian Visser was Stormjaers, die Ossewabrandwag se aktivistiese vleuel. Hendrik Stephanus Hertzog van Blerk, 1915–2010, was ’n Afrikaanse skrywer en digter wat eers in die Sentrale Gevangenis in Pretoria ernstig begin skryf het.

In die Tweede Wêreldoorlog was Hendrik en Julian betrokke by die opblaas van ’n poskantoor in Benoni, waar ’n verbyganger deur die ontploffing gedood is. Hulle is op 9 Julie tot die dood veroordeel.

Ná 28 dae in die dodesel is die vonnis na lewenslange gevangenisstraf versag, effektief vir 20 jaar.

In ‘n hoofstuk genaamd ‘Baviaanspoort’ in die boek ‘Agter tralies en doringdraad’ skryf dié twee as
JD Visser en HS van Blerk dat daar op 2 Junie 1947 besluit is om die politieke gevangenes vanaf Sentrale Gevangenis na die plaas Baviaanspoort te stuur waar hulle dadelik die “hoër status van verpleegdes” en nie meer bandiete nie, gehad het.

Die gevangenes was Barnie Basson, Oom Roelf Botha, WW Botha, FA Fourie, GJ Kotze, CF Kriel, CN Louw, B de V Pelser, DJ Scribante, HS van Blerk, Johan van der Watt, J van Heerden en JD Visser.
Later in dieselfde jaar is hulle geledere deur dr Eric Holm en JA Strauss en Roby Leibbrandt aangevul.


Dr JFJ van Rensburg, vriend en helper van vervolgdes, politieke gevangenes, geïnterneerdes
en hulle afhanklikes
Bron: Agter Tralies en Doringdraad

Aankoms
Hendrik en Julian skryf dat die kamp nog in ‘n ongeorganiseerde toestand was met hulle aankoms op die plaas, maar dat daar wel slaapplek vir almal was. Dit was glo vir hulle ‘n voorreg om weer met ‘n mes en vurk te kon eet.

Die bestuurder het hulle in die menasie toegespreek en ‘n paar voorlopige reëls aangekondig. Hy het gesê dat die uiteindelike werklike reëls vir Baviaanspoort van die geïnterneerdes se gedrag sal afhang.
Hulle het gevoel dat ‘n heel ander gees geopenbaar is as dié waaraan hulle in Sentrale Gevangenis gewoond was. Die geïnterneerdes het saamgewerk om van dié nuwe inrigting iets anders as ‘n tronk te maak.

Daar was selfs ’n vermaaklikheidskomitee, wat binne ‘n jaar drie konserte gereël het. Een daarvan was ‘n toneelstuk van vier bedrywe.


Met dié tekening op poskaarte het gevangenes aan familie en vriende die geheim
geopenbaar waarheen hulle verhuis
Bron: Agter Tralies en Doringdraad

Daar was weinig politieke gevangenes wat nie die kans gehad het om voltyds by te dra tot Baviaanspoort se huishoudelike opbou nie. Snags was daar, sonder bewaarders, harmonie in Baviaanspoortkamp.

Die 12 huise se bewoners het elk ‘n monitor gekies en die bestuurder het uit dié 12 ‘n hoofmonitor aangestel om orde in die kamp te handhaaf, veral snags. So moes een van die monitors elke aand tot tienuur aan diens gebly het om toe te sien dat al die ligte in die huis afgeskakel is en alle ‘verpleegdes’ in hulle kamers is.

Die hoofmonitor moes toestemming gee wanneer mense oor en weer wou trek en hy het die kamp se huishoudelike reëls opgestel. Dit was ook sy verantwoordelikheid om in te gryp waar geskille ontstaan het.


Inspeksie op die binneterrein van die Sentrale Gevangenis
Bron: Agter Tralies en Doringdraad

Klere
Toe die ‘verpleegdes’ by Baviaanspoort aangeland het, was daar geen klerevoorraad nie en geen besending nuwe klere het die kamp in die volgende twee maande bereik nie. Die mense moes in vuil en stukkende klere loop en hulle moes uit die staanspoor self inspring om alles vir hulle self gerieflik in te rig.

Die hospitaal het nie ‘n noodhulpuitrusting gehad nie en ook geen bewaarder nie, wat beteken het dat die eerste pasiënte in die huisies moes bly lê, waar hulle twee keer per week deur ‘n besoekende dokter ondersoek is.

Verpleegdes moes ook die sport reël en die biblioteek opbou. Die biblioteek is met 200 geskeurde en afgekeurde boeke uit die Sentrale Gevangenis begin. Die drie bibliotekarisse, al drie politieke gevangenes, het hulle eie primitiewe boekbindery opgerig om die boeke te lap en stop.

Op hulle inisiatief is verskeie instansies genader om boeke te skenk en binne ‘n jaar het die biblioteek met meer as 1 000 goeie boeke gespog. Binne-in baie boeke was daar ‘n naam met ‘n versoek ingeskryf: “Na die sluiting van hierdie kamp, stuur asseblief terug aan die eienaar.”

Dit het egter nooit gebeur nie en die boeke staan glo steeds op Baviaanspoort se biblioteekrakke.


‘n Koevert uit 1941 wys aan die voorkant ‘n rooi sensor-plakker wat sê: Krygsgevangene, Baviaanspoort, Pretoria-kamp. Die Duitse sensor-plakker aan die agterkant wys dat die brief in Berlyn ontvang is
Bron: chrisrainey.com

Takhare
Hendrik en Julian skryf dat die eerste sportvergadering die tweede aand nadat die politieke gevangenes daar aangekom het, belê is. ‘n Sportkomitee is gekies en die verpleegdes is in vier groepe verdeel.

Daar is besluit om tennis, ringtennis, ligasokker en jukskei te speel en aansoeke om sporttoerusting is daardie aand reeds uitgeskryf.

Namate die tyd gevorder het, is besef dat die eerste indeling van verpleegdes in die kamp onprakties was. Daarna is die kamp in twee afdelings verdeel, die Takhare en die Ruiters. Elke groep kon ‘n eerste, tweede en derde sokker- en sagtebalspan in die veld stoot. Die politieke gevangenes se sagtebalspan, die Velskoene, het die kompetisie twee keer gewen.


‘n KDF Sokker-uitdaging medalje en sertifikaat van 1942 uit die Duitse interneringskamp, Baviaanspoort
Bron: www.kpemig.de

Ringtennis het 12 ligaspanne opgelewer en jukskei het met agt spanne aan ‘n kant gespog.

Daar was glo ‘n baie suksesvolle atletiekdag op die eerste Nuwejaarsdag.

Robey Leibbrandt skryf dat hy kort ná sy aankoms in die kamp dit so bewerkstellig het dat hy tot voorsitter van die sportkomitee verkies is. “Ek was in bevel van alle sportbedrywighede. Ek het geen ander werk verrig nie. Ek het my besig gehou met die organisasie van boks- en ring-tennistoernooie, voetbalwedstryde, atletiekbyeenkomste, jukskeiwedstryde, en so meer.”


‘Agter tralies en doringdraad’

Kos
Hendrik en Julian skryf dat daar groot ontevredenheid oor die kos was. Hulle het besef dat die kokke doen wat hulle kan met die bietjie tot hulle beskikking, maar dit was nie genoeg nie.

Die plan wat hulle gemaak het, was om op ‘n kwasie-hongerstaking te gaan. Een aand het hulle geweier om die kos te eet voor die bestuurder hulle nie gespreek het nie en het ook geweier om die menasie te verlaat voordat hy hulle te woord gestaan het.

Die bestuurder het gou opgedaag en was glo vatbaar vir wenke. Die kampgangers se voedselrantsoene is deur die parlement vasgelê en deur die Direkteur van Gevangenisse goedgekeur, maar ‘n agterdeur is vir Baviaanspoort se mense opgemaak. Hulle is toegelaat om ekstra groente, wat plaaslik gekweek is, te bekom.


Die ‘ritus’ van komberse opvou
Bron: Agter Tralies en Doringdraad

Studie
Studie is op Baviaanspoort aangemoedig. Dié wat studeer het, kon hulle ligte tot 11 uur die aand laat brand en die Sentrale Gevangenis se onderwyser het een keer per week soontoe gegaan om klaswerk na te sien, studieboeke om te ruil en studente aan te moedig.

Hendrik en Julian skryf dat studie egter nie so maklik soos in ‘n tronk was nie omdat hulle nie in selle opgesluit was nie. Op Baviaanspoort was daar baie afleiding, veral omdat daar ná 5 uur in die middag geen bewaarder voltyds aan diens was in die kamp nie.

Soms het verpleegdes ontsnap, maar dit was glo glad nie ‘n kordaatstuk nie. So ‘n mens het sy maats se omstandighede net vir hulle vergal. Hendrik en Julian skryf dat geen politieke gevangene hier ooit aan ontsnapping gedink het nie, omdat hulle hier baie beter as in Sentrale Gevangenis behandel is.

Daar was meer besoeke van geliefdes en in die besoekkamer kon meeste van die getroude politieke gevangenes hulle kinders vir die eerste keer weer sien – sommige ná vyf jaar.


Van die politieke gevangenes toe hulle nog in Sentrale Gevangenis agter tralies was
Bron: Agter Tralies en Doringdraad

Vrylating
Die Tweede Wêreldoorlog is op 2 September 1945 verby, maar baie van die Duitse geïnterneerdes was meer as ‘n jaar daarna nog op Baviaanspoort.

Ses van die politieke gevangenes is op 12 Junie 1948 ontslaan ná die bewindsaanvaarding van ‘n Nasionale Regering, wat ook verantwoordelik was vir die loslating van dr Eric Holm op
24 Desember 1948.

In sy boek, ‘Geen Genade’, skryf Robey Leibbrandt: “Die oggend van ons vrylating was daar groot opgewondenheid in die muurlose tronk op Baviaanspoort. ’n Groot getal mense van heinde en ver het buite die draadomheining op ons gewag.”

Met ’n hele stoet motors is die politieke gevangenes na Pretoria vergesel waar talle verslaggewers en fotograwe hulle stormgeloop het.


Hier is berig oor ‘n funksie, gereël deur generaal Du Toit, met die doel om Hendrik van Blerk en Julian Visser welkom te heet na hulle loslating uit Baviaanspoort
Gepubliseer in die OB, Woensdag 14 Julie 1948

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online