Holkol verdwyn ná ‘n knussige koffiekuier PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 24 July 2017 21:05
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Almal ken tog die vretende verlange na ‘n ietsie-te-ete wat hier iewers tussen ‘n vroeë ontbyt en ‘n ordentlike middagmaal ewe ongenooid aan die eetlus kan kom karring: Dis meer van ‘n knaende lastigheid wat aan die hongerkliertjie kom kielie as die volwaardige honger van ‘n hokleeu, enkele minute voor hy sy rantsoen moet kry.

Die ou Ingelse ken dié voorhongerse verskynsel oor eeue heen reeds en daarom het hulle ‘tea’ uitgedink. ‘Elevenses’ vir die na-oggend en ‘haai tea’, of ‘low tea’ vir die holkol voor die aand se aansit.


Peusel- en koffiekeuses op ‘n swartbord aangebring

Want ‘tea’ is nie bloot die saai blaarbrousel met suikerklontjies in ‘n koppie nie, maar daarby ook ‘n versameling verbeeldinglose peuselgoed soos pikante komkommertoebies en botterbroodjies en goed.

Suid-Afrikaners het biltong teen die holkol uitgedink. En koffie met boerbeskuit. Jy noem dit dan ook nie ‘n elfuurtjie nie (dis iets heel anders) of hoge, of lae koffie nie, maar wat dit is: ‘Koffie en beskuit’ en dit is veral vir as jy jou sonder biltong en droëwors sou bevind.

Dis dan presies waar, hoe en wanneer ons, ons een trietsige Saterdag in Julie bevind: Op Cullinan, half-honger ná ‘n vroeë ontbyt en net so skuins na elf in die oggend. Sonder biltong.


Geroosterde heerlikheid met allerlei

Die dorpie het sy kwota kuierplekke vir die gerief en soms vir die noodsaak van tussenin, of liggies teen die ergste honger in eet en by die meeste hiervan was ons oor die jare heen al. Maar hoger op in Oaklaan, só het ons gehoor, het ‘n aandoenplekkie in een van die circa 1925 se groter mynhuise oopgemaak. Mem’re, noem hulle dit en ek wonder nogal oor die naam.

Mem’re dien ook as ‘n funksielokaal en bied allerlei markdae, opelug-bioskoopaande en dies aan, maar ons is hier om die laatoggend se voorhonger hok te slaan.

Die koffiehuisie (boetiek, sê hulle) is baie stylvol met ougoed, onthougoed, lappiesgoed en boekgoed ingerig en die paar tafeltjies is netjiese tuisvoel-aansitplekkies. Vir mooiweersdae kan ook in die ruim tuin plaasgeneem word.


Gebak, gebottel en gerak in die knus binnewerke van Mem’re

Die aangrensende vertrek dien as haarsalon en vir my klink dit of ‘n paar goeie vriendinne hier langsaan lekker gesellig oor ‘n koppie koffie en iets aan’t kuier is.

Verskeie verbuigings van koffie word by Mem’re se knus kuierplekkie bedien en selfs ‘n tee of wat vir as jy dalk Ingels is of siek is.

Teen ‘n swartbord is die drinkgoed en hongerstillers van die dag aangebring: Nie ‘n verskriklike verskeidenheid nie, maar genoegsaam. Toebroodjies (gerooster of nie), botterbroodjies (‘scones’), ‘n keuse van quiche-kolwyntjies en koek-van-die-dag.


Ham, kaas en tamatie vir ‘n laatoggendse holkol

‘n Geroosterde toebroodjie (bruin) met ham, kaas en tamatie vir my en ‘n wit roosterbroodjie met hoender-mayonnaise vir Metgesel. Ek weet dit klink alledaags, maar allermins.

Ons word aangenaam verstom toe eienaar, Sue, die mooi borde voor ons neersit. Dit wat op die mooi borde is, is ook mooi: Baie mooi is die oordadige Grieks-geïnspireerde slaai, die kwartgesnyde, goudgeroosterde broodjies met ketelgebraaide aartappelkraakhappies daarby. En die broodjies en slaai smaak soos dit lyk: Mooi. Ook die geurige koffie van knapgemaalde bone geval ons.

Vir later se wis-en-onwis-holkolletjies het ons elk ‘n billike snit sjokoladekoek en ‘n souttert-kolwyntjie (quiche) as wegneembederfies saamgevat. Die ‘nat’ donkersjokoladekoek is vir my van die beteres wat al oor die lippe beweeg het en die ‘quiche-kolwyntjie’ se skepper mag maar.


‘n Kuiernoekie in die koffieboetiek

Dit dien vermeld te word dat alles wat ons by Mem’re geniet het, ons so min uit die sak gejaag het, dat ek vas oortuig daarvan is iemand moes ‘n fout met die optelsom gemaak het.

Ons is bly ons het die afsaalplekkie bo in Oaklaan raakgeloop. Dit bied ‘n vriendelike, gemoedelike ervaring. Hulle is bedags vanaf Dinsdag tot Saterdag oop. Jy kan bel vir meer besonderhede by:
076-250-9588.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online