Haangevegte kom van voor die hoender én die eier PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 24 July 2017 21:05
Untitled Document

Was daar inheemse hoenders in Suid-Afrika voor Jan van Riebeeck hier aangeland het?

Landboukundiges wat dié vraag begin navors het, sê die rede waarom die hoender vandag ‘n plaasdier is, het meer met haangevegte te doen as met eiers of vleis.

Die eerste haangevegte is reeds in 1 000 vC aangeteken en dié sport was so gewild dat ‘n toenemende hoeveelheid wilde voëls makgemaak is, veral in die Ooste. Toe haangevegte in die Weste ook begin gewild raak, is hoenders in groot getalle die wêreld vol verskeep.

‘n Matroos of soldaat wat nie geskik was vir enige ander werk op skepe nie, is aangesê om die pluimvee te voer en, in die tyd van die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie, was sy titel altyd ‘Pluym-Graff van de hoener’.


‘n Antieke Romeinse mosaïek-kunswerk van twee hane wat mekaar gaan takel. Agter op die tafeltjie lê die geldsakkie wat die wenner gaan kry
Foto: Wikipedia

Van Riebeeck
Daar was dan ook so ‘n ‘Pluym-Graff’ op die skip saam met Jan van Riebeeck, wat berig het dat hy geen inheemse hoenders aan die Kaap de Goede Hoop gekry het toe hy hier aangekom het nie. Hy het in 1656 en 1657 pluimvee na Suid-Afrika ingevoer vanaf Holland en sy dagboeke dui aan dat dit hoenders, kalkoene, eende, ganse en selfs swane ingesluit het.

Van Riebeeck het die Vryburgers van pluimvee voorsien en dié Vryburgers het self ook hoenders gekoop by skepe wat aan die Kaap gedok het.

Tog beteken dit nie dat die inwoners van die gebied nie pluimvee aangehou het nie. Die seevaarder Vasco da Gama het in 1497 aangeteken dat hy ‘n baie klein soort makgemaakte hoenderagtige voël by die stamme langs die Tarra do Natal-kus gesien het.

Die geskiedskrywer Lichtenstein het in 1803 gesê dat hy geen pluimvee onder die Xhosas (wat hy die Koossa genoem het) in die Oos-Kaap gesien het nie. Hy het egter geskryf dat stamme in die noorde van Suid-Afrika ‘n klein soort pluimvee, sonder ‘n kam op die kop, aangehou het.


‘n Hanegeveg in London in 1808
Foto: Wikipedia

Voorouers
Hoenderrasse soos die Langshan, Cochin en Brahma is vroeg reeds uit die Ooste na Suid-Afrika ingevoer. Hulle is die voorouers van alle veeldoelige hoenderrasse wat ons vandag ken.

Verskeie kruisings met ‘n kuifie of kam en baard stam af van Europese rasse, soos die Houdan, Faverolle en Poolse kuifkopvoëls. Invoer van dié rasse is in die vroeë 1900s vervang met die invoer van veeldoelige rasse soos die Orpington, Light Sussex, Rhode Island Red, Plymouth Rock and Wyandotte van Engeland en Amerika.

Die Mediterreense rasse, soos die Leghorn en Minorca van Italië en Spanje, het terselfdertyd gewild begin word.


‘n Kaalnek-haan en -hen
Foto: Wikipedia

Inligting oor hoenderboerdery in Suid-Afrika in die 18de en 19de eeu is egter baie skraps omdat daar toe geen georganiseerde pluimveebedryf in die land was nie. Die eerste pluimvee-vereniging is eers in 1904 gevestig ná die ontdekking dat eiergeel ‘n goeie bron van vitamiene A en yster is en dat eierwit hoë-kwaliteit proteïen bevat.

Volgens die Plaasdierbewaringstrust se boek – ‘Landrace breeds: South Africa’s indigenous and locally developed farm animals’ – het ons ‘n hele paar hoenderrasse wat plaaslik ontwikkel het.


Vendahoenders
Foto: Wikipedia

Kaalnek
Een daarvan is die Kaalnek wat oorspronklik van Maleisië af kom. Daar is twee soorte Kaalnek – die rasegte een wie se nek heeltemal kaal is en die verbastering wat ‘n klossie vere voor aan die nek het.
As twee sulke baster-Kaalnekke teel sal ‘n kwart van die kuikens Kaalnekke wees, die helfte van hulle sal klossies hare voor aan hulle nekke hê, en die oorblywende kwart sal vol vere wees.


‘Sunday Cockfight at Madrid’ is die naam van dié 1873 hout gravure
Foto: Wikipedia

Ovambo
Die Ovambo is ‘n hoender wat in die noordelike dele van Namibië en Ovamboland voorkom. Dié is ‘n klein, donker hoender wat homself baie goed kan kamoefleer as beskerming teen roofvoëls. Hy is baie aggressief en rats en vreet muise en jong rotte. Die Ovambo vlieg graag en slaap saans bo in bome.

Die Venda is ‘n hoender-ras wat in Venda geïdentifiseer is. Alhoewel daar later presies sulke hoenders in die Suid-Kaap en die Qua-Qua deel van die Vrystaat gevind is, het die oorspronklike naam gebly. Dié hoenders is wit, swart en rooi en redelik groot.


‘n Potchefstroomse Koekoek
Foto: Wickedfoodearth

Koekoek
Die Potchefstroomse Koekoek is ‘n kruising tussen ‘n swart Australorp en wit Leghorn en word as ‘n plaaslik ontwikkelde ras erken. Die naam ‘koekoek’ beskryf egter die hoender se kleurpatroon eerder as sy ras.

Dié swart-en-wit hoenders is gewild in teelprogramme omdat die kleur van dag-oue kuikens klaar aandui of dit ‘n haantjie of hennetjie is. As ‘n swart of rooi haan gekruis word met ‘n Koekoekhen, sal al die hennetjies heeltemal swart wees en al die haantjies sal ‘n wit kol op die kop hê

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online