Plan om troetelvarke te skuif duur voort PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 24 July 2017 21:04
Untitled Document

Pigs n Paws beplan om teen November of Desember na gedeelte 20 van die plaas Rietfontein 395 JR, langs die Bronberg, te trek.

In Mei het ons berig dat inwoners van Bashewa en Rietfontein skop teen die beplande skuif van dié dierereddingsinstansie vir varke na ‘n ekologies sensitiewe gebied tussen die Bronberg Bewarea en die Pienaarsrivier.

Gemeenskapsvergaderings is gehou en ‘n prokureur is aangestel om die beplande skuif van die instansie na die Bronberg-gebied teen te staan. Teen Die Bronberger se saktyd het die beswaarskrif wat opgestel is 154 handtekeninge van mense in die direkte omgewing bevat.


Kiera Steyn by Pigs n Paws se varke
Foto: Pigs n Paws

Die Bronberger het met Leslie Giles, eienares van Pigs n Paws, gepraat oor haar toekomstige bure se besware en hulle vrese oor wat die varke aan die omgewing en sy inwoners kan doen.

Leslie het gesê dat Pigs n Paws nie ‘n varkboerdery is nie, maar ‘n reservaat, en dat die varke nie gaan aanteel nie. Die aantal varke gaan rondom 270 bly en sy sê dat die manlike varkbere almal reggemaak word.

Die varke gaan nie in varkhokke aangehou word nie, maar gaan vry in kampe rondloop. Leslie verduidelik dat die tipiese stank van ‘n varkboerdery van ingehokte toestande af kom en dat grondwaterbesoedeling ook só gebeur wanneer die varkhokke daagliks uitgespuit word.

Pigs n Paws werk op die oomblik vanaf Anton Goosen se kleinhoewe, gedeelte 130 van die plaas Hennopsrivier 489 JQ, besit deur Liedjieboer Beleggings. Leslie sê dat hulle ongeveer 60 meter vanaf die Hennopsrivier is en dat daar nog nooit besoedeling van die water was nie omdat die varke nie ingehok word nie. Sy sê geen bure daar het enige klagtes oor stank, geraas of waterbesoedeling ingedien nie.


Die foto van die varke op Hennopsrivier, soos dit in die Mei-uitgawe van Die Bronberger verskyn het
Foto: Verskaf deur Piet van der Merwe

Leslie sê sy is deeglik bewus daarvan dat die nuwe perseel op Rietfontein naby aan die Bronberg Bewarea is. Die plot gaan in kampe opgedeel word om die veld ‘n kans te gee om te rus.

Volgens Sandra Kloppers, ‘n voormalige omgewingsaanklaer vir die staat, sal die varkkampe op Anton Goossen se kleinhoewe binne ‘n paar maande met goeie reën herstel. Die grond is goed bemes met varkmis, wat volgens haar beter bemesting as hoender- of beesmis is.

Rietfontein-bure het genoem dat die nuwe eiendom omring is deur ten minste ses woonhuise binne ‘n 200 meter radius en dat klein kindertjies en troeteldiere reg langs die grond speel wat die instansie in varkkampe wil omskep.

Leslie sê dat Pigs n Paws reeds besig is om elektriese heinings te laat oprig en hout-palette voor dié heinings te sit sodat geen varke by die kleinhoewe sal kan uitkom nie. Sy sê dat die varke nie aanval nie en dat die oorgrote meerderheid mak miniatuur boepensvarkies is, met drie of vier groter varke.

Inwoners sê dat die eiendom, wat aan Tony Stathakis behoort, te klein is om soveel varke te huisves.


Leslie sê dat die varke nie aanval nie
Foto: Facebook

Die kleinhoewe is 9,4 hektaar groot en die helfte daarvan is glo ‘n skuins rotsagtige helling. Hulle sê ook dat geen kennis van hersonering van die eiendom ontvang is nie.  

Leslie verduidelik dat Pigs n Paws ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie is en nie ‘n boerdery of kommersiële herberg vir diere nie. Sy sê dat die instansie die Dierebeskermingsvereniging en Onderstepoort se goedkeuring het, wat beteken dat dié instansies nie besorg is oor die grootte van die eiendom nie, en dat sy die nodige dokumentasie graag aan enige een wat vra, sal wil wys.

Leslie sê dat sy so twee keer ‘n week op die plot is om aan die huis en omheining te werk en om ‘n groentetuin te vestig en dat sy die bure graag sal wil ontmoet. Sy nooi alle bure uit om aan te klop wanneer hulle haar daar sien, sodat sy die perseel aan hulle kan wys.

Sy wag nog vir Eskom om die kragaansluiting te finaliseer en voorsien dat sy klein groepies varke nader aan die einde van die jaar stadigaan soontoe sal begin trek. Mense gaan welkom wees om hulle kinders te bring om die troetelvarke te ontmoet, sê sy.

 

 

 

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online