Taalstryd met loopmaag PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 24 July 2017 20:56
Untitled Document

Tussen ‘verstaan’ en ‘begryp’ kan daar soms ‘n kloof lê wat nogal moeilik kan wees om te oorbrug as jy nie duidelik begryp wat iemand eintlik bedoel jy moet verstaan nie, sê Gert Mossie. “Huh?” sê Groot Piet.

Nee man, sê Gert, hy dink mos nou sommer aan ‘n ding wat sy kindertydse vriend, Pieter Gresse Els, hom destyds vertel het. Dit gaan eintlik oor hoe maklik ‘n misverstand kan gebeur as twee mense met verskillende moedertale oor dieselfde ding praat, maar dan verdraai die taalding die begrip sodat hulle mekaar nie lekker verstaan nie.

Kyk, sê Groot Piet, ek het nog altyd gedink ek en jy praat dieselfde taal en met my begrip skort daar niks, maar ek glo ek verstaan nou net een ding en dit is dat jy jou varkies vir seker verloor het. En net om seker te maak jy begryp my, sal ek dit vir jou vertaal, sê Groot Piet: “Aai fink not all jôr pieks are in the hok together.”

Dit het gebeur op die klein, stowwerige dorpie in Suidwes waar Pieter Gresse Els destyds grootgeword het, sê Gert Mossie vinnig – voor Groot Piet dit dalk nodig sou ag om verdere vertalings te pleeg.

Wat gebeur het, is dat die dorpie se apteker, oom Piet Pille Petoors, besluit het dit is tyd vir vakansie en so sit oom Piet Pille af Swakop toe om te loop visvang en dies, het Pieter Gresse Els destyds vertel.

Hy weet regtig nie waar oom Piet Pille die aptekertannie gekry het wat in oom Piet se plek kom aflos het nie, het Pieter Gresse Els vertel, want die tannie kon net Engels praat en hy dink nie daar was destyds nog só ‘n mens in Suidwes nie. ‘n ‘Locum’ het hulle haar genoem.

Dit gebeur toe so in die tyd van die ‘locumtannie’ dat Pieter Gresse se pa, oom Rens Els, ‘n verskriklike omgekrapte maag opdoen. Sy ma het beskuldig dat dit iets is wat oom Rens en sy stoker eet of drink of doen as hulle die lang trajek Windhoek toe ry, want oom Rens was ‘n treindrywer: ‘n ‘Masjinis’ het party gesê en hy het gedink dis seker Ingels vir treindrywer, het Pieter Gresse Els vertel.

So stuur sy ma hom toe apteek toe met die opdrag om van die pille te gaan haal wat oom Piet Pille laas gegee het toe oom Rens ook so ‘n vreeslike loopmaag ná ‘n vorige trajek Windhoek toe ontwikkel het. “Op die boek,” het sy ma beveel.

En dis net daar in die aptekie waar die moeilikheid met moedertaal en begryp en verstaan ingetree het, sê Gert Mossie. Want Engels was vir klein Pieter Gresse Els nog vreemder as Afrikaans vir die apteektannie.

“More tannie Locum,” groet Pieter Gresse met die intrapslag. “My ma vra asseblief medisyne vir my pa se vreeslike loopmaag.” “I beg your pardon,” sê die apteektannie en klein Pieter Gresse weet hy het nou diep moeilikheid.

“Antie, my fader has a horrible walking tummy and my mudder ask medicine on the book,” probeer hy. Om die verstaan en begryp aan te help beduie Pieter Gresse so met ‘n hand wat oor die maag vryf en dan afbeweeg na waar die wortel se kwaad moet uit.

“Young man, do you mean your father has a runny tummy?” “Amper, antie Locum,” sê Pieter Gresse Els. “The tummy is walking alltime, but the legs is running short-short to the smallhouse and he need pills on the book to make it all hold up!”

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online