Parmantige kuifkop stuit selfs nie vir slange nie PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 24 July 2017 20:53
Untitled Document

Moenie dink dat houtkappers se Engelse naam ‘woodpeckers’ is nie. Hulle is bekend as ‘barbets’. Die Afrikaanse woord vir ‘woodpecker’ is ‘speg’. So gebeur dit dat ons kuifkophoutkapper ’n ‘crested barbet’ is.

In Suid-Afrika kry ons die groen-, geelbles-, rooikop-, witoor-, kuifkop- en bonthoutkapper. Dié parmantige voëls is deel van die orde Piciformes en deel dié orde met spegte, tinkers en heuningwysers. Hulle is almal boomlewende voëls met stewige snawels en tone met sterk kloue sodat hulle aan boomstamme kan vasklou. Die enigste broeiparasiete in dié orde is heuningwysers, wat hulle eiers in die neste van houtkappers, spegte en ander boswêreld-voëls lê.

Die kuifkophoutkapper, Trachyphonus vaillantii, is omtrent 23 cm lank en is die grootste van die houtkappers. Die geslagte lyk eners, maar die wyfie is gewoonlik minder helderkleurig. Die voëls word uitgeken aan ’n swart kuif en geel gesig met rooi spikkels. Die pens is geel met rooi spikkels, die vlerke is swart met wit spikkels en die voëltjie het ’n breë swart band op die nek.

Die mannetjie maak ‘n volgehoue, trrrrrr-geluid, terwyl die wyfie met ’n herhaalde poeka-poeka-geluid antwoord. As die voël opgewonde is, is die geroep stadiger, hoër en meer afgemeet.

Die kuifkophoutkapper kom voor in boswêreld, savanne, rivierwoude en voorstedelike tuine. Hy leef hoofsaaklik van insekte wat op die grond voorkom, maar vreet ook ander voëls se eiers, vrugte en soms muise. Daar is al aangeteken dat hy slange sal aanval.


Die kuifkophoutkapper
Foto: Wikipedia

Dié voël spandeer baie meer tyd op die grond as die ander houtkappers. Hy hop rond met ’n regop, astrante houding, maar as hy vlieg is die vlugpatroon direk en vinnig. Kuifkophoutkappers verdedig hulle gebied en jaag mededingers en anders voëls, soos duiwe en lysters, weg.

Die kuifkophoutkapper gebruik sy sterk snawel om sy nesopening in boomstamme te maak. Een tot vyf eiers word met tussenposes tussen September en Desember gelê. Die kuikens broei na 13 tot 17 dae uit en kom kaal en blind uit die eiers. Altwee ouers voer hulle met insekte en ontlasting word gereeld verwyder.

Kuikens verlaat die nes na omtrent 31 dae en ’n ouerpaar kan tot vyf keer in een seisoen broei.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online