Heuningbier-boom groei bykans orals PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 24 July 2017 20:52
Untitled Document

Die woord ‘karee’ kom van die Khoi-woord vir heuningbier, ‘karie’ of ‘krie’, wat van die boom se vrugte gemaak word. Stokers ken ook jare reeds die kuns om ‘n goeie mampoer van die bessies te maak.
Die karee se vrugte is eetbaar, sy blare maak ‘n goeie veevoer en hy moedig natuurlike grondstabilisering en verhoogde infiltrasie van reënwater in die grond aan.

Die boom het nie ’n aggressiewe wortelstelsel nie en kan maklik naby aan plaveisel of geteerde oppervlaktes geplant word. Hy is ’n goeie skadu-boom omdat hy immergroen en droogtebestand is.

Omdat die karee ’n geharde en rypbestande boom is, is hy ideaal om ’n rypafwerende dak vir rypsensitiewe- en skaduplante te vorm. Jy kan die karee as ’n moontlike pionierspesie gebruik as jy ’n bos bome in ’n streek waar ryp voorkom wil aanplant. Hy is ook geskik as ’n heining langs plotgrense omdat hy dig groei en as windbreker dien. 


Karee
Foto: Wikipedia

Die karee kom dikwels natuurlik voor op ’n kalkryke voedingsbodem, maar kan goed aanpas by verskillende soorte grond, ook die soorte wat sleg dreineer. Dit beteken dat hy bykans orals geplant kan word.

Wild soos koedoe, swartwitpens en gemsbok vreet die blare wat as ’n belangrike voedingsbron in droogtetye kan dien. Kareeblare is ook waardevolle veevoer, maar die gom (hars) aan die blare kan die smaak van melk beïnvloed as dit in groot hoeveelhede deur melkkoeie gevreet word.

Die bas, kleiner takkies en blare voorsien ook looisuur. In die verlede is die harde hout vir heinings, gereedskaphandvatsels en dele van ossewaens gebruik. Bakke, tabakpype en boë is ook van dié hout gemaak. 


Die vruggies
Foto: Random Harvest

Die karee, Searsia lancia, was voorheen deel van die Rhus genus, maar is nou as Searsia geherklassifiseer. Hy is ’n medium-grootte immergroen boom wat gewoonlik so sewe meter hoog word, afhangende van omgewingsfaktore.

’n Karee het meestal ’n enkele stam met lae sytakke wat ’n digte, ronde blaredak vorm. Die stam het ’n growwe tekstuur en in ouer bome is dit donkergrys of bruin terwyl jonger takke en bome ’n rooierige bruin kleur het.

Die blare bestaan uit drie dele en is donkergroen aan die bokant en ’n ligter groen onder. Hulle het geen haartjies op nie en is sekelvormig.

Die klein blommetjies is groen-geel en word van Junie tot September aan die boom gedra. Hulle het ’n soet reuk en lok bye en ander insekte. Die manlike en vroulike blomme word deur aparte bome gedra.


Die blomme
Foto: Operation Wildflower

Die vruggies is klein (tot 5 mm in omtrek) en rond en is met ’n dun glansige, vleesagtige lagie bedek.

Hulle word geel tot bruin as hulle ryp is. Die boom dra van September tot Januarie vrugte wat deur voëls soos tiptolle, tarentale en patryse gevreet word.

Die karee kan maklik van saad of stiggies gekweek word. Die ryp saad moet in saailingbakkies gesaai word en ’n goeie saailingmedium moet gebruik word. Saailinge kan na groter houers oorgeplant word as hulle die twee-blaar stadium bereik.

Stiggies kan gemaak word deur nuwe groeisels tussen September en Oktober af te sny.

Die boom groei tot 80 cm ’n jaar.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online