Die sweep het geklap . . . PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Monday, 24 July 2017 20:50
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Die sweep het geklap en die wiele by die SARS-kantore draai vinniger as ’n honger jagluiperd agter sy prooi aan.

SARS het ook aangekondig dat hulle hierdie jaar addisionele risiko-prosedures in plek het om te verseker dat die korrekte terugbetalings na die korrekte belastingpligtiges gaan. Dit beteken egter dat die terugbetalingsproses in sommige gevalle dalk langer kan neem as verlede jaar. Op 8 Julie is daar reeds 341 356 eise vir terugbetalings deur SARS ontvang.

Bedrog
SARS het ook gevra dat belastingbetalers asseblief versigtig moet wees met hulle persoonlike besonderhede. Die monster wat nou lekker kans kry om verwoesting te saai is die een van identiteitsbedrog. Ja, glo my, dit is waar. Die boewe kaap jou hele profiel en dien vals eise namens jou in.

Let asseblief op die volgende: Moenie, ooit-nie-nooit-nie op ’n skakel klik wat vanaf ‘SARS’ kom en vra vir persoonlike inligting of die gunsteling enetjie wat sê “click here to update your details for a refund”. Neeee!

Niemand van SARS sal jou skakel om jou “login” inligting en wagwoord of bankbesonderhede te bevestig nie. Niemand van SARS sal jou skakel om jou terugbetaling te bevestig nie. Jy sal ’n ITA34 ontvang sodra jou opgawe ingedien is.

Wees asseblief baie versigtig en skakel die ‘Anti-Corruption and Fraud Hotline’ by 0800-00-2870 indien jy enige vreemde aktiwiteit op jou profiel bespeur.

Anders
Hierdie jaar lyk die vormpie effens anders by die gedeelte vir die mediese uitgawes. Indien jy lid van ’n mediese fonds is, sal die inligting reeds verskyn soos dit vanaf die fonds ontvang is.
Let op dat die kode 4005 ook nou verskyn en ingevul moet word. Dit sal nie outomaties vanaf die kode 4005 op die IRP in berekening gebring word soos in die verlede nie. 

Die vorm maak ook voorsiening om die uittree-annuïteit se polisnommer en naam van diensverskaffer te voltooi.

Veilig “file” en skakel SARS gerus vir enige probleme en navrae: 0800-00-7277. Maak gebruik van hulle terugbel-opsie in hierdie tyd wat hulle oorlaai word met oproepe.
Belasting-groete!

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online