Die Stem koop ?n kerkdak PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 23 February 2009 20:11
Untitled Document

Onthou jy die dae, lank, lank gelede, toe almal dadelik op aandag gespring het met die aanhef van die volkslied? Maak nie saak waarmee jy besig was nie, as ‘Die Stem’ iewers binne jou hoorafstand gespeel of gesing word, dan staan jy op en jy staan stil tot dit klaar is. Dit laat my dink aan ’n storie wat ou Hannes Celliers uit sy kinderjare op ’n Vrystaatse dorpie vertel.

Dit was een mooi Sondagmore, vertel ou Hannes, dat die koster Oudominee erg ontstig het. Die orrelis het nie opgedaag nie, kom kondig hy in die konsistorie aan. “Maar toe maar, Dominee,” sê hy, “hy het ’n plaasvervanger gestuur.”

Dit stel Oudominee glad nie tevrede nie, want hy’t dié more ’n verskriklike probleem. Die herstelwerk aan die kerkgebou se dak het veel meer gekos as waarvoor die kerkraad begroot het. Oudominee wikkel met sy ronde lyfie die treetjies op na die orrelgalery. Bo steek hy eers vervaard vas, want voor die orrel sit ’n vrou.

“Suster,” sê hy nadat hy tot verhaal gekom het, “ek moet vanmore ’n gewigtige aankondiging oor die kerkraad se geldsake doen. Jy moet solank begin dink watter stuk jy daarna gaan speel.”

Na afloop van sy preek maak hy hard keel skoon en sê, “Liewe gemeente, ek het vanmore ’n moeilike aankondiging om te doen. Die herstelwerk aan ons kerk het duisend pond meer gekos as waarvoor ons geld het. Ek wil vra dat elkeen wat dit in sy hart kan vind om tien pond daarvoor by te dra nou sal
opstaan . . .”

Dis op daardie oomblik dat die plaasvervanger-orrelis lostrek met “Uit die blou van onse hemel . . .” En dit is hoe dit gekom het dat die plaasvervanger die permanente orrelis geword het.

Toe kindwees baie anders was

So sit ek anderdag en kyk hoe ’n span bogkinders met hulle ‘kwadbaaiks’ hier op die plotpaaie rondrits en hoe enetjie van seker so tien jaar oud, nogal so in die ry met sy selfoon teen die oor sit en klets. En toe verlang ek na die dae toe kindwees só baie anders was.

Ek praat nou van die tyd van wegkruipertjie, donkermannetjie en ‘tippie- touch.’ Van die kafee op die hoek, en rakbie of krieket in die agterplaas of sommer in die straat. Groot speeltyd by die skool was ‘alie’-tyd. Of jy het bok-bok of kennetjie gejol terwyl die meisiekinders hulle besig hou met touspring of ‘hop-scotch’ en ander sissie-goed. Dit was die tyd van swem in die rivier, ’n swaai maak van tou met ’n stuk besemstok vir sitplek aan die groot boom in die hoek, foefieslaaids, boomhuisies, bendegrotte en baaisiekels.

Die reuk van kleinkoekies of beskuit in die kombuis, gemmerbier, kênvroet en droëvrugte in die spens en kougom of Wilson toffies vir ’n pennie, roomys vir ’n tiekie en ’n milkshake vir ’n bietjie meer in die hoekkafee. Onthou jy?

Jy het skool toe geloop of fiets gery, maak nie saak van die weer nie. ’n Stukkie karton in die speke het jou fiets laat sing. Jou wapens by die skool was waterbomme en peashooters. Ná skool was dit kleilatte en ketties en as die grootmense jou vang dat jy laasgenoemde vir die verkeerde redes gebruik, dan het jou bas gebrand en niemand het ’n wenkbrou daaroor gelig nie.

Onthou jy toe die enigste tekkies wit seilskoene was, maar die enigste keer wanneer jy dit mag dra was vir ‘pieetiee’. En toe jy moes gesigwas en mooi aantrek as daar dorp toe gegaan word? Dit was nie vreemd om twee of drie ‘beste’ maats te hê nie. Die ergste wat jy van die ‘ander’ geslag kon kry was kieme.

As jy gelukkig was het jy 25c vir sakgeld of vir die kermis gekry.

Almal se ma’s was by die huis as die skool uitkom.

Kan jy nog die dae voor kwadbaaiks, rekenaarspeletjies, selfone en I-pods onthou? As jy kan, wees baie dankbaar daarvoor.

 

© 2019 Die/The Bronberger