Kultuurfees lê magdom talent bloot PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 24 July 2017 20:40
Untitled Document

Die kunsafdeling van die jaarlikse Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys (BCVO) Kultuurfees het besonderse talent blootgelê. CVO leerlinge kry jaarliks geleentheid om in verskeie afdelings aan die BCVO Kultuurfees deel te  neem: Vanaf redenaars, toneel, voordragte, sang en musiek tot literêre werk, beeldende kuns, fotografie en kunsvlyt.

Leerlinge neem eers plaaslik by die 37 CVO skole landswyd deel. Die beste inskrywings dring na die streeksrondte deur. Dié jaar is ongeveer 1 600 stukke op streekvlak beoordeel.


Tekenwerk

Die bestes van elke streek dring dan na die nasionale rondte deur waar elke inskrywing weer deur onafhanklike beoordelaars beoordeel word.

Meer as 400 items het in ses kategorieë as streekwenners na nasionale vlak deurgedring. Dié kunswerke word by die BCVO, die sambreelmaatskappy waarby CVO-skole geaffilieer is, se kantore in Garsfontein uitgestal.

Een van die beoordelaars,  Anne-Marie le Roux, het opgemerk dat daar dié jaar soveel meer mooi en kwaliteit stukke as in die verlede is en dat die kinders ware kuns gelewer het.


Callista van Tonder, ‘n graad sewe leerling, se skildery

“As beoordelaar is dit vir my belangrik dat ’n kind se eie handvaardigheid en tegniek so vroeg moontlik ontwikkel en gestimuleer word. As hulle tegnies vaardig raak, kan hulle later soveel makliker uitdrukking gee aan hulle idees sonder om te wonder watter metode of tegniek om te gebruik. Die kunsstuk moet ’n bestaansreg van sy eie hê en nie net tegnieke demonstreer nie. Dit moet ’n storie vertel en die kyker visueel trek,” sê sy.


Skilderwerk en kunsvlyt

Onderskat
Volgens Lucia van Wyk, uitvoerende hoof van BCVO, word die belangrikheid daarvan om kuns te stimuleer in die oorvol skoolkurrikulum so maklik onderskat. Kuns en musiek is gewoonlik van die vakke wat maklik en eerste uitgefaseer word as daar finansiële of tydsdruk is. 

Kuns is universele kommunikasie sonder taalstrukture, spelling, leestekens en woordkeuses, ’n manier van kommunikeer waar selfs die leerling met leerprobleme suksesvol kan wees. Dit strek oor taalgrense en is nie net ’n goeie tydsverdryf nie. Dit stimuleer die brein om probleme op te los en keuses te maak.

In Japan word die kreatiwiteit en inisiatief van entrepreneurs direk toegeskryf aan die belangrike rol wat kuns in hulle skoolkurrikulum speel.


Skilderwerk en ander media
.

Uitbeelding van Skepping en die ou kar beeld ’n skrootwerf uit

Uitdruk
Danél van Wyk, een van die deelnemers, sê: “Kuns is soos my inkleurkryte en die lewe my inkleurboek. Ek neem nou al vier jaar kunsklasse. Dit was nog altyd vir my makliker om myself in prentjies uit te druk as in woorde.” 

Kuns bou verhoudinge en ontwikkel talente. Pieter van Schalkwyk sê dat sy ouma hom geleer skilder het en dat hy graag só tyd saam met haar spandeer.


Skilderye

Kuns leer leerlinge om te waag, te probeer, inisiatief te neem. Luzaan van Schalkwyk sê sy gebruik dit as geleentheid om haar kreatiwiteit vry te stel en na sy die eerste skildery ingegee het, het sy besef hoe lekker dit is. Nou probeer sy elke jaar ten minste een skildery ingee vir beoordeling. 


Houtbrandwerk genaamd ‘Nagsluiper’ deur Almero Roux in graad agt

Ontwikkeling
Navorsers wat die kreatiewe ontwikkeling in jong kinders bestudeer het bevind dat eksperimentering, verkenning, uitvinding en verbeelding die basis vorm vir hoër kognitiewe ordes soos sinteses, ondersoek, gevolgtrekkings en navorsing.

Volgens die BCVO moet kritiese en kreatiewe denke hand-aan-hand ontwikkel word. Leerlinge kom ook agter dat daar meer as een moontlike oplossing is en dat alles nie net een regte oplossing het nie.


Inskrywings in die skilder-kategorie

Akademiese prestasie verhoog na mate leerlinge se kreatiwiteit ontwikkel en gestimuleer word. Die BCVO noem dat studies in Amerika bevind het dat leerlinge wat drie keer per week kuns neem of met kuns werk, ’n vier keer beter kans het om akademies uit te styg, veral in wiskunde, wetenskap en tale.

Dit is veral die vermoë om opstelle en gedigte te skryf wat merkbaar verbeter. Dié leerlinge se konsentrasie het ook verbeter. Hulle is meer ontspanne, het meer selfvertroue, is positief en doelgerig.


Inskrywings in die fotografie-afdeling

Vakansie
“Kuns is vir my soos vakansie,” sê Anja van Wyk. “Dit laat my heerlik ontspan, veral saam met my kunsmaats. Ek neem al van Gr R af kuns. Ons kan nie wag vir elke jaar se kunstemas nie. Ons werk met verskillende mediums en my gunsteling is akrielverf en potloodsketse.”

Die BCVO-Kultuurfees waar leerlinge teen mekaar deelneem in die voordra van gedigte, monoloë, toneel, kore, musiek en redenaars is op 18 en 19 Augustus in Lichtenburg. Die wenners in die kunsafdelings sal dan ook hulle trofeë ontvang.


Skepping en ’n horlosie in die agtergrond

 

 

 

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online