KragDag: Van ossewa tot robotika PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 24 July 2017 20:39
Untitled Document

Dertien-duisend mense het die negende KragDag Ekspo, wat van 15 tot 17 Junie by die Diamantvallei Landgoed op Rhenosterfontein gehou is, bygewoon.


Besoekers kon vrae vra oor die toerusting wat uitgestal is

Daar was ’n verskeidenheid van selfstandigheidsoplossings, kultuur, avontuur, tegnologie, koopgenot, kennis en kuier. Op die drie hektaar ekspo-terrein was daar vanjaar 300 uitstallers met ’n gesamentlike winkelfront van sowat 2,5 km.


Die plaasdieruitstalling deur die Mpumalanga Landbou Jeugskou

Die alternatiewe energie-oplossings by KragDag 2017 het ’n sonkrag-aangedrewe motor van die Tshwane Universiteit van Tegnologie ingesluit en BMW se i3 elektriese motor. ’n Nuwe toevoeging was uitstallings oor die tegnologiese doen-dit-self makerbeweging, waardeur vervaardiging van dinge en aktiwiteite wat voorheen net deur gesofistikeerde groot ondernemings moontlik was, nou na die maker in sy huis terug gebring word. Dit sluit in dinge soos hommeltuie, 3D drukkers, robotika en die Internet-van-dinge.


Daar was volop te ete

’n Tegnologie wat dié jaar toenemende prominensie geniet het, was kriptografiese geld (onder andere Bitcoin) en blokstring toepassings, met ten minste vier aanbiedings in die KragDag raadsaal. Ekonoom Dawie Roodt het in sy aanbieding ’n insiggewende vooruitskouing oor ons ekonomiese toekoms verskaf en ook verwys na die beoogde kriptografiese betaalmiddel wat hulle saam met die KragDag-organiseerders ondersoek.


Nuwe Suid-Afrikaanse patente is uitgestal

In die raadsaal was daar 22 aanbiedings oor ’n wye spektrum onderwerpe vanaf voedselproduksie in jou agterplaas, veiligheid en mediese selfstandigheid tot entrepreneuriese aanlyn-bemarking, toeganklike internasionale eiendomsbeleggings, finansiële onafhanklikheid, alternatiewe en energie-vriendelike boumetodes en berekening van jou huishouding se energiebehoeftes.


Die Trekboervereniging se uitstalling van vyf kakebeenwaens

Dié aanbiedings sal ook binnekort op KragDag se webtuiste, www.kragdag.co.za, besigtig kan word.
Naas die gewone opvoedkunde sub-ekspo, gerig op tuis- en private onderwys, is vanjaar ook spesiale aandag gegee aan tersiêre instellings wat alternatiewe bied vir staatsbeheerde universiteite, tegnikons en kolleges.


‘n Verskeidenheid praatjies is gelewer

Vermaak het ingesluit ossewa-ritte, helikopterritte, ‘n gratis opvoedkundige speelruimte, pretpark, ’n klassieke musiek-fabriek, ’n plaasdieruitstalling deur die Mpumalanga Landbou Jeugskou en ’n band-omdop kragvertoning.


Arendsoog op ‘n gedeelte van die KragDag Ekspo

Die Trekboervereniging se uitstalling van vyf kakebeenwaens en hulle lewendige en lewensgetroue demonstrasie van die Voortrekkers se pioniersleefstyl met die Groot Trek het groot byval gevind.


Die kapingsimulasie, waar gyselaars verlos is deur gewapende manne wat met toue uit ‘n Alloutte II helikopter afgekom het

Daar was ook ’n kapingsimulasie, waar gyselaars verlos is deur gewapende manne wat met toue uit ‘n Alloutte II helikopter aarde toe gekom het.


Besoekers aan die ekspo

 

 

 

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online