Ysterperdryers bied helpende hand vir haweloses PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 24 July 2017 20:16
Untitled Document

‘n Groep motorfietsryers reik uit na ’n tehuis vir getraumatiseerde en hawelose mense net buite Rayton en vra Bronnie-lesers om te help.

Kairos, geleë op plot 18, Elandshoek, is ’n nie-winsgewende instansie en bied ’n tuiste vir mense wat nie na hulle self kan kyk of ander huisvesting of versorgingsfasiliteite kan bekostig nie. Kairos kry geen staatshulp nie.


Van links na regs: Willem de Beer, president van die landelike tak van Silent Soldiers MC, Elouise Roos van Silent Soldiers MC, Susan van Niekerk, eienares van Kairos, en Kenny Kemp, president van Silent Soldiers MC se Centurion-tak
Foto’s: Elouise Roos

Elouise Roos van Grootfontein-landgoed is deel van die motorfietsgroep, Silent Soldiers MC se Centurion-tak. Sy sê die tehuis bestaan meestal uit oud-Weskoppiespasiënte en vertel dat hulle motorfietsgroep Kairos besoek het om die plek te verifieer en dat hulle die eerste naweek in Julie gaan geskenke en kos uitdeel het.


Kairos se mense

Elouise sê dat 180 mense tussen die ouderdomme van drie en 93 jaar daar tuisgaan. Slegs drie outjies het die vermoë om te help om die sale in kamers en badkamers met afskortings te omskep.

Sy vra of Die Bronberger se lesers kan help om bydraes te maak vir rolstoele, kos, matrasse en klere. Daar is so twee jaar gelede drie tonnels vir hulle opgesit en die inwoners bewerk dit.


Die kleinhoewe waar Kairos gevestig is

“Enige iemand wat skenk is welkom om saam met ons te gaan as ons dit gaan afgee om te sien waarheen die skenkings gaan,” sê Elouise. “Geen skenking word gemors nie.”

Elouise sê hulle kan reël dat skenkings van dwarsoor die land deur Silent Soldiers-lede opgelaai word en so deurkom na Pretoria-Oos, van waar dit by Kairos afgelewer sal word.


Willem de Beer by een van die geboue op die kleinhoewe

Silent Soldiers is aanvanklik gestig om te help met die trauma waardeur jong mans, wat tussen 1966 en 1989 in die grensoorlog was, gegaan het. Baie van dié wat dit lewendig terug gemaak het, het gesukkel om weer in die samelewing aan te pas.


Geskenkte matrasse voor Kairos se houthuisies

As jy ’n skenking aan Kairos wil maak, bel Silent Soldiers se Elouise Roos by 082-767-9510 of Kenny Kemp by 079-918-0480.

Vir meer inligting oor Kairos-huis, bel Susan van Niekerk by 082-825-5343 of besoek www.kairoshuis.co.za.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online