Deurpad wat gebied vir ewig verander weer onder oë PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 24 July 2017 20:07
Untitled Document

’n Openbare vergadering oor die PWV17, ’n deurpad wat die gesig en aard van die Bronberg-gebied vir ewig sal verander, word op 25 Julie gehou.

Die vergadering vorm deel van die omgewingsimpak-evalueringsproses en word vanaf 6.30 nm tot 8 nm by die Maragon Private Skoolsaal (Doxa Deo) op die hoek van Atterburyweg en Olympusrylaan gehou.
Mense het tot 4 Augustus tyd om die konsep omgewingsimpak-evalueringsverslag te bestudeer en kommentaar daarop te lewer. Die verslag is op Bokamoso Landskapsargitekte en Omgewingskonsultante se webtuiste, www.bokamoso.net. ‘n Kopie is ook beskikbaar by Plantland The Wilds, oorkant die Maragon Private Skool.

Die voorgestelde deurpad gaan deur die volgende gebiede loop: Tweefontein 19 JR; Hatherley 331 JR; Zwartkoppies 364 JR; Mooiplaats 367 JR; Tiegerpoort 371 JR; Zwavelpoort 373 JR; Grootfontein 394 JR; Elandsfontein 412 JR; Tweefontein 413 JR en Bashewa kleinhoewes nommer een en twee op die plaas Tweefontein 413 JR.

Die deurpad sal by die beplande PWV5-pad aansluit by ‘n punt suid van die Delmaspad en oos van Elandsfonteinweg op die plaas Elandsfontein 412 JR, gedeelte 75. Die voorgestelde roete en alternatiewe opsies strek van daar af noordwaarts en gaan die volgende paaie kruis: Garstfonteinweg óf op Grootfontein 394 JR, gedeelte een, of Tiegerpoort 371 JR, gedeeltes 2, 28, 245 en 235; Lynnwoodweg (Grahamweg) op Zwavelpoort 373 JR, gedeeltes 299 en RE/250; en die Boschkoppad op Zwavelpoort, gedeelte 43 en 34.


Die voorgestelde roete en alternatiewe opsies vir die PWV17 deurpad wat deur Tweefontein, Hatherley, Zwartkoppies, Mooiplaats, Tiegerpoort, Zwavelpoort, Grootfontein, Elandsfontein en Bashewa gaan loop

Die pad strek tot ‘n punt oos van Silver Lakesrylaan op Zwartkoppies 364 JR waar dit by die beplande Hazeldean-afrit van die N4-Witbanksnelweg gaan aansluit. Dié aansluiting vorm egter nie deel van hierdie evalueringsproses nie.

In November 2015 het ons berig dat ’n openbare deelnameproses vir dié deurpad aan die gang was. Bokamoso Landskapsargitekte en Omgewingskonsultante is deur die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer aangestel om die omgewingsimpakstudies vir die PWV17 te behartig.

Weens die groot hoeveelheid kwessies rondom die deurpad is dit in 2015 besluit om die aansoek aan die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling te onttrek en om ‘n hersiene konsepverslag vir die deurpad op te stel.

In Desember 2016 het ons berig dat ’n tweede fase van openbare deelname van stapel gestuur is.

Hendrik van Zyl, ontwikkelingsbestuurder vir die Hazeldean-dorpsgebied langs Silver Lakes het bevestig dat Hazeldean se ontwikkelingspan die omgewingsgoedkeuring vir die bou van ’n N4-afrit gekry het. Die pad is klaar ontwerp en verskeie goedkeurings van al die relevante padowerhede is gegee.

Die beplanning was dat bouwerk aan die Hazeldean-afrit van die N4-Oos snelweg in die derde kwartaal van 2016 sou begin. In November 2016 het Hendrik egter laat weet dat, met die verandering in die plaaslike owerheidstruktuur sowel as die besware van verskeie grondeienaars, die proses vertraag is.

Om uit te vind hoe beplanning aan die PWV17 deurpad nou verloop, kan die openbare vergadering op 25 Julie bygewoon word. Vir meer inligting, skakel Bokamoso Landskapsargitekte en Omgewingskonsultante by 012-346-3810 of stuur ‘n e-pos aan: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Die kontakpersone is Lizelle Gregory en Lizette Delport. Praat met Juanita de Beer oor die openbare deelnameproses.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online