Onthoringde Rietvlei-renoster nogtans gestroop PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 24 July 2017 20:04
Untitled Document

Stropers het ’n 40-jarige renosterkoei, bekend as Ma Koei, by Rietvlei Natuurreservaat doodgemaak. Rietvlei-bestuurder, Adelene Marais, sê Ma Koei is op 7 Julie gevind en daar word vermoed dat sy tussen 5 en 6 Julie geskiet is.

Dit lyk asof die stropers twee renosters in die oog gehad het – manlik en vroulik. ’n Ander renoster is op 1 Julie geskiet, maar kon wegkom. Bewaarders het gesien dat die renoster kruppel loop en by nadere ondersoek is dit gevind dat hy geskiet en gewond is. Hy is nie ernstig beseer nie.

Dit wil voorkom asof die stropers nie bewus was dat die renosters onthoring is nie. Alle renosters in dié reservaat word onthoring.


‘n Volwasse Rietvlei-renoster voor die strooptog afgeneem deur Gerhard Scheepers

In ‘Rietvlei se oorlewende renosters onthoring ná strooptog’ in Junie 2016 het ons berig dat Rietvlei Natuurreservaat nege van hulle volwasse renosters se horings verwyder het ná twee renosters, een ‘n dragtige koei, op 26 Mei deur stropers doodgemaak en onthoring is.

Die reservaat was toe vir ’n ruk gesluit en die oorlewende renosters is weer onthoring, maar die horings groei tussen 4 cm en 7 cm ‘n jaar.  

In Oktober 2013 is vyf swaar gewapende verdagtes in hegtenis geneem toe hulle die natuurreservaat probeer binnegaan het.


’n Onlangse foto van Hermann Grobler wys duidelik ’n onthoringde renosterkoei by Rietvlei

Rietvlei-bestuurder, Adelene Marais, sê die bewaarders doen alles binne hulle vermoë om die renosters te beskerm. Hulle doen nagpatrollies en gee hulle tyd en lewens vir dié renosters. Sy sê dat die Veediefstaleenheid die saak ondersoek.

Volgens die Wildernisstigting gebruik stropers gesofistikeerde tegnologie soos hommeltuie (drones), helikopters en nagsig-toerusting om renosters dop te hou.

Renosterhorings word na lande in Asië uitgevoer waar kopers die horings sien as ’n seksstimuleermiddel, as kankergenesend en ’n behandeling vir babelaas.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online