Ons beste advertensie PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 24 July 2017 19:58
Untitled Document

Ná bykans 15 gesonde bestaansjare, kry ons steeds sporadies navrae oor watter groep of organisasie ons finansieel en andersins rugsteun: Wie se knuppeldik geldkoffers en ideologieë sorg daarvoor dat dit moontlik is om ‘n publikasie met die gehalte van Die Bronberger volhardend uit te gee?

Die antwoord wat ons gee, word meestal met verstomming, ongeloof en skeptisisme ontvang: Die Bronnie staan heeltemal onafhanklik van enige publikasiegroep, politieke- of ideologiese groepering. Dit word in sy geheel deur ‘n handjievol mense uitgegee en in sy totaliteit gerugsteun deur ons baie unieke lesersgemeenskap en uitsonderlike adverteerders.

Slegs deur die meelewing van ons lesers, die ondersteuning van ons adverteerders en die genade, kon die voortbestaan en selfs groei oor 15 jaar heen gehandhaaf word.

Die vraag wat voorspruitend hierop kan volg, is: Hoekom maak dit dan goeie sin om in Die Bronberger te adverteer?

Voor ons enkele antwoorde op dié vragie gee, net nog ‘n bietjie agtergrond: Ná ‘n baie stadige begin het ons deur die jare die ruggraat van ‘n aantal gereelde adverteerders gevestig. Adverteerders wat die waarde van ‘n advertensie in Die Bronberger ervaar het en daarmee volhard.

Hoekom werk ‘n advertensie in Die Bronberger vir hulle en hoekom sal dit ook vir jou en vir ander werk? Die paar antwoorde op dié vraag is nie uit die lug gegryp nie, maar is gegrond op feite wat deur jare se waarneming, terugvoer en navorsing bepaal is:

  • Die Bronberger is uiters gewild onder sy lesers. ‘n Baie lojale leserskorps is oor ‘n wye gebied gevestig: Lesers wat Die Bronberger met bykans besitlike trots as ‘hulle eie’ koester. Die meelewing van ons lesers is ongekend in die lang en wye publikasie-ervaring van Die Bronberger se eienaars. Dié lojaliteit en vertroue in die tydskrif se geloofwaardigheid deur sy lesers, lei ook direk tot die vrymoedigheid en wilsbesluit om sy adverteerders te ondersteun.
  • Die koopkrag van ons gereelde lesers is iets om mee rekening te hou. Die verspreidingsgebied van Die Bronberger sorg daarvoor dat ‘n baie groot persentasie van sy lesers in ‘n hoë inkomstegroep val.
  • Die lang ‘raklewe’ van die Bronnie sorg vir ekstra blootstelling. In baie huishoudings sal jy dié glanstydskrif vir maande of langer op die koffietafel sien. Daar word gereeld teruggegaan na ‘n uitgawe om iets na te slaan. ‘n Groot aantal lesers gooi nie ‘n enkele Bronnie weg nie, en baie hou elke uitgawe op lêer.
  • Ons sorg dat ‘nuwe bloed’ elke maand aan Die Bronberger blootgestel word. Behalwe vir ons gereelde verspreidingspunte, hou ons maandeliks ‘n aantal tydskrifte eenkant wat telkens aan ‘nuwe lesers’ versprei word. Ons doen dit deur wisselend van ander verspreidingspunte gebruik te maak.
  • Die uitlegmetode wat ons gebruik verseker dat jou advertensie deur lesers raakgesien word.

Anders as die meeste tydskrifte, wat advertensies in groepe op agtereenvolgende bladsye saambondel en dan weer ‘n aantal bladsye aan redaksionele inhoud afstaan, maak ons seker dat jou advertensie altyd neffens ons gewilde stories, artikels en rubrieke is.

Ons kan ook oor die gehalte van ons papier en ons drukwerk, ons lae pryse, ons afslag-pakkette en gratis uitlegdiens praat en ook etlike ander redes opdiep wat die voordele van ‘n advertensie in Die Bronberger uitlig. Maar ons sal volstaan deur die lof en die dank voor die deur van dié adverteerders wat jaar na jaar, elke maand adverteer en aan ons lesersvriende wat die ondernemings ondersteun, te lê. Julle is óns heel beste advertensie . . .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online