Padvark PDF Print E-mail
News - Briewe
Monday, 24 July 2017 19:54
Untitled Document

Juanita Jamneck van Liberty Stalle op Mooiplaats skryf:
Aan die persoon wat ’n paar weke gelede op die Boschkoppad vir ongeveer 5 km agter ’n ou dame met twee klein kindertjies in haar motor gery het, al die pad vir haar toeter geblaas het en by die stopstraat by Grahamweg uit sy motor gespring het om op haar te skree: Baie geluk, meneer! Jy het daarin geslaag om ’n sesjarige en ’n agtjarige te terroriseer.

Jy voel seker baie trots? Jou optrede het veroorsaak dat ’n klein dogtertjie nou te bang is om saam met haar ouma te ry en nou die sport waarvoor sy baie lief is, gaan staak.

Die ouma was op pad huis toe na die kinders se perdrylesse en het omtrent 60 km per uur gery, duidelik nie vinnig genoeg vir dié meneer, wat seker soos al die ander Boschkoppadgebruikers
140 km per uur wou ry nie.

Jy, meneer die Padvark, kon op enige stadium by haar verby gejaag het en, as jy dalk daaraan gedink het om by die voorgeskrewe spoed te hou, wat deesdae 80 km per uur op die Boschkoppad is, sou dit steeds moontlik gewees het om verby te kom, sonder om ’n “scene” te maak.

Ek haal my hoed af vir die ou dame wat by die stopstraat uitgeklim het en vir jou gesê het om jou te gedra en terug te klim in jou motor. Ongelukkig was die skade gedaan en die kind wil nou nie meer saam met die ouma ry nie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online