Aanval op Van Rensburgs nie by Que Sera nie PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 27 June 2017 03:58
Untitled Document

In die Junie-uitgawe van Die Bronberger is verkeerdelik berig dat die aanval op die Van Rensburg-egpaar van Welbekend en die moord op Bert van Rensburg by die Que Sera-oord langs die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad plaasgevind het. Daar is ook geïmpliseer dat die Que Sera-oord onveilig is, wat nie die geval is nie en bied ons onvoorwaardelik ons verskoning aan die eienaars van Que Sera aan.

Die voorval was nie by Que Sera nie, maar wel op die egpaar se hoewe in die omgewing. Ons vra om verskoning aan ons lesers vir die feitefout en die foutiewe beriggewing en ons aanname dat die inligting wat aan ons deurgegee is, korrek was.

Bert is op 25 Mei op die egpaar se Welbekend-hoewe uit sy huis geneem en is in ’n knielende houding van agter af deur sy nek en kop geskiet. Sy vrou, Bets is aangerand.

Bets het net voor 8 nm die alarm hoor afgaan, maar het dit geïgnoreer omdat hulle kat dit glo gereeld per ongeluk aktiveer. Knap daarna het vyf gewapende aanvallers haar oorrompel toe sy soos elke ander aand uitgegaan het om die motorhuis te sluit.

Sy is in die huis ingeneem, waar sy en haar man, altwee 69 jaar oud, geboei is. Hulle buurman het vertel dat die saggeaarde egpaar steenkool verkoop het en dat die geld wat in die huis sou wees, die aanvallers se teiken was.

Que Sera is ‘n gewilde oord en funksielokaal op die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad (R25), halfpad tussen Garstfontein- en Lynnwoodweg. Dié oord huisves ook ‘n kuierplek vir motorfietsryers en bied gerieflike vakansie- en oornagverblyf. Vir meer besonderhede kan hulle gekontak word by 082-926-3889 of 082-561-4961.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online