’n Spoorlyn, ’n spook en ’n span Hollanders deel ou huis se verhaal PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 27 June 2017 04:26
Untitled Document

Angie Kleijn

Mea Vota se spook is een van die bekendstes in Pretoria. Spookbustoere doen gereeld aan by dié 1898 gastehuis in Rissikstraat 62, Sunnyside en dié wat die verskynsel al gesien het, sê sy lyk ‘n bietjie soos Marilyn Monroe.

Mense wat in die gastehuis oorbly hoor glo gereeld die geluid van water wat intap, hoë hakke wat rondloop en ’n baba wat huil. Wie was die vrou wat mense die skrik so op die lyf jaag? Ons het probeer uitvind wie almal oor die afgelope 119 jaar in dié huis gewoon en werk het.

Sedert 1898 was dit ‘n woonhuis, ‘n koshuis, kantore, ‘n museum, kulturele bestemming en deesdae ‘n gastehuis wat aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie behoort.


Mea Vota van die straat af gesien, omring deur Sunnyside se woonstelle
Bron: able.wiki.up.ac.za

Die naam ‘Mea vota’ beteken ‘my wense’, maar dié naam is eers vanaf 1915 gebruik. Die huis staan ook as die Nederlands Zuid-Afrikaanse Spoorweg Maatschappij (NZASM) gedenkhuis bekend.

Die NZASM het ontstaan uit die ZAR se strewe na ‘n eie verbinding met ‘n nie-Britse seehawe ter wille van kontak met die buiteland. Die maatskappy is in 1887 in Amsterdam gestig om ‘n spoorwegverbinding, die Oosterlijn, tussen Pretoria en Delagoabaai (Maputo) te bou. 

Die aanleg en bedryf van amper alle spoorweë in die ZAR, soos die Randtrem tussen Boksburg en Johannesburg, was in die hande van dié maatskappy, wat ook vir die oprig van verskillende geboue in Pretoria verantwoordelik was.

Twee NZASM-ingenieurs, Cornelis van der Made en Antonie Westerberg, is in 1896 van Waterval-Boven na Pretoria verplaas. Hulle het besluit om die middelste gedeelte van erf agt in Sunnyside te koop, waar hulle ‘n huis wou laat bou.


Die spook by die venster van Mea Vota-gastehuis is deur Charis Pretorius-Jacobs met ‘n spookbustoer geneem

De Rapper
Antonie het as argitek en ontwerper van die huis opgetree en verskeie bronne noem dat die bou-aannemer waarskynlik Wilhelm Alexander de Rapper was, na wie De Rapper- en Wilhelmstraat in Sunnyside vernoem is.

Wilhelm is in Gelderland, Zuid-Holland gebore. Na sy eerste vrou, Aukje Tjeers de Jong, oorlede is het hy in 1871 met Maike Lintzens Kingma getrou. Wilhelm en Maike het in 1886 met hulle ses kinders na Pretoria getrek en het aanvanklik in Bloedstraat gewoon.

Wilhelm het die gesin se woonhuis in 1897 in Celliersstraat 57, tussen Park- en Esselenstraat, Sunnyside, gebou. Die hele stuk grond aan die westekant van Celliersstraat, vanaf Walkerspruit tot bykans Esselenstraat, het aan hom behoort.


Mea Vota in Rissikstraat 62, Sunnyside
Bron: Wikimedia

Sy vrou Maike is op 31 Oktober 1901 oorlede en Wilhelm het tot sy dood op 13 Augustus 1912 in die huis gewoon.

Hy het ‘n hele paar ander huise in Pretoria gebou, soos dié in Troyestraat, tussen Rissikstraat en die spoorlyn. Hy het ook die Arcadia Verpleeginrigting op die hoek van Park- en Troyestraat gebou, die ou De Rapper Cottages, en trembrûe vir die NZASM.

De Rapper Cottages het aanvanklik as De Rapper’s Terrace, met 13 inwoners, bekend gestaan. Dit was in Pretoriusstraat tussen Du Toitstraat en die Apiesrivier. In ou Pretoria was daar ook ‘n De Rapper’s gebou op die suidoostelike hoek van Mark- en Schoemanstraat.


Die gedenkbord by Mea Vota, aangebring deur die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede
Bron: able.wiki.up.ac.za

Der Made
Die dubbelverdiepinghuis wat Wilhelm vir die twee NZASM-ingenieurs, Cornelis van der Made en Antonie Westerberg, gebou het, het die leidende modegiere van die laat 19e eeuse Hollandse argitektuur met tipiese gipsplafonne, koepel, balkonne en stoepe weerspieël.

Interessant genoeg is ‘n spoorstaaf in die boonste badkamer ingebou. Die nommer 1898 is in die voorkant van die staaf gegiet, wat dan ook die jaar wat die huis voltooi is, aandui.


Die ingangsdeur
Bron: able.wiki.up.ac.za

Die huis is tussen April en Augustus 1898 gebou en die twee NZASM-ingenieurs het vanaf September daardie jaar daar gewoon. Hulle het egter nie lank in die huis gebly nie. Die Engelse Oorlog het in Oktober 1899 uitgebreek en in Junie 1900 is Pretoria deur die Britse troepe beset. Kort daarna is alle Hollandse burgers, insluitende Cornelis en Antonie, na Europa gedeporteer.

Baie huise in Sunnyside is deur Britse amptenare en offisiere as kwartiere gebruik en dit is waarskynlik dat Cornelis en Antonie se ontruimde huis só beset is tot die einde van die oorlog in 1902.


NZASM Gedenkhuis
Bron: able.wiki.up.ac.za

Hendriks
Ná die oorlog het GW Southgate, oor wie min bekend is, in die huis gebly. Iewers tussen 1913 en 1916 het die Hendriks-gesin daar ingetrek en vir ‘n ruk het majoor Thomas Kroon, oud-offisier van die ZAR Staatsartillerie en in diens by die NZASM, saam met hulle daar gewoon.

Dit is in dié tyd wat die huis Mea Vota gedoop is. Terwyl die Hendriks-gesin die huis besit het, is hy vir ‘n ruk aan die Pretoriase Onderwyskollege as studente-koshuise verhuur.

Daarna het die huis aan ‘n mev KS Noel-Barham behoort en met haar belangstelling in amateur-teater het die huis in ‘n gewilde kulturele sentrum ontaard.

In daardie tyd het belangstellendes in die bewaring van historiese huise besluit om die Vereniging Willem Punt te vorm met die doel om Mea Vota te koop, te restoureer en te bewaar.


Mea Vota ‘n aantal dekades gelede
Bron: repository.up.ac.za

Dié vereniging is op 10 Augustus 1976 gestig met die gedagte om ‘n gedeelte van die huis as museum te gebruik om die volgende te vereer: Die ZAR uit die tydperk van Paul Kruger; oudstryders 1899–1902; die NZASM; ZARP offisiere en manskappe; en die ZAR se staatsamptenare, predikante, argitekte en bouers, medici en kultuurleiers.

Mev Noel-Barham was bereid om die huis vir R32 000 aan die Vereniging Willem Punt te verkoop as die oordrag teen die einde van 1978 kon gebeur. Fondse vir restourasie is verkry van Barclays Bank (nou FNB), die stadsraad van Pretoria en verskeie kleiner individuele borge.

Die vereniging se bestuurslede was dr WHJ Punt van Muckleneuk, dr CJP Jooste van Riviera, prof GC van Drimmelen van Brooklyn, HJ de Graaff van Waterkloof, PO Kraamwinkel van Waterkloof-Glen en dr NA Coetzee van Waterkloof.


Die stoep
Bron: able.wiki.up.ac.za

Punt
Willem Henry Jacobus Punt was bekend vir sy liefde vir die behoud van die historiese oudhede en erfenisse in Suid-Afrika. Hy was die seun van Jacob Punt en Cecile, ‘n nooi Ruwers; Hollanders wat na Suid-Afrika gekom het om vir die NZASM te werk.

Willem is op 26 April 1900 in die stasiemeesterswoning op Elandsfonteinstasie gebore. In die oorlog is die gesin na Holland gedeporteer, maar hulle het teen die einde van 1903 teruggekeer. Willem het sy skoolopleiding aan die Eendracht-Lagere Skool en die Hogere Oost Eind School in Pretoria gehad.


Wilhelm Alexander de Rapper op die stoep van sy woonhuis in Celliersstraat 57
Bron: Pretoriana Nommer 83, Februarie 1983

Hy het sy onderwys-diploma aan die Normaalkollege behaal en later sy BA en MA aan die Transvaal University College (later Universiteit van Pretoria) en sy D.Phil aan die Universiteit Stellenbosch, gebaseer op sy navorsing oor die Voortrekkerroetes wat in 1941 tot die ontdekking van die Trichardt-grafte in Laurenzo Marques gelei het.

Willem is met Phyllis Emily, gebore Barry, van Pretoria getroud en hulle het drie seuns en twee dogters gehad. Hy het in 1935 hoof van Voortrekker Laerskool in Bloedstraat geword. Met die skool se sluiting in 1946 het hy hoof van Danville Laerskool geword, waar hy gebly het tot sy aftrede in 1959, om oprigter en direkteur van die Stigting Simon van der Stel te word.


Binne in die huis
Bron: repository.up.ac.za
.

Willem Punt in Groningen, Nederland in 1903, kort voor die gesin se terugkeer na Pretoria
Bron: Pretoriana, Julie 1983

Stigting
Dié stigting is met die hulp van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns daargestel om ons Kaap-Hollandse erfenis asook die pionierswonings in die binneland vir die nageslag te bewaar.

In 1945 is die 50-jarige bestaan van die NZASM se Oosterlijn gevier en Willem Punt was ’n aktiewe lid van die reëlingskomitee. Hy het die stryd om die behoud van die Wesfasade van Kerkplein in 1948, met die oprigting van die Genootskap Oud-Pretoria, begin. Dit is ‘n stryd wat hy later, 1975–1980, as lid van die Burgerkomitee vir die Bewaring en Restourasie van Kerkplein help voortsit het.


Die bord, opgerig deur die Vereniging Dr Willem HJ Punt, lees: 1887–1987, Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorweg Maatschappij. Woning van A Westenberg en C van der Made, gebou 1898
Bron: able.wiki.up.ac.za

Willem was ook grondlegger van die opelugmuseumgedagte in 1953, oprigter van die Stigting Jan van Riebeeck, en lid van die Raad van Heraldiek. As lid van die Historiese Monumentekommissie het hy ’n groot aantal historiese plekke en geboue nagevors en vir proklamasie aanbeveel. So is die Staatsmodelskool in Pretoria gered en die Militêre Hoofkantoor en huise in Artillerieweg geproklameer.

Willem het verskeie eerbewyse in sy leeftyd ontvang en in 1981 is die Staatspresident se Dekorasie vir Voortreflike Diens postuum aan hom toegeken. Hy is op 22 Mei 1981 in Pretoria oorlede.


Willem-Jan Prins, links, in gesprek met Willem Punt op 28 April 1975
Bron: Hoofstad

Museum
In Oktober 1980, ‘n paar maande voor Willem se dood, is Mea Vota as ’n nasionale monument verklaar. Kort daarna is ’n gedeelte van die huis as kantoorspasie aan argitekte verhuur. Hulle het toesig oor die perseel gehou en het terselfdertyd ‘n maandelikse inkomste aan die Vereniging Willem Punt verskaf.

Dié argitekte het tot op 1 Julie 1990 daar gehuur. Daarna is met die gebou se restourasie voortgegaan. ’n Lening is by FNB verkry en die restourasie is in September 1991 teen ’n koste van R139 000 voltooi.

Tussen 1991 en 1997 is die huis as kantore verhuur. Die Tshwane Universiteit van Tegnologie het die huis in 1997 gekoop en gebruik dit as ’n gastehuis vir besoekende hoogwaardigheidsbekleërs.

Dit is glo net sommige gaste wat die onsigbare water hoor intap of bewus is van die huilende baba en die hoë hakke wat rondloop. Wie die Marilyn Monroe-ewebeeld is wat op spookfoto’s pryk, bly ‘n raaisel.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online