Perde is spieëls wat jou wys wie jy is . . . PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 27 June 2017 04:25
Untitled Document

Die helende waarde van perde is al vir eeue bekend. Alexander die Grote was die eerste wat agtergekom het dat gewonde soldate vinniger herstel as hulle op perde oefen. Van daar het dit uitgebrei en vandag word terapeutiese perdry nie net vir fisiese beserings en gebreke ingespan nie, maar ook vir emosionele en sielkundige probleme.

Bronbergwêreld is perdewêreld en hier is baie plekke waar seer en stukkende mense deur perdryterapie gehelp word. Hier is ‘n verskeidenheid ryskole waar ruiters aan sportsoorte soos dresseerwerk, spring of uithouritte deelneem. Maar mense staan effe verstom as hulle hoor van baanbrekerswerk wat in dié gebied met perde gedoen word, maar wat niks met perdry te doen het nie.


Adriaan demonstreer sy werk met perde

In Amerika is lewensafrigters deesdae ‘n reuse tendens en baie van dié afrigters gebruik perdeterapie om mense meer van hulle self te leer. Afrigters soos Koelle Simpson is een van die bekendstes wat ander lewensafrigters van dwarsoor die wêreld leer hoe om dié soort terapie toe te pas. Alles geskied sonder dat dié wat afgerig word ooit op ‘n perd klim.

Tog is daar min akademiese navorsing oor dié verskynsel gedoen. Een van die eerste navorsingsprojekte oor leierskapprogramme waar perde as fasiliteerders ingespan word, is onlangs gepubliseer en is gebaseer op werk wat by stalle in Boschkop gedoen word. Plaaslike kunstenaar en perdeliefhebber, Theresa Odendaal, het gaan uitvind waaroor die bohaai gaan en vertel hier in haar eie woorde wat sy ontdek het.


Die mens-perd interaksie is waardevol vir die mens om meer van homself te leer

Adriaan
Die hele ding het begin by ‘n man genaamd Adriaan Graham, wat sy lewe lank met perde te doen het. Van klein seuntjie op die plaas wat net wou ry, tot suksesvolle kompeterende ruiter, perdeafrigter en later in die berede-afdeling van die weermag, was perde maar altyd daar.

Na sy weermagopleiding, het Adriaan ‘n BCom graad behaal, met bedryfsielkunde, sosiologie en bedryfsekonomie as hoofvakke. Dit was sy droom om sy beroep en sy stokperdjie bymekaar te bring.

Oor die jare het Adriaan die werk van bekende perde-afrigters, ook bekend as fluisteraars, soos Monty Roberts, Pat Parelli en Ray Hunt bestudeer en toegepas en sy eie metodes ontwikkel om met perde te kommunikeer. Soos die bekende fluisteraars het Adriaan agtergekom dat perde ‘n universele ‘taal’ het, wat meestal uit liggaamstaal, gebare, houding en oogkontak bestaan.


Om werklik te kan lei, moet ander volg – gewilliglik

Hy het gesien hoe perde op hom en op ander mense reageer en hoe die mens se benadering tot die perd, sy emosionele toestand en selfs sy bui, die perd se reaksie beïnvloed. Adriaan het begin sien hoe, deur sekere dinge in homself te verander, die perd se reaksie teenoor hom oombliklik verander.

In sy professionele hoedanigheid het Adriaan leierskap- en persoonlikheidsontwikkeling vir veral die mynboubedryf aangebied. Hy het besluit om iets te probeer en het begin om mense met perde in aanraking te bring as deel van die kursusse.

Die resultate was ongelooflik. Mense kon hulle eie kragte en swakhede onmiddellik raaksien en verander. Adriaan het meer probeer uitvind oor dit waarmee hy besig was, maar daar was bitter min navorsing hieroor beskikbaar.


’n Nuwe spannetjie wag om te sien watter invloed hulle op perde gaan hê

Hoekom?
Nou is die vraag, hoekom juis perde? Perde is vlugdiere – kos vir roofdiere –  en hulle grootste beskermingsmeganisme is om hulle self uit die voete te maak. Om dit suksesvol te kan doen, moes die perd ‘n baie fyn waarnemingsvermoë ontwikkel. Perde leef in ‘n trop wat beskerming bied en waar sterk leierskap noodsaaklik is.

Die trop word deur ‘n alfa-merrie gelei en sy handhaaf dissipline, want enige perde wat die tropbalans versteur, stel die trop in gevaar. Die tweede leier is die alfa-hings, wat die trop teen fisiese gevaar beskerm en indringers uithou. Van tyd tot tyd toets troplede die waters om te kyk of die leiers steeds as leiers kwalifiseer. Dit is dié trop- en vlugaspekte van ‘n perd wat die meeste van ‘n perd se gedrag verklaar.


Die feit dat ’n mens ’n titel het, beteken nie noodwendig dat jy kan lei nie

Die perd sal in enige situasie waarin hy homself bevind, outomaties vir die sekuriteit van ’n ‘trop’ soek, maar ook oombliklik probeer uitklaar wie in daardie situasie die leier is. In enige interaksie met ’n perd, vorm die mens en die perd ’n ‘trop’ en as sulks moet die kwessie van leierskap dadelik uitgeklaar word.


Adriaan Graham

Spieël
Leierskap is op vertroue gebaseer en dit is waar die mens-perd interaksie so waardevol vir die mens is om meer van homself te leer. Die perd dien as spieël van wat in die mens aangaan. En sy reaksie is oombliklik. ’n Perd kan ook nie jok of toneelspeel nie. Hy gee nie om wat ’n mens se ras, posisie, kwalifikasie of agtergrond is nie. Hy reageer slegs op wat hy op daardie oomblik sien en ervaar.

As ’n mens te bombasties is, sal jy nooit die perd se vertroue wen nie en as ’n mens te bang is, sal die perd jou probeer lei – altwee eienskappe wat leierskap en samewerking in die werksituasie kan beïnvloed. Deur fasilitering kan die persoon dan gehelp word om te sien wat hy verkeerd doen en wat hy moet verander om met die regte ‘taal’ die perd se vertroue te wen.

Vertroue is presies waarop menseverhoudings gebaseer is, hetsy in die werkplek of by die huis. Die feit dat ’n mens ’n titel het, beteken nie noodwendig dat jy kan lei nie. Om werklik te kan lei, moet ander volg – gewilliglik.


Die mens se benadering tot die perd, sy emosionele toestand en selfs sy bui, beïnvloed die
perd se reaksie

Trane
Dit kan ’n baie emosionele proses wees. Soos Adriaan sê, hy het al groot manne gesien trane wegpik as daardie halfton perd die man op die ou einde soveel vertrou dat hy hom sonder enige halter of leiriem soos ’n skaduwee volg. Dit raak aan harte en verander lewens.

Een van Adriaan se kursusgangers van Sasolmyn, het gevra of hy Adriaan se kursus as onderwerp vir sy MBA skripsie mag gebruik. Adriaan het die geleentheid aangegryp, alhoewel hy besef het dat die navorsing dalk juis dit wat hy nie wil hoor nie, sou bewys.

Die navorsing het oor drie jaar gestrek en is einde 2016 gepubliseer. Die resultate was selfs nog beter as waarvoor Adriaan kon gehoop het. Dit is moontlik die eerste intensiewe navorsing wêreldwyd wat oor dié konsep gedoen is en die resultate was duidelik. Dit werk. Perde kan ons meer leer as wat ons hulle kan leer.


Net met die regte ‘taal’ kan jy die perd se vertroue wen

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online