Mooi kuierplek met ‘n ontsnaproete PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 27 June 2017 04:23
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons bevind ons op ‘n mooi Saterdag aan die buitewyke van die diep dorp. Dis etenstyd verby en ons kan dit voel.

Nou is ek vir toegetronkte koopsentrums (‘malls’, soos die mall-gangers dit noem) minder as niks partydig nie. Maar sentrums soos die een in Olympus (‘Village’) is anders. Hier het elke winkel ‘n veilige ontsnaproete na dié wêreld daar buite.

Ons mik vir Milhaus om ons honger te loop stil en om die ergste dors aan te spreek. Die plek het selfs ‘n buitestoep en ’n uitsig, oor die parkeerplek heen, op die bloue hemel en die voetheuwels van die Bronberg. Hier kan ‘n honger ou asem haal.

Ongelukkig is die stoep vandag buite alle redelike kwessie, omdat ‘n ander kuierplek net ‘n klipgooi van Milhaus af selfsugtig genoeg is om ‘n orkes op hulle stoep staan te maak wat ‘n allerverskriklike geraas opskop. Genoeg om enige eetlus die nek om te draai en enige gesprek onmoontlik te maak – behalwe dalk as jy vingertaal magtig is.


Beeshaas met murgbene en kapokaartappels

Die binnekant van Milhaus is verwelkomend mooi en die raasorkes daar buite is skaars hoorbaar bo die rustige agtergrondmusiek wat hier binne gespeel word.

‘n Vriendelike kelnerin verwelkom ons en bring spyskaarte, wynlys en ‘n glimlag na die goedgeboude houttafel waarby ons aansit. Die afwerking en dekor van die groterige kuierplek skep ‘n gemoedelike atmosfeer. Kelnerin, Tembi, vertel dat dit die eienaar se pa is wat so vernuftig met die bou van die binnewerke omgegaan het.

Milhaus se spyskaart bied ‘n aansienlike hoeveelheid keuses en die lywige wynlys spog met ‘n allemintige wye reeks wyne van alle aard en oorsprong uit elke moontlike wynbougebied in die land.

Verskillende vatbiere van sogenaamde boetiek-soort (‘craft’) is beskikbaar en ek vra vir ‘n Jack Black teen die dors. Dis nie ‘n swart bier soos Metgesel voorspel nie, maar ‘n baie geurige, goue lagerbier wat ‘n tinteling op die tong sit. Metgesel se koffie dra ook haar goedkeuring weg.


Hoenderkerrie en rys met braaigroente op ‘n kantbordjie

Van die voorgeregkeuses, soos geroosterde murgbene (R45) en kaaskrokette (R45), prikkel die versoekingklier, maar ons hou verby. ‘n Slaai met geroosterde botterskorsie (R55) is een van vier slaaie op die spyskaart en botterskorsie word ook in een van die plek se sewe pizzas gebruik. Hulle noem dit ‘artisan’ pizzas en dit kos rondom die R90-merk. Ons besluit daarteen.

Die burgers noem hulle ook ‘craft’ en die keuses lyk interessant en nie alledaags nie. Die spyskaart is eensydig Engels en ek wonder onwillekeurig of die ‘pulled pork burger’ ‘n getrekte varkburger sou wees.

Die burgers kos tussen R75 en R110 en die een met bloukaas en vye kielie my keuseklier, maar ek vaar verby.

Vier van die sjef se spesiale disse word onder ‘chef’s specials’ gelys. Drie hiervan is hoendergeregte en een met ander groente, sonder hoender. ‘n ‘Babahoender’ wat in die pizzaoond gaargedoen word, kos R125. Die hoendervrye spesialiteit met spinasie, dill, seldery, ‘rocket’, pietersielie, feta en cheddar noem hulle ‘n Jerusalem-kruiefillobeursie (money bag) en dit kos R95. Ek sou kon sweer Metgesel (wat mos weier om soogdiere te eet) se keuse sou hieruit kom, maar sy stuur voort.

Ons werk verby die twee varkrib- en een beesribinskrywings (R130 vir 400 g en R155 vir 700 g), verby die ewe versoekende seekosafdeling, ander braaigeregte en uitsoekdisse tot by die afdeling vir hulle beroemde biefstukke (famous steaks) waar ek op aanbeveling van vriendelike kelnerin vir ‘n wyle vertoef. Sy het sonder skroom gesê Milhaus se biefstukke is die beste in die land en dalk in die wêreld ook.


Stewige houttafels en oop braaikombuis

Kruisskyf, lendeskyf, T-been, rib-oog en beeshaas in verskillende groottes word op verskeie maniere eetgereed gebring. Ten aanskoue van die gaste word dit deur die span sjefs in die aangrensende oop braaikombuis voorberei. Jy kan ook jou eie rou snit by jou tafel uitkies om gebraai te word, sou jy wou.

Ek kies ‘n beeshaas (fillet) van 250 g en hoewel ‘n beeshaas vir my neig om smaakloos en droog te kan wees, lyk dit of Milhaus se gepaardgaande rooiwynsous en veral murgbene die saak kan besleg.

Ek vra dat hy halfrou (medium to rare) moet wees en dis presies soos die beeshaas aankom. Die sous is die bees werd en ek kan nie met sekerheid sê of die murg sagter as die vleis is, of andersom nie. Dit kos R180.


Herwinde hout is oral in die binnewerke gebruik

Van elders op die spyskaart kies Metgesel ‘n hoenderkerrie teen R89 met ‘n aparte braaigroentebordjie teen R16. Sy meen die ondertrouery van geure in die hoenderkerrie is iets om te ervaar.

Plek ontbreek nou, om verder voort te vaar. Ek kan net meld dat die ontbytkeuses erg innoverend lyk. Hulle bedien ligter etes soos toebroodjies en nagereg en het ‘n spesiale kortvolkspyskaart. Ons is tevrede daar weg.

Jy kan hulle by 083-374-4610 bel.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online