Die eerste werklike kennismaking met die Rooitaal wat ‘n kind destyds op ‘n plattelandse dorpie in die Wes-Transvaal ervaar het, was as hy as graadeentjie in die skool beland het.
Dan het die stomme onderwyser geworstel om die duistere geheime van die uitheemse taal wat Engels was, met woordjies en kort sinnetjies in die jong koppies te ontsluit.
Engels was Grieks vir die sesjarige Afrikanertjies, kan jy maar sê en teen die einde van die heel eerste skooljaar was die meeste hoogstens bewus daarvan dat daar inderdaad ‘n snaakssoortige taal genaamd Ingels bestaan. Enkele van die meer skrander bloedjies het ‘n paar woorde en niksseggende sinnetjies onder die knie gehad.
Só gebeur dit toe dat klein Eduard Kleyn, ná hy graad een suksesvol afgelê het, vir die somervakansie saam met sy gesin afsit see toe. Nou was die Natalse Suidkus in daardie jare die een plek in die land waar daar nogal geredelik en algemeen met die Rooitaal omgegaan is.
Die gesin span toe op ‘n mooi dag saam op die strand uit, soos gesinne uit die binneland dit maar gedoen het: Ma en Pa sit onder ‘n sonsambreel en boeklees of mensekyk en die kinders probeer eenkant so al wat hulle kan om grootskaalse grondverskuiwingswerk met grafies en emmertjies aan te rig: Nogal ‘n heel onderhoudende tydverdryf as jy die stof en rooigrond van ‘n Wes-Transvaalse werf gewoond is.
Met die vrymoedige nuuskierigheid eie aan kinders van daardie ouderdom, gaan staan ‘n paar tjokkertjies stil neffens klein Edu waar hy wild met sy grafie in die strandsand werskaf. En hulle tree ook sommer heel gemaklik met hom in gesprek: Wys met die vingertjies, vra vrae en gee raad oor sy sandprojek en wil weet waar hy vandaan kom en so. Die enigste probleem is dat die tjokkertjies boorlinge van Natal is en hulle praat Engels.
Eers het klein Edu nie ‘n woord gesê nie en maar net besig gebly met sy grafie en emmertjie. Maar toe gaan staan hy ewe kordaat en vol selfvertroue kiertsregop voor die driestuks Engelsmannetjies en sê met ‘n duidelike stemmetjie – net soos hy dit op skool geleer is: “I am sitting om my chair!” En toe dadelik ter inligting van sy ma en pa hier onder die sonsambreel, sê Edu: “Dié Souties het seker gedink ek kan nie Ingels praat nie.”
Uitmuntend!
Nou met die Britse en Ierse Leeus se rugbytoer in die land van die lang wit wolk, kom sekere van die eienaardige name wat die voorvaders van dié eilandjies se inwoners gekies het, weer na vore.
Só dra die vernuftige Leeu-heelagter uit Wallis nogal swaar aan die van wat een of ander oervader vir hom uitgedink het. Die heelagtertjie is nie groot van gestalte nie en ‘n mens kan bespiegel dat sy voorvaders ook klein mannetjies was en dat dit alles met die keuse van die van te doene gehad het: Halfpenny, heet die outjie: Lee Halfpenny, wat nogal ‘n mooi metrum aan die naam gee.
Nou is die vraag wat onwillekeurig opkom: Sê nou maar hierdie heelagter klits in die doodsnikke van ‘n wedstryd teen die magtige All Blacks ‘n skepskop oor die dwarslat om die wedstryd vir die Leeus te wen, sou ‘n mens dan met reg kon sê: “The Halfpenny has dropped?” |