Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 23 February 2009 22:22
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Die Sondag ná Vaaltyndag hou ons neffens die “Boardwalk” in Olympus se ‘Virgin Active’ (’n paradoks, as ek al ooit een gehoor het) stil. Ons wil gaan kyk of ons ’n laatmiddag lafenis by die nuwe Caseiro Food & Wine kan kry.

Dis ’n mooi sonnige dag, ná ’n ewigheid se reën, en ons maak ons tuis op die dek van die plek. Caseiro se ligging is net so goed soos enige ander kuierplek in ons gebied s’n en beter as die meeste. Dit sit op die noordelike punt, lekker eenkant, van die Boardwalk en langs ’n mooi dam. Jy het ’n wonderlike uitsig oor die dam op die Bronberg. Benewens die stoepdek waarop ons sit, is daar nog ’n dek op damvlak wat ideaal is vir ’n lekker kuier saam met ’n groep vriende.

’n Vriendelike kelner met die naam van Carlo is flink byderhand en ons bestel rooiwyn en Skotse wyn by die glas. Kort op Carlo se hakke is die bestuurder, Dave, om ons mee te deel dat die kok sê die kombuis sluit vieruur. Baie tyd van 3.20 nm af en ons kyk rustig deur die spyskaart. Caseiro se spyskaart belowe ’n ryk verskeidenheid van wyd uiteenlopende disse. Dit is duidelik dat die sjef (blykbaar ook die eienaar) met die naam van Werner, sy geregte met ’n goeie sarsie eksperimentering en baie sorg gekies het.

Die voorgeregte sluit byvoorbeeld in: Pangebraaide garnale (dis prawns, Harry) met gekruide basmatiese rys en ’n basiliese sous; Bokmelk-kaas, toegewikkel in Parmaham, geverf met heuninggegeurde tiemie en bedien saam met geroosterde deugsnye en rocketslaai; oopskulp Nieu Seelandse mossels in bier voorberei, gegeur met uie en seldery en bedien saam met skyfies en suurlemoenmayonnaise. Die nege keuses wissel in prys van R30 tot R50.

Die hoofgeregte sluit ’n goeie dosis viskosse in soos calamari, voorberei met gesoute swartbone en sjerrie teen R60, salm met kool of pancetta in ’n witwynsous teen R90 en ’n seekosbord met garnale, calamari, kingklip en mossels saam met wasabiese mayonnaise teen R130. Karnivore kan tradisionele T-been, rump of hoender bestel. Of jy kan iets heel ‘anders’ geniet soos volstruis met artichoke en rooiwynsous, Cajun hoender met geelrys en ’n kokosneut-kerriesous, Sjinese bees met aspersies en oestersous, heuning en tiemie-gegeurde ‘spare ribs’, ’n rump met kruie en Parmasaan saam met soetpatats, kapokaartappels en ’n sjerrie-roomsous of Spaanse lamsosaties.

Metgesel besluit om Caseiro se eendgereg te beproef. Die spyskaart sê dit is ‘crispy’. Dit kom saam met ’n rys-en-lensiemengsel en is bedruip met lemoen- en mangosous. Daarmee saam kry sy braaigroente en Metgesel is in haar element. Sommige sou dink die porsie is effe skraps, maar sy laat weet later dat dit beslis nie vir haar die geval is nie. Dit kos R95.

My ‘kruiekorsie’ kingklip-motjies geval my. Die vis is reg gaargemaak, stewig en vlokkend, en dit is uiters smaakvol saam met ’n romerige knoffelsousie. Dit kos R85. Caseiro se kok is ’n kunstige kêrel. Die kos is lekker en dit is mooi. Die atmosfeer is ontspanne, die agtergrondmusiek onderhoudend en nie te hard nie, die ligging wonderlik en die mense vriendelik en oopkop.

 

© 2024 Die/The Bronberger