Vrypostige vreter by vullishope Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 27 June 2017 06:09
Untitled Document

Daar is ‘n Afrika-voël wat oorsee ‘n baie gewilde troeteldier geword het omdat hy so intelligent is. Hier hou mense minder van dié omnivoor wat vrypostig by ashope rondwip, ‘n oorlas van homself by slagpale maak en gereeld paaie patrolleer vir diere wat doodgery is.

Die witborskraai, Corvus albus, word glo maklik opgelei en word gereeld in advertensieveldtogte en flieks gebruik. Hy is ook ‘n vernuftige taalkenner wat gou mensewoorde aanleer.

In Europe word sulke troetel-kraaie vroeg by hulle ouers weggeneem en met die hand grootgemaak sodat hulle vriendelik teenoor mense kan wees. Hulle sê dat ‘n witborskraai baie aandag nodig het om gelukkig te wees en dat hy tot 30 jaar oud kan word.


Die witborskraai se kenmerkende wit bors en skouers
Foto’s: Wikipedia

Die kraai, en veral die raaf, is natuurlik ou bekendes in legendes en mites waar hulle as boodskappers van die dood of verdoeming gesien word. Dit is blykbaar omdat hulle swart is, so ‘n kras geskel het en omdat hulle neiging om aas te vreet hulle altyd oor veldslae laat sirkel het.

Witborskraaie vreet meestal plantmateriaal soos sade, vrugte, wortels asook graan en grondboontjies, maar vreet ook geleedpotige insekte, paddas, reptiele, voëleiers, klein voëltjies en diertjies en vlermuise. Omdat hy ook ‘n aasdier is sal die witborskraai enige oorskietkos vreet wat mense vir hom gee, selfs sampioene.

Hulle vreet van die grond af en hop of loop met ‘n doelgerigte stappie. Witborskraaie kom in pare of klein groepies voor en word gewoonlik gesien waar hulle op telefoon- of kragpale sit.


‘n Witborskraai in vlug

Algemeen
Die witborskraai is Afrika se mees wydverspreide kraai en kom feitlik reg oor die Sub-Sahara deel van ons kontinent voor en ook op eilande soos Madagaskar, Aldabra, Zanzibar en die Comoro-eilande.

Hy is ‘n groot, redelik swaargeboude pikswart voël van 46–52 cm lank met wit vere van sy skouers tot by die onderste deel van sy bors. Sy bene, voete en lang, sterk snawel is swart en sy oë is bruin.

Dié voëls broei grootliks van September tot Oktober. Altwee ouers bou die nes, wat breed en oop is, van takkies wat slordig saamgeflans is. Binne is die nes met wol, fyn grassies of hare van diere uitgevoer. Dit word in die boonste vurk van ‘n hoë boom, op krag- of telefoonpale gebou.

Die wyfie lê drie tot ses bleekgroen eiers met bruin vlekkies op. Die eiers word bedek as die broeiende wyfie die nes verlaat. Die kuikens broei ná 18 tot 19 dae uit en verlaat die nes ná 45 dae. Altwee ouers help om die kleintjies groot te maak.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger