Blink planne met dié boom beraam PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 27 June 2017 04:09
Untitled Document

As jy weet hoe, kan die blinkblaar-wag-‘n-bietjie se vrugte, sade, blare, bas en wortels gebruik word om bykans enige pyn op sy plek te sit – van tandpyn en rumatiek tot borsprobleme en masels.

‘n Warm pap word tradisioneel van gepoeierde en gebakte blinkblaar-wag-‘n-bietjie wortels gekook. Die pap word aan enige deel van die lyf wat seer is aangesmeer en, asof pynverligting nie genoeg is nie, word die pap dan ná die tyd geëet.

Pitswere en ander velinfeksies word behandel met ‘n aanplaksel wat van die boom se blare gemaak word. So ‘n plaksel, saam met ‘n aftreksel van die wortels, kan gebruik word om opgeswelde kliere, masels, disenterie, lendejig en borsprobleme te behandel.

Die wortels word gebruik om slangbyt te behandel en die bas is ‘n braakmiddel wat ook gebruik word om te help met rumatiek en maagprobleme. Aftreksels van die bas word gebruik om hoes te behandel en die bas kan in ‘n stoombad gegooi word om ‘n mens se vel te reinig.


Die blinkblaar wag-‘n-bietjie
Foto’s: Wikipedia

Koffie
In die Groot Trek is dié boom se sade gerooster en fyn gemaal om in die plek van koffie te drink. Bykans elke deel van die boom kan gebruik word as kos, drank of medisyne.

Die vrugte kan vars of gedroog geëet word, ingelê word en word tradisioneel as geurmiddel vir pap gebruik. In Zimbabwe maak hulle ‘n mampoer van die vrugte wat ‘kachaso’ genoem word.

Die voedsame jong blare kan in die plek van spinasie gekook word. Byeboere vertel dat die boom ‘n waardevolle bron van nektar is.

Die hout is hard en maak goeie vuurmaakhout en houtskool. Die termiet-bestande hout word gebruik vir pale en heinings en vir jag- en visvangtoerusting. Swepe en boë kan ook gemaak word van die buigbare jong takke. Die doringtakke word gebruik om veekrale te maak. Die boom se bas bevat 12–15% tannien en kan as kleurmiddel gebruik word.

So ‘n boom maak ook ‘n baie goeie lewendige heining. Met sy doringtakke vorm hy vir ten minste die eerste tien jaar van sy lewe ‘n ondeurdringbare heining. Daarna groei sy kroon te hoog van die grond af om as versperring te dien.


Die blomme van naderby beskou


Naam
Die blinkblaar-wag-‘n-bietjie, Ziziphus mucronata, word drie tot 10 meter hoog.

Ziziphus is ‘n Latynse weergawe van die Arabiese woord ‘zizouf’, ’n naam vir die mistiese lotus, ‘n legendariese plant in Griekse mitologie wie se vrugte ‘n dromerige vergeetagtigheid en onwilligheid om ‘n plek te verlaat, te weeg bring.

Die woord mucronata is die Latyns vir ‘gepunte’ en verwys waarskynlik na die dorings of toppunt van die blaar.

Sy Afrikaanse naam kom van die dorings af wat aan ‘n mens se klere vashaak en haastiges ongevraagd laat vertoef. Die boom se sterk dorings groei in pare – die een is reguit en tot 2 cm lank en die ander een is kleiner en gebuig. Die glansende groen blare kom tussen die twee dorings uit.

Die blomme is klein, geel, onopmerklik en kom in digte klossies voor. Die vrugte is rond en word ‘n glansige rooi-bruin kleur as hulle ryp is. Die vlees van die vrugte is dun, droog en melerig.

Die boom dra twee soorte vrugte: die kleiner soort is 1–10 mm in omtrek en die groter soort
15–25 mm. Dié vrugte bly gewoonlik aan die boom nadat die blare reeds afgeval het.

Dié boom blom van Oktober tot Februarie en die vrugte is van Maart tot Augustus aan die boom. Hy is droogte- en rypbestand.


Die vrugte

Groei
Die blinkblaar-wag-‘n-bietjie kan maklik van saad gegroei word. Verwyder die vlees rondom die vrugte, kraak die neut en laat die saad vir twee dae in koue water lê. Bedek die saad in saailingbakke met ‘n dun laag riviersand en hou klam. Ongeveer 75% van die saad sal ná twee weke ontkiem.

As die saailinge oorgeplant word moet ‘n mens versigtig wees om nie die lang penwortel te beskadig nie. Saailinge moenie te veel water kry nie en moet in goed gedreineerde grond geplant word. Plant hulle in vol son.

Boompies sal binne vier tot vyf jaar ‘n hoogte van vier tot ses meter bereik.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online