Jolige jolyt in Julie help kinders PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 27 June 2017 04:06
Untitled Document

Die Jolly July gesinspretdag word op 2 Julie op Donkerhoek gehou. Dit is die vyfde jaar wat dié fondsinsamelingdag vir liefdadigheid gehou word en vanjaar se opbrengs gaan aan die Kinderkankerstigting van Suid-Afrika (Choc).


Die Jolly July se pretdraf word deur Wild Trails SA gereël

Die fokus is op kinders en hulle gesinne en die tema is Disney feëverhale. Die gewilde jaarlikse pretdraf word deur Wild Trails SA gereël. Daar is ‘n 8 km, 13 km en 21 km pretdraf met verskillende ouderdomsbeperkings en mense kan inskryf by www.wildtrail.co.za.


‘n Pel van my

Die Cullinan-bewarea ondersteun die dag as deel van hulle gemeenskapsuitreikprogram en reël die pretdraf vir kinders saam met Choc se ‘koei’-vrywilligers. Die inskrywingsfooi is ‘n liter melk vir Choc-tuistes. Kinders tussen die ouderdomme van vyf en 11 jaar kan deelneem aan die pretdraf wat ongeveer 1 km lank is, of tot die kind moeg word. Alle deelnemers gaan ‘n medalje ontvang.


Plaaslike sanger, Logan Venter

Verskeie musikante gaan optree, soos ‘n Pel van my, Free Beer Cover Band, Janie Bay, Two Tone en die plaaslike Raytonse musikant, Logan Venter. Die kinderafdeling spog met springkastele, poppeteater, ballon-karikature, gesigverf en Kindermusik en besoekers kan uitsien na ‘n verskeidenheid kraampies.


Potjiekoskompetisie

Die feëverhaal-tema word deurgetrek na die jaarlikse potjiekoskompetisie. Elke potmeester kry ‘n feëverhaal wat in die potjie, die kombuis en die tafeldekor uitgebeeld moet word.

Die potjiekos sal oor middagete aan die publiek verkoop word vir R100 ‘n porsie met bykosse vir volwassenes, R50 vir pensioentrekkers en kinders van drie tot 12. Kleuters onder drie jaar oud eet gratis.


Janie Bay

Choc is die enigste organisasie in Suid-Afrika wat landwyd fisiese en sosiale ondersteuning bied aan kinders met kanker en ander lewensgevaarlike bloedsiektes, en ook aan ouers. Die organisasie het ‘n hoofkantoor, agt streekkantore en 12 verblyfplekke waar gesinne tuisgaan terwyl die kinders behandel word. Dié verblyfplekke word soos huise vir gesinne ingerig en maak op donasies en borge staat vir hulle voortbestaan.

CHOC ondersteun ook die spesialis versorgingsafdelings in akademiese hospitale. Vir meer inligting, besoek www.choc.org.za.


Die opbrengs gaan aan die Kinderkankerstigting van Suid-Afrika (Choc)

Die Jolly July pretdag word by Casa Lee Country Lodge op plot 121, Donkerhoek gehou. Vir meer inligting, bel Kobus Vermaak by 083-288-2032 of 012-940-8184.

Vir inligting oor die pretdraf vir kinders, skakel die Cullinan-bewareakomitee by 082-681-5122 of stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

 




 

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online