Anrike is opgewonde oor Mev SA-reis PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 27 June 2017 04:00
Untitled Document

Anrike van der Walt van Lombardy Landgoed in Shere is een van die 25 finaliste in die Mev Suid-Afrika 2018 kompetisie. Dié finaliste is tot die finale beoordeling op 6 Oktober volgende jaar besig met fondsinsameling vir die Kankervereniging van Suid-Afrika.

Anrike sê dat sy glad nie verwag het om haar naam by die Cansa gala-aand te hoor nie. “Ek was uit die veld geslaan, want ek het my vooraf voorberei om voort te gaan om ’n verskil te maak, al sou ek nie die Top 25 maak nie.”


Anrike van der Walt van Lombardy Landgoed in Shere

Sy vertel dat elke vrou by die gala-aand eintlik ’n wenner was. “Die aand was skouspelagtig, iets uit ’n sprokiesverhaal, kompleet met balrokke en ’n rooi tapyt.”

Anrike sê sy is kinderlik opgewonde oor die reis wat voorlê en voel geseënd om dié platform te gebruik om ’n verskil in haar gemeenskap te maak. “Ek wil bemagtiging onder vroue vier en ondersteun. Elke vrou is op haar eie manier ’n bewys dat sterkte en skoonheid hand aan hand loop.”


Van links na regs, voorste ry: Felicia Tshite, Lerato Moyo, Kholofelo Tsoloane, Reevana Govender, Portia Radebe, Mpho Ntontela, Vusi Zwane (beoordelaar), Cindy Nell-Roberts (beoordelaar), Rhona Erasmus, Bella Edwards, Merlin Norman en Refilwe Mogale. Agterste ry: Géla le Roux, Esme Booyens-Burn, Chantel Blignaut, Mankoana Nhlebela, Candice Pretorius, Jurandi du Plessis, Prenita Reddi, Candice Robbertze, Thuli Sithole (beoordelaar), Joani Johnson (uitvoerende hoof), Unaiza Moideen (beoordelaar), Megan Nel, Amorié Meyer, Nicole Capper, Anrike van der Walt, Bayanda Gumede, Cathleen Prinsloo en Matsi Menu
Foto: Brendan Croft

Anrike is betrokke by African Blessings se weeshuis op die plaas Rustfontein, net buite Bronkhorstspruit. “Ek kan voel watter verskil dit maak om te kan gee: van jouself, jou tyd, jou wysheid en al jou liefde. Ek het gesien dat liefde genees, en dat hoe meer jy daarvan gee, hoe meer jy daarmee gevul word en self ook genees,” sê sy.

Sy lewer ook praatjies vir tieners oor die impak van sosiale media, ’n onderwerp wat sommige ouers gryshare gee. Haar passie is om ander vrouens te inspireer sodat hulle die beste weergawe van hulle self kan wees.

 

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online