Jare se stinkspul weer opgeklaar PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 27 June 2017 03:58
Untitled Document

Rou riool het in Mei weer langs Garstfonteinweg-verlenging neffens Mooikloofrif afgeloop. Dié stinkspul pla omliggende inwoners, ondernemings en selfs motoriste wat in Garstfonteinweg-verlenging verby ry, jare reeds.

Jan Williamson van B-House het berig dat die riool langs Garstfonteinweg uit die Mooikloofrif-ontwikkeling in die rigting van Blesboklaan gestroom het en dat klagtes op 18 Mei by Mooikloofrif se bestuur gelê is.

Mooikloofrif se landgoedbestuurder, Theo van Rensen, het gesê dat hulle ‘n probleem met die pompstasie gehad het; ‘n draaglaer het vasgeslaan op die een pomp en ‘n vakuumseël op ‘n ander pomp was foutief. Theo sê dat die probleem opgelos is en dat alles weer reg verloop.


Rou riool langs Garstfonteinweg-verlenging

In 2012 het ons berig dat niemand wou pa staan vir die rioolpompstasie wat Mooikloofrif bedien nie.

Theo het destyds gesê dat dié pompstasie op ‘n servituut gebou is en nie Mooikloofrif se verantwoordelikheid is nie, alhoewel hulle aanhou om die pompe reg te maak.

Volgens munisipale amptenare het die landgoed se ontwikkelaars, M&T, destyds nooit die pompstasie aan Kungwini-munisipaliteit oorhandig nie en pogings om dié probleem uit die weg te ruim het jare geduur.

In April 2013 het ons berig dat Mooikloofrif se rioolprobleem uiteindelik opgelos is deur die bou van ‘n nuwe rioolpompstasie. Verlede jaar was daar weer ‘n probleem, maar dié keer was dit ’n vetverstopping by een van die komplekse, wat niks met die rioolstasie te doen gehad het nie.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online