‘Engele werk oortyd’ in angsnag PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 27 June 2017 03:56
Untitled Document

“Die engele het oortyd gewerk.” Só sê die bekende Cullinanse vermaakkunstenaar, Willie Strauss, ná hy en sy vriend, Etienne Smith, deur ses gewapende boewe in ‘n lokval gelei, aangerand en aangehou is voor ‘n onbekende motoris tot hulle redding gekom het.

Willie en Etienne was op ‘n Vrydagaand in Junie op pad terug vanaf Pretoria na Cullinan toe hulle in groot klippe, wat naby Mamelodi oor Zambeziweg-verlenging gepak was, vasgery het.

Die motor se band is in die proses beskadig en toe die vriende begin om die wiel te ruil, is hulle skielik deur die ses mans oorval. Die eerste van vele skote wat sou volg is afgevuur. Etienne is beveel om van die motor af die veld in te beweeg en Willie is aangesê om plat langs die motor te gaan lê.


Willie Strauss by verlede maand se Sinkhuismark

Willie sê hy kon Etienne sien in die veld langs die pad op sy knieë met ‘n wapen teen sy kop gerig. Hy weet hy het waarskynlik nie opgetree soos wat ‘n mens in die situasie aanbeveel word om te doen nie, sê Willie.

Hy het geweier om te bly lê en opgespring om hulp in die pad van motoriste wat moontlik kon verbykom, te kry. Hy het ook aanhoudend geskree en om hulp geroep. Skote is in die proses langs en voor hom afgevuur en hy is met ‘n pyp oor die kop en ‘n handwapen in die gesig geslaan. Willie is omgestamp, maar het telkens weer opgestaan om hulp te probeer kry.

Hy het die hele tyd gebid dat ‘n motor moet aankom en dat iemand hulle sal help. Een motor het opgedaag, maar het dadelik weggejaag toe die insittendes sien wat aangaan. ‘n Blou Mercedes het genadiglik stilgehou en die ses boewe het met ‘n selfoon, ring, horlosie en leersak wat hulle geroof het, op loop gesit.


Etienne Smith

Die eienaar van die Mercedes het gehelp om die wiel te ruil, waarna Etienne en Willie die voorval by die Cullinanse Polisiestasie aangemeld het.

Die twee het intussen berading ontvang en Willie sê hulle weier dat die skurke hulle vreugde steel. Hulle is oneindig dankbaar vir vriende se ondersteuning en bystand ná die traumatiese gebeure en natuurlik vir die barmhartige motoris wat by hulle stilgehou het, sê Willie.

In verlede maand se Bronnie het Vreethans van Heerden verslag gedoen oor die Sinkhuismark wat gereeld by Willie se geskiedkundige huis op die dorpie gehou word.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online