Grondgrypers van Pienaarspoort se turf sit PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 27 June 2017 03:52
Untitled Document

Die rooimiere het op 13 Junie begin om onwettige grondbesetters by Pienaarspoort van private eiendom af te verwyder. Dit volg nadat Hurter Spies Ing in samewerking met die sakeregtewaghond AfriSake ’n uitsettingsbevel gekry het.

Die Noord-Gautengse hoë hof-beslissing op 5 Junie het bepaal dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die plaaslike balju alle onwettige grondbesetters en hulle strukture in Pienaarspoort met onmiddellike effek moet verwyder. 

Pienaarspoorters het vroeër berig dat hulle geen hulp van die SAPD of die Tshwane Metropolisiedepartement gekry het nie. Hulle aansoek om onwettige grondbesetting te verhoed is op 26 Mei voor die hof gehoor, maar die hof het aanvanklik uitspraak in die saak voorbehou.  


Onwettige grondbesetters in Pienaarspoort
Foto: AfriSake

Volgens AfriSake het die grondbesetters die eiendomseienaars gedreig dat hulle al die aangrensende grond ook sal beset, en indien die eienaars hulle probeer stop, hulle doodgemaak sal word.

Ondanks dié dreigemente het die SAPD gesê dat dit nie hulle plig is om private eiendom te beskerm nie, en dat hulle ook nie daartoe in staat is nie omdat dit 24-uur bewaking sal vereis en hulle nie oor die nodige hulpbronne beskik nie.

Die grondgryp het glo begin toe ‘n groep van vyf vroue sonder toestemming ‘n Wendy-huis op een van die Pienaarspoortplotte opgerig het. Dit het later aan die lig gekom dat dié vroue die Wendy-huis as kantoor ingerig het om erwe op die plotte te verkoop.


Die rooimiere breek die onwettige strukture af
Foto: AfriSake

Ten tye van die hofbevel was daar ongeveer 300 onwettige grondbesetters op gedeeltes drie en vyf van die plaas Pienaarspoort 338 JR.

AfriSake en AfriForum het ’n stap-vir-stap blitsgids oor grondbesetting vir grondeienaars opgestel. Dié gids is beskikbaar by: http://afrisake.co.za.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online