Warm hulp dié winter nodig PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 27 June 2017 03:51
Untitled Document

Met die onlangse vernietigende brande in Knysna, het die mense van ons gebied weer gewys hoe warm hulle harte vir hulle medemens in nood kan klop. Oral in die Bronberggebied is insamelingsaksies vir noodsaaklike lewensmiddele geloods en ons mense het in groot getalle ruimskoots bygedra om verligting in die rampgebied te bring.

Vragmotors is beskikbaar gestel en gewillige hande het gehelp om die goedere by die mense wat dit nodig het, te kry. En dit is mooi en goed en reg so.

In Engels is ‘n gesegde wat daarop neerkom dat welsyn en liefdadigheid by die huis begin. Die wyse ou Engelsman wat gestalte aan dié sêding gegee het, het besef dat hulpbehoewende mense in jou onmiddellike omgewing allereers jou hulp nodig het en dat jou nabyheid ‘n onmiddellike verskil kan maak.

Ons kontrei is geseën met ‘n hele aantal mense en organisasies wat deurlopend besig is om na die welsyn van mens en dier op ons voorstoep om te sien. Hulle verdien die ondersteuning van ons wat dié blygebied met hulle deel.  

Ongelukkig laat te veel van ons dié noodsaaklike verligtingswerk uitsluitlik aan ander oor. Baie van ons sal jare laat verbygaan sonder om met denke of daad iets te doen om die lewe van minderbevoorregtes of slagoffers van omstandighede in hulle nabye omgewing net ‘n bietjie draagliker te maak.

As ‘n groot ramp wat die verbeelding aangryp en waaroor die media wyd verslag doen egter elders gebeur, sal die einste mense dan eers bewys van hulle welsynharte lewer. En dit is jammer.

Met die winter in volle gang is die behoefte groot en elkeen se bydra, hoe gering ook al, is broodnodig.

Wat kan ek doen om ‘n verskil in my gebied te maak? Waar begin ek? Op bladsy 22 van hierdie uitgawe van die Bronnie sal jy moontlik ‘n paar antwoorde vind.

Ons het net enkele organisasies in verskillende streke van die Bronberg-gebied genoem waar jou bydra ‘n noodsaaklike verskil kan maak en jou deurlopende betrokkenheid baie waardeer sal word.

Liefdadigheid begin by die huis . . .

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online