Die lief en leed van Klipfontein se Van Stadens PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 29 May 2017 14:23
Untitled Document

Angie Kleijn

Vandag staan daar net murasies op Klipfontein, noord-wes van Pretoria. Die ou plaas word deur Soshanguve aan die een kant en Rosslyn aan die ander kant ingesluk en die verlate plaasbegraafplasie vertel die verhaal van ‘n gesin wat die Groot Trek deurgemaak het om hulle hier te kom vestig.

Daar is talle ongemerkte grafte en ‘n hele paar leiklip-grafstene wat meestal al vergaan het in die verwaarloosde begraafplaas. Die graniet-grafstene wat nog bestaan wys dat die mense wat hier lê Van Stadens was. Die rekords wat die Britte met die verskroeide aarde-beleid in die Engelse Oorlog gehou het, wys dat daar drie huise op dié plaas was.

Herman van Staden van Wapadrand is ‘n nasaat van dié mense en in ‘Kronieke van my Van Staden geslag’ verduidelik hy waar hulle vandaan gekom het en waarheen sy oupa en pa gegaan het toe hulle by Klipfontein weg is.


Jacobus Frederik van Staden, Herman se oupagrootjie

Hy vertel die verhaal van doofstom Nonnie, ‘n malaria-sterfte, ‘n 16-jarige seun wat reg in eie hande geneem het en in die Engelse Oorlog gaan deelneem het, van ‘n eerste troue op die ouderdom van 48, die verbranding van ‘n Bokryersbybel en die huis waar Pierneef skilderye teen die mure geverf het.

Die storie begin met ‘n baie klein seuntjie wat saam met sy ouers aan die Groot Trek deelgeneem het.

Marthinus Jacobus van Staden is op 14 April 1831 op Zoetendalsvalei in die Kaap gebore. Hy was die derde seun van Jacobus Frederik Van Staden en Margaretha Elizabeth, ‘n nooi Bezuidenhout.

Die gesin het aanvanklik tot op Potchefstroom getrek, maar Herman sê dit is nog ‘n raaisel hoe hulle daar gekom het en wat tussen Potchefstroom en Klipfontein gebeur het. Die seuntjie, Marthinus, het groot geword en met Adriana Albertina Prinsloo, die dogter van Joachim Prinsloo en Catharina van Rooyen getrou.


Herman se oupa se broer, Marthinus Jacobus van Staden, sy vrou Ellis Maria Sophia, ‘n nooi Joubert, en hulle kinders

Oupagrootjie
Hulle eerste kind, Herman se oupagrootjie, was ‘n seun genaamd Jacobus Frederik wat op
4 Augustus 1854 gebore is. Dié arme kind was maar net ‘n jaar oud toe sy ma op 22 September 1855 oorlede is. Sy was skaars 20 jaar oud en is waarskynlik met die geboorte van haar tweede kind, Susanna Elizabeth, oorlede.

Adriana Albertina is die eerste familielid wat op Klipfontein begrawe is.

Marthinus het weer getrou, dié keer met Wilhelmina Christina Pretorius, en hulle het twee seuns en drie dogters gehad: Petrus Johannes, Wilhelmina Christina, Anna Catharina Maria, Willem Wouter en Jacomina Hendrina Frederika.

Marthinus het nooit van Klipfontein weggetrek nie en hy is op 15 Desember 1898, knap voor die Engelse Oorlog uitgebreek het, in die ouderdom van 68 jaar oorlede en op Klipfontein begrawe. Sy grafsteen kon nie opgespoor word nie en Herman sê hy dink dat dit een van die ongemerkte grafte is.


Matthys Johannes (Thys) van Staden en Susanna Jacoba Scheepers op hulle troudag

Hermanstad
Herman se oupagrootjie, Jacobus Frederik, is op 22 Mei 1875 in Pretoria voor landdros W Skinner met Cecilia Jacoba Herman, getroud. Cecilia is op 22 November 1859 gebore as die dogter van Matthys Johannes Herman en Catharina Helena, ‘n nooi Klopper.

Haar pa Matthys, ‘n afstammeling van die 1820 Britse Setlaars, was die eienaar van die plaas Daspoort, een van die plase waarop Pretoria aangelê is. Die voorstede Daspoort, met die bekende Daspoort-tonnel, en Hermanstad, wat na dié familie vernoem is, was deel van dié plaas. Hulle plaashuis was die eerste huis in Pretoria wat wes van die Apiesrivier gebou is en was op die perseel waar PPC vandag is.

Jacobus en Cecilia het drie kinders gehad, Marthinus Jacobus wat op 8 Mei 1876 gebore is en Matthys Johannes, Herman se oupa, wat op 27 April 1883 in die Pretoria-distrik gebore is. Hulle enigste dogter, Adriana Albertina Prinsloo van Staden, was doofstom en is Nonnie genoem. Sy is op 19 Junie 1891, glo as ‘n normaal-horende kind gebore.


Die ou plaashuis in Pretoria se adres is vandag Breyerlaan 1473. Dit is die huis waarin Herman grootgeword het

Doofstom
Jacobus en sy gesin is aangeval toe Nonnie nog ’n pasgebore baba was. Hulle het voor die aanvallers uitgevlug en agter ’n waterval geskuil. Daarná het hulle agtergekom dat Nonnie doof is en het afgelei dat haar gehoorgebrek met die swem onderdeur die waterval te doen gehad het.

Nonnie is op 6 Junie 1911 met ’n doofstom man, Petrus Hendrik Lindeque, getroud. Hulle het mekaar by die skool vir dowes, ‘Het Doofstommen en Blinden Instituut – Worcester’ ontmoet. Petrus het as tuinier by die Uniegeboue gewerk en hy en Nonnie het ses kinders gehad waarvan nie een gehoorgestremd was nie.

Nonnie se ma, Cecilia, het malaria gekry en is op 10 Maart 1894 in die ouderdom van 34 jaar oorlede. Sy is op die Idalia spoorhalte op Phillip Beukes se plaas naby Piet Retief begrawe.

Jacobus het weer getrou. Dié keer met Gertruida Adriana Venter en hulle het net een kind gehad, Adriana Gerieta, gebore op 15 April 1896.


Herman van Staden en sy vrou Charmelle. Hy is die tweede oudste kind van Jacobus Frederik, wat Thys se oudste seun was

Swaziland
President Paul Kruger het Jacobus na Swaziland gestuur as hoof van die Swazi-polisie. Hy en sy gesin het in die destydse hoofstad van Swaziland, Bremersdorp (later Manzini) gewoon.

Die oorlogswolke was aan die opbou en alhoewel Jacobus deel was van die Swazilandse Kommando, het hy die Engelse Oorlog nooit meegemaak nie. Hy is op 1 November 1897 op 43-jarige ouderdom op Bremersdorp oorlede, blykbaar aan sy hart. Dit was ‘n jaar voor sy pa Marthinus se dood op Klipfontein.

Jacobus se weduwee Gertruida en dogter Adriana het later met ‘n Steyn en sy seun getrou. Pa en seun is altwee in 1918 in die griep-epidemie dood. Adriana het weer getrou, dié keer met ‘n Venter, en sy is in 1949 in die ouderdom van 52 jaar op Dewetsdorp oorlede.


Die Klipfonteinse graf van Jacobus F Van Staden, gebore 19 Januarie 1859, oorlede
30 Desember 1921
Foto’s: Herman van Staden

Die Klipfonteinse graf van Maria Jacoba Viljoen, gebore Van Staden, op 15 September 1867, oorlede 24 Oktober 1925
.

Thys
Jacobus en sy eerste vrou, Cecilia, se tweede seun, Matthys Johannes, Herman se oupa, is in Paul Kruger se kerk, die Gereformeerde Kerk in Kerkstraat, Pretoria, gedoop. Toe Thys drie jaar oud was, het hy by ’n watervoor gestruikel en met sy linkerhand op ’n klompie warm kole geval. Die hand was seker vreeslik seer en sy ma wou dit nie oop forseer nie en het dit in ’n toe vuis verbind. Thys se drie middel vingers het toe aan sy handpalm vasgegroei en hy kon nooit weer sy linkerhand oopmaak nie. Sy Zulu-naam was Goba Hlandla, wat gebuigde hand beteken.

Thys was maar 10 jaar oud toe sy ma dood is en 14 jaar oud toe sy pa dood is. Sy stiefma, Gertruida, het die twee broers, die doofstom Nonnie en die klein Adriana, wat skaars ‘n jaar oud was toe Jacobus dood is, so goed soos sy kon versorg.

Klein Thys het slegs standerd vier op skool behaal. Tog was hy later jare bekend daarvoor dat hy bedrae in ponde, sjielings en pennies maklik met hoofrekene kon bymekaar tel en die kleingeld kon bereken.

Ongemerkte grafte op Klipfontein

Oorlog
Thys was 16 jaar oud toe die Engelse Oorlog uitgebreek het. Die Swazilandse Kommando wou nie dat sulke jong seuns by hulle aansluit nie, maar Thys en ‘n paar maats van sy ouderdom het hulle nie so gou laat afskrik nie.

Hulle het besluit om reg in eie hande te neem en het na die plaaslike winkel, wat aan ’n Jood behoort het, gegaan en onder die krygswet proviand wat hulle sou nodig hê om na die front te vertrek, geëis.

Die winkeleienaar het eers geweier, maar nadat hulle gedreig het om die goedere met geweld af te vat, het hy ingestem en hulle laat teken by ’n lys van alles waarop hulle beslag gelê het. Sodoende kon hy dit weer van die ZAR-regering verhaal.

Die seuns het op Colenso aangekom en omdat hulle nie onder ’n kommando sorteer het nie, is hulle na kommandant-generaal Louis Botha geneem om uitgeplaas te word. Hulle taak was om die perde wat agter die rante versteek was op te pas.

Thys het glo geprotesteer en gesê dat hulle gekom het om te veg en nie om perde op te pas nie. Louis Botha het later toestemming gegee dat die seuns mag aanbly, solank hulle by die ou manne en offisiere bo-op die rant ingrawe en nie saam met die ander burgers laer af aan die voet van die rant skaar nie.


Thys is in Paul Kruger se kerk, die Kruiskerk van die Gereformeerde Gemeente in Kerkstraat,
Pretoria, gedoop
Foto: Wikipedia

Veldslag
Die Slag van Colenso het twee of drie dae geduur. Ná die Britse magte teruggetrek het, was daar aan die Britse kant 143 dooies, 755 gewond en sowat 240 vermis. Aan Boere-kant was agt dood, sowat 30 gewond en 10 van die Britte se 44 kanonne is gebuit.

Thys het later vertel dat hy talle kakies gesien het wat in sulke vlak grafte begrawe was dat van hulle ledemate nog bo die grond uitgesteek het.

Hy het die res van die oorlog deurgebring by ’n klein groepie burgers, onder leiding van generaal Kemp, wat verrassingsaanvalle op die Engelse gedoen het. Thys is deur die regter voorarm geskiet en het op ‘n plaas gaan wegkruip waar ‘n ou tannie hom behandel het. Ná sy herstel is hy terug om aan die skermutselings deel te neem.

Thys is nooit gevang nie en hy en sy kommando het eers meer as ‘n week ná die Vrede van Vereeniging onderteken is, die wapens neergelê.


’n Kaart van Klipfontein, noord-wes van Pretoria

Joiner
Ná die oorlog het Thys vir ’n joiner, Theuns Erasmus, wat teen die grens van Swaziland geboer het, gaan werk. Hy het vertel dat die joiners nie hulle grond en besittings in die oorlog verloor het nie en daarom meestal gegoede mense was.

Eendag het Thys glo ’n lammergeyer (baardaasvoël) in die veld teëgekom. Die ou mense het geglo dat dié voëls lammers vang, vandaar hulle naam. Hy het die voël met ’n sweep geslaan en met die terugruk, het hy die voël bo-op sy lyf geruk.

Die aasvoël het sy kloue in Thys se linker pols ingeslaan en hom ook aan die arm gebyt. Hy kon gou genoeg sy knipmes uitkry om die voël keelaf te sny. Die wonde het glo baie lank gevat om te genees en Thys het lewenslank lelike letsels op sy arm gehad.

Hy het later ‘n vee-inspekteur geword wat die distrik van Piet Retief tot by Pongola moes behartig.


Die slagveld van Colenso
Foto: Wikipedia

Trou
Thys het jare lank ’n oujongkêrel gebly en het eers toe hy 48 was vir die eerste keer getrou met Susanna Jacoba (Sannie) Scheepers, wat op ’n plekkie met die naam van Sulphur Springs as goewernante skoolgehou het. Thys en Sannie is op 8 Desember 1931 op Ermelo getroud.

Thys het ‘n plaas, Kommetjie, langs die Piet Retief-Pongola-pad gehuur, reg by die afdraai na Sulphur Springs. Daar is hulle eerste twee seuns gebore: Jacobus Frederik op 29 November 1932 en Christoffel Daniël op 22 Mei 1934.

Sannie se ouers, Christoffel Daniël Scheepers en Fransien Hanke, het ná ’n genesingsondervinding by die Apostoliese Geloofsending (AGS) aangesluit. Toe Thys en Sannie se oudste seun witseerkeel opgedoen het, is hy deur gebed genees en Thys het daar en dan sy Bokryersbybel, die handboek van die Vrymesselaarsbeweging, of Bokryers soos hulle ook genoem is, verbrand.

Thys het later ’n huis op ’n burgererf in Piet Retief gekoop en dit is daar waar hulle derde seun, ook Matthys Johannes, op 29 April 1939 gebore is. Hy is later verplaas en die gesin het na Chrissiesmeer getrek en het die plaas Witkop naby Piet Retief gekoop.

Daar was egter wrywing tussen Thys en die Engelse hoofde in die staatsdiens en hy het as vee-inspekteur bedank. Hy en sy swaer Gideon Scheepers het toe twee klein plasies naby Witrivier, genaamd Sandfort en Pardini, gekoop. Die boerdery was nie ’n groot sukses nie en na drie jaar het Thys die plase verkoop en na Witkop getrek.


Generaal Louis Botha by Colenso in Desember 1899
Foto: Wikipedia

Pretoria
Thys, Sannie en gesin het in 1949 sak en pak na Pretoria verhuis. Hulle het eers op sy broerskind, Jacobus Frederik van Staden, se grond op Derdepoort gewoon. Daarna het Thys sy eie stukkie grond naby Waverley, in die gebied wat vandag as Bergtuin bekend staan, gekoop.

Hier het hy ’n melkery bedryf tot die dag van sy dood. Hy is op 18 November 1954 in die ouderdom van 71 jaar aan maagkanker oorlede.

Ná dorpstigting is die pad na Thys se ou opstal Van Stadenstraat genoem. Die adres was aanvanklik Van Stadenstraat nommer een, maar dit het later nommer 81 geword. Nog later is die straatnaam na Bosloeriestraat verander.

Die ou plaashuis was ’n imposante opstal wat vroeër aan die skilder Pierneef behoort het. Hy het glo skilderye teen die kalkmure geverf, maar omdat die oppervlakte nie van sement was nie, het nie een van die skilderye of mure die toets van tyd deurstaan nie.

Die plaashuis is later deur Thys se oudste seun, Jacobus Frederik, herbou en is vandag op die hoek van Bosloeriestraat en Breyerlaan. Dit is die huis waarin Herman, skrywer van ‘Kronieke van my Van Staden geslag’, grootgeword het.

Hermanus Abraham van Staden is Jacobus Frederik se tweede oudste kind. Hy is getroud met Charmelle en hulle het twee volwasse kinders, Charmonique en Jacques.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online