Hoewebewoners sê nee vir 300 troetelvarke PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 29 May 2017 14:20
Untitled Document

Inwoners van Bashewa en Rietfontein skop teen die beplande skuif van ‘n dierereddingsinstansie, Pigs n Paws, met 300 varke en ‘n aantal honde na ‘n ekologies sensitiewe gebied tussen die Bronberg Bewarea en die Pienaarsrivier.

Gemeenskapsvergaderings is gehou, ‘n petisie is opgestel en ‘n prokureur is aangestel om die beplande skuif van die instansie, wat ‘n tuiste aan hawelose troetelvarke en honde bied, na die Bronberg-gebied teen te staan.

Pigs n Paws werk vanaf Anton Goosen se kleinhoewe, gedeelte 130 van die plaas Hennopsrivier 489 JQ, besit deur Liedjieboer Beleggings. Hulle beplan om te trek na gedeelte 20 van die plaas Rietfontein 395 JR, langs die Bronberg, wat behoort aan Tony Stathakis.

Inwoners vrees dat die vrylopende varke ‘n gesondheidsgevaar kan inhou en ‘n negatiewe invloed op eiendomspryse in die gebied kan hê.


‘n Varkkamp
Foto’s: Verskaf deur Piet van der Merwe

Danie Goosen, prokureur wat namens Rietfontein en Bashewa-inwoners optree, het in ‘n brief aan Tony Stathakis gevra dat die vestiging van so ‘n instansie op die eiendom met die nodige konsultasie en prosesse gepaard moet gaan en dat toestemming verleen moet word deur die toepaslike owerhede. Indien nie sal ‘n interdik verkry word om die proses te stop.

Danie skryf dat geen aansoek vir hersonering vir dié stuk grond geadverteer of ontvang is nie. Hy het gesê dat so ‘n aansoek teengestaan sal word omdat dit nie voldoen aan die Tshwane Stadsbeplanningskema of die Tshwane standaard verordeninge oor die aanhou van diere, voëls, pluimvee en troeteldiere nie en omdat dit ‘n gesondheidsrisiko inhou.

Marius Groenewald, een van Tony se direkte bure, het navraag by die Tshwane Metroraad gedoen en gevind dat die sonering vir gedeelte 20 landbou-onbepaald is. Toegelate gebruike op die grond sluit in boerdery-aktiwiteite soos marktuine, wildboerdery, boerdery met beeste, bokke, skape, bye, voëls, die kweek van plante, plantasies, akwakultuur, sampioen-produksie, bosbou en boorde.

Marius het gevind dat aktiwiteite wat nie op so ‘n stuk grond sonder permitte toegelaat word nie slagpale, voerkrale vir beeste, pluimvee- en varkboerdery en ‘n herberg vir diere insluit. Die aanhou van varke val onder landbounywerhede en spesiale hersonering word benodig. Herberge vir diere word gesien as besigheidsgebruik, waarvoor hersonering ook nodig is.


Die varke op Hennopsrivier

Marius het aan Tony geskryf dat die bure baie besorg is oor die impak wat Pig n Paws op die omgewing sal hê. Die eiendom is omring deur ten minste ses woonhuise binne ‘n 200 meter radius en klein kindertjies en troeteldiere speel reg langs die grond wat die instansie in varkkampe wil omskep.

Marius skryf dat die gemeenskap nooit geraadpleeg is nie; dat hulle verskeie kere gevra het om met alle betrokke partye te vergader, maar dat vergaderings gekanselleer is.

Volgens Marius is die eiendom 9,4 hektaar groot en die helfte daarvan is ‘n skuins rotsagtige helling, waar die diere maklik kan seerkry. Daar is net 4,5 hektaar geskikte grond beskikbaar, wat waarskynlik nie genoeg is om 300 varke te huisves nie. Pigs n Paws het vanaf 2007 tot 2017 gegroei tot 300 varke en Marius sê daar mag oor twee jaar dalk 600 varke wees.

Hy is ook besorg oor die feit dat die Rietfontein-plot vir die afgelope 10 jaar onbewoon was. In dié tyd is die huis gevandaliseer en elektriese kabels, boorgatpompe en watertenks is verwyder.


Pigs n Paws se varke en honde

Die Bronberger is in besit van twee klagtebriewe, geskryf deur mense van ander dierereddingsinstansies, wat beswaar maak teen die toestande waarin die varke en honde op die oomblik aangehou word.

Marius skryf dat hy dit wil duidelik maak dat die gemeenskap niks teen so ‘n reddingsentrum het nie, maar wil uitwys dat die stuk grond nie die regte een vir die doel is nie. Hy sê dat daar groot oop landbou-eiendomme teen redelike tariewe te huur is in Gauteng en dat hy bereid is om Pigs n Paws te help om die regte soort eiendom, van ten minste 20 hektaar groot, op te spoor.

“Ons mors waardevolle tyd, hulpbronne en geld, wat beter aangewend kan word om die lewens van hierdie diere te red en te verbeter,” sê Marius.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online