Dis die klein dingetjies . . . PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 29 May 2017 14:18
Untitled Document

Dis die klein dingetjies, sê Groot Piet-in-die-hoek, wat belangrik is en waarvoor ‘n ou moet dankbaar wees. Allen Prentjies mompel iets agter sy koerant uit wat amper klink soos: “Jou vrou is dan seker baie dankbaar . . .” Dit lyk of Piet gelukkig nie gehoor het nie of dalk nie verstaan het nie.

Laat hom dink aan sy ou vrind, oom Buks Barnard, sê Gert Mossie. Oom Buks meen dis baie maklik om ‘n oumens gelukkig te maak. Klein dingetjies maak hom gelukkig. Hy wat oom Buks is, voel byvoorbeeld baie gelukkig as hy sy bril kry terwyl hy nog onthou waarvoor hy die bril nodig gehad het toe hy in die eerste plek daarna begin soek het.

Einste oom Buks sê anderdag dat ‘n man met ‘n postuur soos syne eintlik ‘n kaftan behoort te dra, maar hy wonder net of ‘n mens  kortbroek-kaftans kry?

Hy verlang verskriklik baie na sy kortbroek-safariepak, sê Groot Piet. Nou laasweek, toe die sonnetjie ‘n slag mooi skyn, soek hy tevergeefs na sy groen safariepakkie in sy kas.

Tot sy erge ontsteltenis moes hy later hoor dat sy vrou die pakkie per ongelukkig saam met ‘n rooi handdoek gewas het en toe kom dit skoon en helderpienk uit die masjien uit. Die vrou het dit goedgedink om maar daarvan vloerlappe te maak, want sy onthou dat Groot Piet selfs geweier het om ‘n Bulletrui te dra toe dit destyds pienk was.

Het julle gehoor, vra Gert Mossie, dat ou Sarel se vrou hom gelos het? Hy kry ou Sarel mos in daai kuierplek naby sy plotplek en toe vertel ou Sarel hom dat sy vrou gister saam met sy beste vriend, Mike, weggeloop het, sê Gert.

“Van wanneer af is Mike ou Sarel se beste vriend?” wil Allen Prentjies weet. Presies net wat hy daar in die kuierplek gevra het, sê Gert Mossie, en toe sê ou Sarel so ewe: “Van gister af.”

Ja, dis nogal ‘n ding, sê Groot Piet. Trou is nie karkoop of aldag ‘n uitstappie in die park nie.

Noudiedag vra sy seun, Kleinpiet, hom: “Pa, hoeveel kos dit om te trou, Pa?” Hy moes toe in alle eerlikheid maar antwoord: “Ek weet regtig nie my seun, ek betaal nog.”

Hy is werklik baie dankbaar oor een klein dingetjie, sê Gert Mossie. En dit is oor die ouens in die kuierplek nie vandag rugby praat nie. “Rakbie is g’n ‘n klein dingetjie nie,” snork Groot Piet vies uit sy hoek. Ja, anders as die totale aantal punte wat die Bulle in vanjaar se Soeperrugby kon aanteken. Nou, daar is vir jou ‘n baie klein dingetjie waaroor hy glad nie dankbaar, of gelukkig is nie, sê Gert.

Hy dink die ou gesegde wat dit aanbeveel dat ‘n ou moet ‘leef en laat leef’, is ‘n klein dingetjie met groot waarheid om ‘n mens gelukkig te maak, raak Groot Piet skielik diep kwyt.

Laat hom dink aan oom Altie wat destyds hier op sy Mooiplaatsplot ‘n lap aarbeie ingeboet het, sê Gert Mossie. Dit was ‘n mooi voorbeeld van leef en laat leef, sê Gert. Oom Altie het die lap aarbeie met ‘n deurlooppaadjie mooi eweredig in twee verdeel. Links het hy ‘n bord opgesit waarop hy geskryf het: “Vir voëls, muise en vlakhase.” Regs het hy ‘n kennisgewing opgesit waarop groot gestaan het: “Myne!”

Maar oom Altie, vra Gert toe, die voëls en die muise en goed kan mos nie lees nie. “Dit maak nie eintlik saak nie,” sê oom Altie. “Elke keer as hulle van myne vreet, dan gaan pluk ek een van hulle s’n.”

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online