Cullinan inwoners soek antwoorde oor munisipale rekenings PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 23 February 2009 19:16
Untitled Document

Die Cullinan inwonersvereniging raak nou warm onder die kraag omdat hulle geen antwoorde oor eiendomsevaluasies en rekenings uit Nokeng Tsa Taemane plaaslike munisipaliteit kry nie.

Dié vereniging is juis gestig nadat inwoners maande lank gesukkel het om antwoorde by Nokeng Tsa Taemane te kry oor dié munisipaliteit se eiendomsevaluasies en gepaardgaande nuwe tariewe.

Volgens David Wyche, voorsitter van die inwonersvereniging, het hulle dispute met die munisipaliteit oor die evaluasies, soos gepubliseer in die 08/09 munisipale begroting, geregistreer. Daar is geen terugvoer ontvang nie.


Cullinan se geskiedkundige ou kliphuise

Hulle het ook geen antwoord ontvang oor hul verskeie klagtes oor inkorrekte en laat rekenings wat uitgestuur word aan inwoners nie. Volgens David Wyche het die feit dat sekere rekenings nie afgelewer word nie, waarskynlik ’n groot impak op die munisipaliteit se kontantvloei en finansiële verpligtinge.

In ’n brief aan die munisipaliteit vra hy of die Cullinan Inwonersvereniging mag weet hoe die munisipaliteit se oortrokke rekening die afgelope ses maande lyk. Hy wil ook weet hoe die geskiedenis van betaling aan krediteure, soos Eskom, Magalies-Waterraad en die Premier Myn, oor die afgelope ses maande lyk.

Die inwonersvereniging sê dat hulle graag die munisipaliteit se 2007/08 jaarverslag sal wil sien om ’n aanduiding te kry van die munisipaliteit se effektiwiteit. Dit lyk nie of die kanse om so iets te sien groot is nie. Die jaarverslag vir 06/07 is nooit gepubliseer nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger