Kanniedood se kroos soek huis PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 29 May 2017 14:14
Untitled Document

Carina Kotze is ’n diereliefhebber van Mooiplaats, wat op soek is na goeie huise vir reddingshondjies waarvoor sy die afgelope vier maande pleegma speel. Carina verduidelik hier in haar eie woorde waar dié hondjies vandaan kom.

Ek behoort aan ’n whatsapp groep en in Januarie het daar ’n versoek deurgekom van Pretoria Dog Rescue, wat dringend op soek was na ’n pleegouer vir ’n teef en haar kleintjies. Ek het nog nooit so iets gedoen nie, want ek raak te emosioneel betrokke maar die keer het die teef en haar elf kleintjies by my beland.  

Sy is in Voortrekkerhoogte in ’n veld gevang. Die reddingsmense was bewus van haar, maar kon haar nooit gevang kry nie. Sy was te wild. Iemand by perdestalle daar naby het babahondjies hoor huil en die reddingsmense gebel. Hulle het vier hondjies opgespoor, maar geen teken van die ma nie.

Hulle is die volgende dag terug en daar was toe net drie kleintjies oor. Hulle vat toe die drie kleintjies en het orals gesoek, maar geen teken van die ander kleintjie of ma gesien nie. Die een vrou was bekommerd oor die vierde kleintjie en hulle is toe weer terug. Sy sê dit was net genade en geluk wat haar na ’n gat onder ’n boom en baie digte bosse gelei het. Tot haar groot verbasing, vind sy die vierde outjie en nog sewe kleintjies in die gat.  


Lucy, die ma

Hulle het die ma met ’n groot gesukkel in ’n lus gevang. Sy het blykbaar baie gespartel, maar toe hulle haar by haar kleintjies sit, het sy kalmeer. En so het Lucy en haar elf kleintjies by my beland. 

Lucy het ’n baie harde en wrede lewe gehad. Hulle vermoed sy is met ’n panga geslaan. Die een kant van haar kop was oopgekap. Die wond het op sy eie gesond geword, maar die oog was net so ’n hol kol wat gesweer het. Hulle het haar geopereer en die beskadigde oog verwyder.  

Die veearts sê die oogbank was vergruis en sy moes stukkies been oral uit die skedel afskraap. Haar kakebeen en tande is ook skeef, vermoedelik vroeër deur ’n skop of harde hou gebreek. Dit lyk of haar een voet se tone gebreek was.  

Jy kon nie naby Lucy kom of aan haar vat nie. Jy moes haar in ’n hoek vasdruk en ’n lus oor haar kop sit. As sy egter eers gevang is, was sy heeltemal onderdanig. Lucy is nou so liefdevol en geniet die aandag. Haar stert swaai heeltyd en sy ‘praat’ met my. Sy het ’n dierbare sagte geaardheid.

Lucy is ’n uitstekende ma en het die eerste twee maande hier steeds haar kos in die hoek van die erf gaan opbring sodat haar kleintjies dit ook kan eet. Lucy en haar elf kleintjies is nou al amper vier maande by my. Ek kan dit ongelukkig nie meer bekostig nie. Die kleintjies is amper vyf maande oud en verdien goeie, liefdevolle huise.


Van die hondjies wat huise soek

Hulle is medium-grootte honde, goed gesosialiseer en nog jonk genoeg om aan te pas by enige omstandighede, soos by ‘n kat. Hulle is wakker en slim. Ek het twee aangeneem en twee ander het huise gekry. Daar is drie tewe en vier reuns oor. 

Pretoria Dog Rescue vra R850 aannemings fooi, wat die eerste twee inentings, hondsdolheid-inenting, ontwurming, mikroskyfie en kastrasie/sterilisasie insluit. Ek het drie veeartse gekontak vir ’n kwotasie op bogenoemde en die goedkoopste waarvoor ek dit alles kon kry is R2 300.  

Mense kan hier in Mooiplaats, naby die Boschkop-polisiestasie na die hondjies kom kyk en dan kan Pretoria Dog Rescue die papierwerk doen. Bel my by 083-293-0106.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online