Dikkop is doenig in die donker Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 29 May 2017 16:12
Untitled Document

Een van ons kontrei se bekende naggeluide is die fluitroep van ‘n dikkop. Dié kierts-regop grondvoël het besondere groot oë waarmee hy prooi in die nag kan sien. Sy sambreelagtige ooglede beskerm hom teen skerp sonlig wanneer hy in die dag rus.

Die gewone dikkop, Burhinus capensis, herinner ‘n mens aan ‘n kiewiet, maar een met ‘n groter kop.


Die gewone dikkop
Foto: Wikipedia

Hy is ‘n medium-grootte, bruin gevlekte grondvoël met geel oë. Hy is 38–44 cm lank, wat omtrent twee keer so groot soos ‘n duif is, en hy weeg omtrent 450 gram. Die geslagte lyk eners en die onvolwassenes se rugkant is meer gestreep as dié van volwasse voëls. Hulle het ’n vlerkspan van 80 cm.

Die gewone dikkop word gereeld met die waterdikkop verwar, maar hy is groter en donkerder as die waterdikkop, met opvallende swart-bruin kolle op sy rug en vlerke en hy het ’n wit onderkant.

Jy kan hom ook van die waterdikkop onderskei deurdat hy nie ‘n dwarsstreep of paneel bo-op die vlerk het nie. In vlug kan ‘n mens twee wit vlekkies op elke bo-vlerk sien.


Die wyfie lê twee eiers wat na 24 dae uitbroei
Foto: Rietvlei Natuurreservaat

Die waterdikkop het ‘n groter snawel omdat hy hoofsaaklik randwaterspesies, soos krappe en paddas, vreet.

Die gewone dikkop het ‘n wit wenkbrou, ‘n snorstreep en ken. Sy bene en voete is geel en sy snawel is reguit, kort en nogal sterk. Die basis van sy snawel is geel en die punt is swart.

Die dikkop jag op die grond en vreet meestal kleiner prooi in die vorm van insekte soos termiete en wurms, maar sal ook akkedisse en klein soogdiere vreet.


Moenie naby aan my nes kom nie!
Foto: Ronnie

Dié voëls se gevlekte merke help om hulle te kamoefleer terwyl hulle op die grond broei. Dikkoppe begin einde Augustus broei en kan tot vier keer in een seisoen broei. Die nessie word met klein klippies, kluite of droë plante gekamoefleer.

Die wyfie lê twee eiers, wat na 24 dae uitbroei. Die mannetjie en wyfie maak die kuikens saam groot en altwee dra kos aan. Die kleintjies verlaat die nes ná vyf tot ses weke.

 

© 2024 Die/The Bronberger