Witwarm vuurwater op Willem se werf PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 29 May 2017 14:07
Untitled Document

Die jaarlikse Mampoerfees is op Saterdag 3 Junie by die Willem Prinsloo Landboumuseum. Dié fees is ‘n hoogtepunt op die museum en die Kultuurstokersgilde van Suid-Afrika se jaarkalender.

Distilleerders wat aan die Kultuurstokersgilde behoort kom van dwarsoor die land om aan die nasionale kampioenskappe deel te neem. Beoordeling geskied volgens die nasionale erkende reëls.

Likeurs met ’n witblitsbasis, wat gewoonlik ’n alkoholinhoud van ongeveer 23% het, word ook beoordeel. Elke distilleerder het sy eie spesialiteitlikeur en daar word met vrugte en geure soos anys, peperment, koffie en sjokolade geëksperimenteer. Roomlikeure word ook gemaak.


Mampoer, witblits en likeurs word per bottel verkoop

Feesgangers kan meer leer oor die medisinale waarde van mampoer: suiwer mampoer gemeng met kruie help vir griep, verkoue en koors. As smeermiddel is mampoer goed vir spatare. Meng mampoer met kaneel, naeltjies en neutmuskaat en jy het ’n uitstekende tonikum.

Mampoer, witblits en likeurs word by die fees per sopie geproe en per bottel verkoop en daar gaan demonstrasies van tradisionele mampoerstook wees en uitstallings en demonstrasies van veteraantrekkers en -motors.


Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Manie Jackson is die gaskunstenaar

Vanjaar se gaskunstenaar is Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Manie Jackson. ATKV Centurion Sangersforum gaan optree en pretkompetisies, soos aartappelskil en rissie-eet, aanbied. Boeresport word deur die Handhawerjeug gereël.

Besoekers kan ontspan in die biertuin, rondloop tussen die vlooimark- en koskraampies en pap en kaiings, gemmerbier en tradisionele soetkoekies by die ou plaashuis geniet.


Mampoer word per sopie geproe

By die Ou Werf is daar begeleide toere deur die 1880-huis; demonstrasies van tradisionele werfaktiwiteite soos kersemaak, en tuisgebakte brood uit die bakoond met plaasbotter en konfyt.

Die Willem Prinsloo Landboumuseum kan bereik word vanaf die Pretoria-Witbank-snelweg (N4), afrit 27 na Rayton en Cullinan, langs die ou Bronkhorstspruitpad (R104). Vir meer inligting, skakel die museum by 012-736-2035/6, 012-731-1044 of 076-054-5229. Vir besonderhede oor vlooimark-kraampies, skakel 082-551-3061

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online