Erfenis-owerheid gee groen lig vir pad PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 29 May 2017 14:05
Untitled Document

Die verlenging van die K14-provinsiale roete in Cullinan het die groen lig gekry van die Gautengse Provinsiale Erfenishulpbron-owerheid. Mense kon tot 18 Mei teen dié besluit appelleer.

In Augustus 2015 het ons berig dat Cullinan se toegangspad, wat verby die myn se oop put geloop het, toegemaak is omdat die afstand tussen die pad en die myn se oop put al hoe kleiner geword het en die pad ná grondstortings nie meer veilig was nie.

‘n Tydelike verbypad, ‘n grondpad van 1.9 km, herlei verkeer vanaf die R513 (Zambeziweg-verlenging) tot by Zonderwaterweg-wes, vanwaar dit verkeer na die Rayton-pad neem. Die pad sal in gebruik wees tot konstruksie aan ’n nuwe pad, die K14, wat aan Oudorp se suidekant gaan verby loop, klaar is.

‘n Servituut vir dié pad is reeds in die 1960/70’s in die ou PWV Roetebeplanning vir die Witwatersrand vasgelê en geregistreer. Die basiese roete is in 1978 goedgekeur.


Die groen roete, links op die foto, is die bestaande K14 (Zambeziweg-verlenging); die rooi roete is die voorgestelde K14-uitbreiding verby Cullinan se Oudorp; en die blou roete is die voorgestelde herleiding van Zonderwaterweg

JG Afrika Ingenieurs en Omgewingskonsultante tree op as die onafhanklike omgewingspraktisyns wat die omgewingsmagtigingsproses vir dié K14-padprojek doen. Vroeër vanjaar het hulle die konsep basiese evalueringsverslag vir die projek bekendgestel.

JG Afrika het belanghebbende partye vroeg in Mei laat weet dat die erfenis-impakbepalingskomitee met die verslag se inhoud saamstem en dat ontwikkeling op sekere voorwaardes kan voortgaan. Die ontwikkelaar van die pad moet hou by alle voorstelle van die erfeniskonsultant.

Enige grafte, argeologiese of paleontologiese sake moet egter aan die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap gerig word.

Die Gautengse Provinsiale Erfenishulpbron Owerheid het laat weet dat hulle goedkeuring vir twee jaar geldig is. Dié goedkeuring vrywaar die ontwikkelaar van die pad nie van die verkryging van ander owerhede se goedkeurings nie.

Vir meer inligting, praat met JG Afrika se Kirthi Peramaul by tel: 011-231-2200; faks: 011-807-1607 of e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online